Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK VYF

“’n Voortreflike vrou”

“’n Voortreflike vrou”

1, 2. (a) Met watter soort werk was Rut besig? (b) Omtrent watter positiewe aspekte van God se Wet en sy volk het Rut geleer?

RUT het op haar knieë gesit langs die hoop garsgerwe wat sy gedurende die dag bymekaargemaak het. Skemer het oor die landerye om Betlehem begin daal, en baie werkers was reeds op pad na die poort van die klein stad bo-op ’n nabygeleë bergrug. Rut se spiere was ongetwyfeld seer, want sy het al van die oggend af hard gewerk. Maar sy was nog nie klaar nie; sy het die gerwe met ’n dorsstok geslaan om die graankorrels los te maak. Dit was ’n goeie dag—beter as wat sy ooit kon gehoop het.

2 Het die gety uiteindelik vir hierdie jong weduwee begin draai? Soos ons in die vorige hoofstuk gesien het, het sy haar aan haar skoonmoeder, Naomi, verbind en plegtig belowe om by haar te bly en om Naomi se God, Jehovah, haar God te maak. Saam het die twee bedroefde vroue van Moab na Betlehem gekom, en Rut, die Moabitiese vrou, het gou uitgevind dat Jehovah se Wet praktiese, waardige voorsienings vir die armes in Israel, insluitende uitlanders, gemaak het. En nou het sy gevind dat die geestelikheid en goedhartigheid van party van Jehovah se knegte, wat onder die Wet was en daardeur opgelei is, haar gewonde hart vertroos het.

3, 4. (a) Hoe het Boas Rut aangemoedig? (b) Hoe kan Rut se voorbeeld ons in vandag se moeilike ekonomiese tye help?

3 Een van hierdie persone was Boas, die ryk, bejaarde man op wie se landerye sy oesoorblyfsels ingesamel het. Hy het vandag vaderlike belangstelling in haar getoon. Sy kon nie anders as om by haarself te glimlag toe sy dink aan sy goedhartige woorde van lof omdat sy vir Naomi sorg en omdat sy besluit het om onder die vleuels van die ware God, Jehovah, toevlug te soek nie.—Lees Rut 2:11-14.

4 Nogtans het Rut moontlik gewonder oor haar toekomsvooruitsigte. Hoe sou sy, ’n arm uitlander sonder ’n man of kinders, vir haarself en Naomi sorg in die jare wat voorlê? Sou sy in hulle behoeftes kon voorsien deur oesoorblyfsels in te samel? En wie sou vir haar sorg wanneer sy oud word? Dit sou verstaanbaar wees as sulke bekommernisse op haar gemoed gedruk het. In vandag se moeilike ekonomiese tye worstel baie met soortgelyke sorge. Terwyl ons leer hoe Rut se geloof haar gehelp het om hierdie uitdagings die hoof te bied, sal ons heelwat vind om na te volg.

Wanneer is ’n gesin werklik ’n gesin?

5, 6. (a) Hoe suksesvol was Rut se eerste dag toe sy oesoorblyfsels in Boas se landerye gaan insamel het? (b) Hoe het Naomi gereageer toe sy Rut sien?

5 Teen die tyd dat Rut al die are uitgeslaan en die graankorrels bymekaargemaak het, het sy ongeveer ’n efa, of 22 liter, gars gehad. Haar vrag het moontlik sowat 14 kilogram geweeg! Sy het dit dalk in ’n lap toegedraai, dit op haar kop gesit en in die skemer na Betlehem teruggeloop.—Rut 2:17.

6 Naomi was bly om haar dierbare skoondogter te sien, en dalk het sy gesnak van verbasing toe sy Rut se swaar vrag gars sien. Rut het ook kos saamgebring wat oorgebly het van die ete wat Boas aan die werkers voorsien het, en die twee het toe ’n eenvoudige ete saam geniet. Naomi het gevra: “Waar het jy vandag are opgetel, en waar het jy gewerk? Mag die een wat belangstelling in jou getoon het, geseënd wees” (Rut 2:19). Naomi was oplettend; sy kon aan Rut se swaar vrag sien dat iemand belangstelling in die jong weduwee getoon het en haar goedhartig behandel het.

7, 8. (a) Hoe het Naomi Boas se goedhartigheid beskou, en waarom? (b) Hoe het Rut verder lojale liefde teenoor haar skoonmoeder betoon?

