Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

IS DIT ONTWERP?

Die periodieke sonbesie se lewensiklus

Die periodieke sonbesie se lewensiklus

SONBESIES, insekte wat soos sprinkane lyk, kom op alle vastelande behalwe op Antarktika voor. Maar die periodieke sonbesie is uniek aan die noordooste van Amerika, en dit is iets wat bioloë al lank fassineer.

Dink hieraan: Miljoene periodieke sonbesies verskyn skielik ’n paar weke lank in die lente. Gedurende hulle kort tydjie in die son vervel hulle, sing hulle oorverdowend hard, vlieg hulle, plant hulle voort en gaan hulle dood. Dit is vreemd dat die volgende geslag eers 13 of 17 jaar later verskyn, afhangende van die spesie. Wat gebeur intussen met hierdie insekte?

Om dit te beantwoord moet ons die unieke lewensiklus van die periodieke sonbesie verstaan. Ongeveer ’n week nadat hulle verskyn, paar die volwasse insekte en lê die wyfie 400 tot 600 eiers in boomtakke. Kort daarna gaan die volwassenes dood. Binne die volgende paar weke broei die eiers uit en val die jong larwes op die grond. Hulle kruip dan in die grond in en begin onder die grond lewe, waar hulle ’n paar jaar lank vloeistowwe uit die wortels van bossies of bome suig. Die nuwe volwasse geslag verskyn 13 of 17 jaar later om die siklus te herhaal.

’n Artikel in die tydskrif Nature sê dat die komplekse siklus van hierdie sonbesies “wetenskaplikes al eeue lank verstom. . . . Insektekundiges probeer nou nog verstaan hoe die insekte se vreemde lewensiklus geëvolueer het.” Dit is ’n ongeëwenaarde geheim in die diereryk.

Wat dink jy? Het die periodieke sonbesie se lewensiklus deur middel van evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?