Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL SE BESKOUING

Spiritisme

Spiritisme

Is dit verkeerd om met die dooies te probeer kommunikeer?

“Julle moet julle nie tot die geestemediums wend . . . sodat julle deur hulle onrein word nie.”—Levitikus 19:31.

WAT MENSE SÊ

Dit is te verstane dat mense die versekering wil hê dat ’n geliefde wat gesterf het, nie ly nie. Daarom sê hulle: “Dalk moet ons met hom of haar in aanraking probeer kom deur middel van ’n geestemedium, of spiritistiese medium. Miskien kan die medium ons help om ’n mate van berusting en gemoedsrus te vind.”

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel toon duidelik dat die lewendes nie met die dooies in aanraking moet probeer kom nie—’n gebruik wat in die ou tyd algemeen was. Jehovah God se Wet aan die nasie Israel het byvoorbeeld gesê: “Daar mag niemand onder jou gevind word wat . . . ’n geestemedium . . . om inligting vra of die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir Jehovah verfoeilik” (Deuteronomium 18:10-12). Die Bybel sê ook dat mense wat enige vorm van spiritisme beoefen, “God se koninkryk nie sal beërf nie”.—Galasiërs 5:19-21.

 Kan die dooies die lewendes beïnvloed?

“Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks.”—Prediker 9:5.

WAT MENSE SÊ

Baie beweer dat die dooies in ’n ander vorm voortleef. Daarom probeer hulle dalk met die dooies kommunikeer, miskien om inligting te kry of om die dooies te paai in die hoop dat hulle die lewendes met rus sal laat.

WAT DIE BYBEL SÊ

“Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks . . . Hulle liefde en hulle haat en hulle jaloesie [gevoelens wat hulle gehad het terwyl hulle gelewe het] het reeds vergaan” (Prediker 9:5, 6). Ja, die Bybel leer dat die dooies werklik dood is! Hulle kan nie dink, optree of selfs God aanbid nie. “Die dooies loof [God] nie, ook niemand wat in die stilte afdaal nie”, sê Psalm 115:17.

Voorsien geestemediums nie soms akkurate besonderhede nie?

“Moet mense hulle wend tot die dooies ten behoewe van die lewendes?”—Jesaja 8:19.

WAT MENSE SÊ

Party beweer dat geestemediums inligting kan verskaf waarvan slegs die dooies en hulle familie of vriende kan weet.

WAT DIE BYBEL SÊ

Hoofstuk 28 van die boek 1 Samuel vertel van ’n ontroue koning met die naam Saul, wat God se bevel om nie geestemediums te raadpleeg nie, oortree het. Hy het inligting gevra van ’n medium, ’n vrou wat skynbaar gepraat het met Samuel, ’n man van God wat reeds dood was! Maar het sy werklik met Samuel in aanraking gekom? Nee! Sy het eintlik met ’n bedrieër gekommunikeer—iemand wat voorgegee het dat hy die afgestorwe Samuel is.

Daardie bedrieër was ’n bose gees, ’n werktuig van “die vader van die leuen”—Satan (Johannes 8:44). Waarom bevorder die bose geeste, of demone, die beskouing dat die dooies voortleef? Hulle doel is om God te beswadder en die geloofwaardigheid van sy geskrewe Woord, die Bybel, te ondermyn.—2 Timoteus 3:16.

Beteken die voorgaande dat daar geen hoop vir die dooies is nie? Beslis nie! Die Bybel belowe dat diegene wat as ’t ware in die graf “slaap”, in die toekoms uit die dood opgewek sal word (Johannes 11:11-13; Handelinge 24:15). * Intussen kan ons seker wees dat ons geliefdes wat gesterf het, glad nie ly nie.

^ par. 16 Hoofstuk 7 van die boek Wat leer die Bybel werklik? het die titel: “Ware hoop vir jou geliefdes wat gesterf het.”