7 Die twee het begin gesels, en Rut het vir Naomi van Boas se goedhartigheid vertel. Dit het Naomi diep geraak, en sy het gesê: “Mag hy geseënd wees deur Jehovah, wat sy liefderyke goedhartigheid teenoor die lewendes en die dooies nie nagelaat het nie” (Rut 2:20). Sy het Boas se goedhartigheid beskou as goedhartigheid van Jehovah, wat sy knegte beweeg om vrygewig te wees en belowe om sy volk vir hulle goedhartigheid te beloon. *Lees Spreuke 19:17.

8 Naomi het Rut aangespoor om Boas se aanbod te aanvaar om net in sy landerye oesoorblyfsels in te samel en om naby die jong vroue van sy huishouding te bly sodat sy nie deur die snyers lastig geval sou word nie. Rut het na daardie raad geluister. Sy het ook ‘by haar skoonmoeder bly woon’ (Rut 2:22, 23). In hierdie woorde sien ons weer eens haar vernaamste eienskap—lojale liefde. Na aanleiding van Rut se voorbeeld kan ons ons afvra of ons gesinsbande as iets kosbaars beskou en of ons ons geliefdes lojaal ondersteun en aan hulle hulp verleen wanneer hulle dit nodig het. Sulke lojale liefde gaan nooit ongemerk by Jehovah verby nie.

Die voorbeelde van Rut en Naomi herinner ons daaraan om die gesin wat ons het, te waardeer

9. Wat kan ons by Rut en Naomi oor ’n gesin leer?

9 Was Rut en Naomi werklik ’n volwaardige gesin? Party neem aan dat ’n groep mense alleenlik ’n gesin is as daar iemand vir elke rol is—man, vrou, seun, dogter, grootouers, ensovoorts. Maar die voorbeelde van Rut en Naomi herinner ons daaraan dat knegte van Jehovah hulle harte kan oopmaak en selfs die kleinste gesin met warmte, goedhartigheid en liefde kan laat gloei. Waardeer jy jou gesin? Jesus het sy volgelinge daaraan herinner dat die Christengemeente ’n gesin kan wees selfs vir diegene wat geen gesinslede het nie.—Mark. 10:29, 30.

Rut en Naomi het mekaar gehelp en aangemoedig

“Hy is een van ons terugkopers”

10. In watter opsig wou Naomi Rut help?

10 Vanaf die garsoes in April tot die koringoes in Junie het Rut voortgegaan om oesoorblyfsels in Boas se landerye in te samel. Met verloop van die weke het Naomi ongetwyfeld aangehou dink aan wat sy vir haar geliefde skoondogter kon doen. Toe hulle nog in Moab was, was Naomi daarvan oortuig dat sy Rut nooit sou kon help om weer ’n man te vind nie (Rut 1:11-13). Maar nou het sy van gedagte begin verander. Sy het Rut gevra: “My dogter, behoort ek nie vir jou ’n rusplek te soek . . . nie?” (Rut 3:1). Destyds was dit die gebruik dat ouers ’n huweliksmaat vir hulle kinders vind, en Rut het ’n ware dogter vir Naomi geword. Sy wou vir Rut “’n rusplek” vind—waarmee sy verwys het na die sekuriteit en beskerming wat ’n huis en ’n man kon voorsien. Maar wat kon Naomi doen?

11, 12. (a) Na watter liefdevolle voorsiening van God se Wet het Naomi verwys toe sy Boas ’n ‘terugkoper’ genoem het? (b) Hoe het Rut op haar skoonmoeder se raad gereageer?

11 Toe Rut die eerste keer van Boas gepraat het, het Naomi gesê: “Die man is aan ons verwant. Hy is een van ons terugkopers” (Rut 2:20). Wat het dit beteken? God se Wet aan Israel het liefdevolle voorsienings ingesluit vir gesinne wat swaargekry het weens armoede of die dood van ’n geliefde. As ’n vrou ’n weduwee geword het terwyl sy nog kinderloos was, was dit vir haar baie tragies, want haar man se naam, sy toekomstige geslagslyn, sou afgesny word. Maar God se Wet het die man se broer toegelaat om met die weduwee te trou sodat sy geboorte kon skenk aan ’n erfgenaam wat haar oorlede man se naam kon laat voortbestaan en na die familie-eiendom kon omsien. *Deut. 25:5-7.

12 Naomi het ’n plan van aksie aan Rut voorgelê. Ons kan ons voorstel hoe die jong vrou se oë al hoe groter word terwyl haar skoonmoeder praat. Israel se Wet was nog nuut vir Rut, en baie van die gebruike was vir haar nog redelik vreemd. Maar sy het soveel agting vir Naomi gehad dat sy aandagtig na elke woord geluister het. Naomi se voorstel het dalk vir haar vreemd geklink, of miskien het sy gedink dat dit haar in die verleentheid sou stel—of selfs sou verneder—maar tog het sy ingestem. Sy het nederig gesê: “Alles wat u vir my sê, sal ek doen.”—Rut 3:5.

13. Wat kan ons by Rut leer oor die raad van ouer persone? (Sien ook Job 12:12.)

13 Soms is dit vir jongmense moeilik om na die raad van ouer of meer ervare persone te luister. Dit is maklik om te dink dat ouer persone nie werklik jongmense se uitdagings en probleme verstaan nie. Rut se nederige voorbeeld herinner ons daaraan dat dit baie voordelig kan wees om na die wyse raad van ouer persone te luister wat ons liefhet en ons belange op die hart dra. (Lees Psalm 71:17, 18.) Maar wat was Naomi se raad, en het dit Rut werklik tot voordeel gestrek toe sy daarop ag geslaan het?

Rut by die dorsvloer

14. Wat was ’n dorsvloer, en hoe is dit gebruik?

14 Daardie aand het Rut na die dorsvloer gegaan—’n plat, harde oppervlak waarheen ’n aantal boere hulle graan geneem het om dit te dors en te wan. Die dorsvloer was gewoonlik op ’n heuwelhang of heuweltop, waar daar in die laatmiddag en vroegaand ’n sterk bries was. Om die graankorrels van die kaf en strooi te skei, het werkers die graan met groot vurke of skopgrawe teen die wind in die lug gegooi sodat die ligter kaf weggewaai het en die swaarder graankorrels op die dorsvloer geval het.

15, 16. (a) Beskryf die toneel by die dorsvloer toe Boas klaar gewerk het vir die aand. (b) Hoe het Boas ontdek dat Rut by sy voete lê?

15 Rut het stilweg toegekyk terwyl die dag se werk einde se kant toe gestaan het. Boas het toesig gehou oor die uitwanning van sy graan, waarvan daar uiteindelik ’n groot hoop was. Nadat hy lustig geëet het, het hy aan die een kant van die hoop gaan lê. Dit was klaarblyklik ’n algemene gebruik, dalk om die kosbare oes teen diewe en plunderaars te beskerm. Rut het Boas aan die slaap sien raak. Die tyd het aangebreek om Naomi se plan uit te voer.

16 Rut het stilletjies nader beweeg terwyl haar hart in haar keel klop. Sy kon sien dat die man vas aan die slaap is. Sy het dus na sy voete gegaan, dit oopgemaak en daar gaan lê, net soos Naomi vir haar gesê het. Toe het sy gewag. Tyd het verbygegaan. Vir Rut moes dit soos ’n ewigheid gevoel het. Uiteindelik, omstreeks middernag, het Boas wakker geword. Bewend van die koue het hy vooroor gebuig, waarskynlik om sy voete weer toe te maak. Maar toe het hy iemand opgemerk. Die verslag sê: “Kyk! daar het ’n vrou by sy voete gelê!”—Rut 3:8.

17. Watter twee eenvoudige feite word oor die hoof gesien deur diegene wat te kenne gee dat Rut se optrede onvanpas was?

17 “Wie is jy?” het hy gevra. Rut het geantwoord, dalk met ’n bewing in haar stem: “Ek is Rut, u slavin, en u moet die slip van u kleed oor u slavin uitsprei, want u is ’n terugkoper” (Rut 3:9). Party hedendaagse interpreteerders het te kenne gegee dat daar seksuele bedoelings in Rut se optrede en woorde was, maar hulle sien twee eenvoudige feite oor die hoof. Eerstens, Rut het volgens die destydse gebruike opgetree, waarvan talle lank reeds vergete is. Dit sou dus ’n fout wees om haar optrede volgens vandag se verdorwe sedelike standaarde te beoordeel. Tweedens, Boas se reaksie toon duidelik dat hy Rut se gedrag as sedelik kuis en uiters prysenswaardig beskou het.

Rut het Boas met suiwer en onselfsugtige beweegredes genader

18. Wat het Boas gesê om Rut gerus te stel, en na watter twee gevalle van haar liefderyke goedhartigheid het hy verwys?

18 Boas het met Rut gepraat, en sy sagte, strelende stemtoon het haar ongetwyfeld gerusgestel. Hy het gesê: “Mag jy geseënd wees deur Jehovah, my dogter. Jy het jou liefderyke goedhartigheid in die laaste geval nog beter getoon as in die eerste geval, deur nie agter die jong manne, hetsy arm of ryk, aan te loop nie” (Rut 3:10). “Die eerste geval” het verwys na die lojale liefde wat Rut betoon het deur saam met Naomi na Israel te kom en vir haar te sorg. “Die laaste geval” was die huidige situasie. Boas het gesê dat ’n jong vrou soos Rut maklik ’n huweliksmaat onder veel jonger mans, hetsy ryk of arm, kon gesoek het. Sy wou egter nie net goed doen aan Naomi nie, maar ook aan Naomi se oorlede man—sy wou die dooie man se naam in sy tuisland laat voortbestaan. Dit is nie moeilik om te sien waarom Boas deur hierdie jong vrou se onselfsugtigheid beïndruk is nie.

19, 20. (a) Waarom het Boas nie dadelik met Rut getrou nie? (b) In watter opsigte het Boas goedhartigheid en sensitiwiteit teenoor Rut en haar reputasie getoon?

19 Boas het verder gesê: “En nou, my dogter, moenie bang wees nie. Alles wat jy sê, sal ek vir jou doen, want almal in die poort van my volk weet dat jy ’n voortreflike vrou is” (Rut 3:11). Hy was bly oor die vooruitsig om met Rut te trou; dalk was hy nie heeltemal verbaas dat hy gevra is om haar terugkoper te wees nie. Maar Boas was ’n regverdige man, en hy was nie van plan om bloot op grond van sy voorkeure op te tree nie. Hy het vir Rut gesê dat daar ’n ander terugkoper is, wat nader verwant is aan die familie van Naomi se oorlede man. Boas sou eers daardie man nader en hom die geleentheid gee om Rut se man te word.

Rut het ’n voortreflike reputasie verwerf omdat sy ander met goedhartigheid en respek behandel het

20 Boas het Rut aangespoor om weer te gaan lê en te rus totdat dit amper oggend is; dan kon sy ongemerk wegglip. Hy wou haar reputasie sowel as sy eie beskerm, aangesien mense dalk verkeerdelik sou aanneem dat iets onsedeliks plaasgevind het. Rut het weer naby die man se voete gaan lê, miskien nou meer gerus nadat hy so vriendelik op haar versoek gereageer het. Toe, terwyl dit nog donker was, het sy opgestaan. Boas het ’n groot hoeveelheid gars in haar mantel gesit, waarna sy na Betlehem teruggegaan het.—Lees Rut 3:13-15.

21. Wat het daartoe bygedra dat Rut as “’n voortreflike vrou” bekend gestaan het, en hoe kan ons haar voorbeeld volg?

21 Hoe bevredigend moes dit tog vir Rut gewees het om te dink aan wat Boas vir haar gesê het—dat sy onder al die mense as “’n voortreflike vrou” bekend gestaan het! Haar gretigheid om Jehovah te leer ken en hom te dien, het ongetwyfeld baie tot hierdie reputasie bygedra. Sy het ook groot goedhartigheid en sensitiwiteit teenoor Naomi en haar volk getoon deur bereid te wees om by gewoontes en gebruike aan te pas wat sekerlik vir haar vreemd was. As ons Rut se geloof navolg, sal ons daarna streef om respek te toon vir ander en hulle gewoontes en gebruike. As ons dit doen, sal ons moontlik ook ’n reputasie vir voortreflikheid opbou.

’n Rusplek vir Rut

22, 23. (a) Wat het die geskenk wat Boas vir Rut gegee het, moontlik beteken? (Sien ook die voetnoot.) (b) Wat het Naomi Rut aangespoor om te doen?

22 “Wie is jy, my dogter?” het Naomi gesê toe Rut by die huis kom. Miskien het sy die vraag gevra omdat dit nog donker was, maar Naomi wou ook weet of Rut nog steeds ’n ongebonde weduwee was en of sy nou vooruitsigte op ’n huwelik gehad het. Rut het dadelik vir haar skoonmoeder alles vertel wat tussen haar en Boas gebeur het. Sy het ook vir haar die vrygewige geskenk van gars gegee wat Boas gesê het sy vir Naomi moet gee. *Rut 3:16, 17.

23 Naomi het Rut wyslik aangespoor om daardie dag by die huis te bly en nie oesoorblyfsels in die landerye te gaan insamel nie. Sy het Rut die versekering gegee: “Die man sal geen rus hê tensy hy die saak vandag tot ’n einde gebring het nie.”—Rut 3:18.

24, 25. (a) Hoe het Boas getoon dat hy ’n regverdige en onselfsugtige man was? (b) Hoe is Rut geseën?

24 Naomi het Boas heeltemal reg opgesom. Hy het na die stadspoort gegaan, waar die ouer manne van die stad gewoonlik bymekaargekom het, en gewag totdat die man wat nader verwant was aan die familie, daar verbykom. Boas het die man voor getuies die geleentheid gebied om as terugkoper op te tree deur met Rut te trou. Maar die man het geweier en gesê dat dit sy erfdeel sou bederf. Toe het Boas, voor die getuies daar by die stadspoort, gesê dat hy as terugkoper sou optree deur alles wat aan Naomi se oorlede man, Elimeleg, behoort het, te koop en met Rut, die weduwee van Elimeleg se seun Maglon, te trou. Boas het die hoop uitgespreek dat hy sodoende “die naam van die man wat dood is, oor sy erfdeel [sou] laat verrys” (Rut 4:1-10). Boas was waarlik ’n regverdige en onselfsugtige man.

25 Boas het met Rut getrou. Daarna lees ons: “Jehovah [het] gegee dat sy swanger word, en sy het ’n seun gebaar.” Die vroue van Betlehem het Naomi geseën en Rut geprys omdat sy vir Naomi beter was as sewe seuns. Ons vind uit dat Rut se seun later ’n voorouer van die groot koning Dawid geword het (Rut 4:11-22). En Dawid was weer ’n voorouer van Jesus Christus.—Matt. 1:1. *

Jehovah het Rut geseën met die voorreg om ’n voorouer van die Messias te word

26. Waaraan herinner die voorbeelde van Rut en Naomi ons?

26 Rut was waarlik geseënd, en so ook Naomi, wat gehelp het om die kind groot te maak asof hy haar eie was. Die lewe van hierdie twee vroue is ’n treffende herinnering daaraan dat Jehovah God bewus is van almal wat hulle nederig inspan om vir hulle gesin te sorg en hom lojaal saam met sy uitverkore volk dien. Hy versuim nooit om getroue mense, soos Boas, Naomi en Rut, te beloon nie.

^ par. 7 Soos Naomi gesê het, is Jehovah se goedhartigheid nie tot die lewendes beperk nie; dit word selfs aan die dooies betoon. Naomi het haar man en albei haar seuns aan die dood afgestaan. Rut het haar man aan die dood afgestaan. Albei vroue was ongetwyfeld baie lief vir die drie mans. Enige goedhartigheid wat aan Naomi en Rut betoon is, was as ’t ware goedhartigheid teenoor die mans wat sou wou gehad het dat daar na hierdie dierbare vroue omgesien moet word.

^ par. 11 Die afgestorwe man se broers en daarna die naaste manlike familielede het klaarblyklik die eerste reg gehad om met so ’n weduwee te trou, en dit was ook die geval met die reg op die erfdeel.—Num. 27:5-11.

^ par. 22 Boas het vir Rut ses mate van ’n ongespesifiseerde gewig gegee—moontlik om aan te dui dat, net soos ses werksdae deur ’n Sabbatsrus gevolg word, Rut se dae van geswoeg as ’n weduwee binnekort gevolg sou word deur die “rus” wat ’n veilige tuiste en ’n huweliksmaat kon bied. Of dalk was die ses mate—moontlik ses vol grawe—al wat Rut kon dra.

^ par. 25 Rut is een van vyf vroue wat die Bybel in die geslagsregister van Jesus noem. Nog een is Ragab, wat Boas se moeder was (Matt. 1:3, 5, 6, 16). Soos Rut, was sy nie ’n Israeliet nie.