Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Goed beplande kampanje werp vrugte af

’n Goed beplande kampanje werp vrugte af

María Isabel is ’n ywerige jong verkondiger in die stad San Bernardo in die Suid-Amerikaanse land Chili. Sy en haar gesin behoort aan die inheemse Mapuche-volk. Die hele gesin ondersteun entoesiasties die pogings om ’n nuwe gemeente te stig in die taal van die Mapuche-volk, wat ook Mapudungun genoem word.

Toe daar aangekondig is dat die Herdenking van Christus se dood ook in Mapudungun gehou sou word en dat daar 2 000 gedrukte Gedenkmaaluitnodigings in hierdie taal vir verspreiding beskikbaar sou wees, het dit María Isabel laat dink. Wat kon sy doen om te help? Sy het gedink aan ondervindinge van ander jong Getuies wat met welslae vir klasmaats en onderwysers getuig het. Sy het dit met haar ouers bespreek, en hulle het saam besluit dat María Isabel sou probeer dink aan ’n plan om die uitnodigings by die skool te versprei. Met watter plan het sy vorendag gekom?

Eers het María Isabel by die skoolowerheid toestemming gevra om ’n uitnodiging by die skool se hoofingang op te plak. Hulle het haar versoek toegestaan en haar vir haar inisiatief geprys. Een dag het die skoolhoof selfs by die oggendbyeenkoms oor die luidspreker ’n aankondiging gemaak oor die uitnodiging!

Toe het María Isabel gevra of sy al die klaskamers kan besoek. Nadat sy die onderwyser se toestemming gekry het, het sy die klas gevra of enigiemand aan die Mapuche-volk behoort. “Ek het gedink dat daar dalk 10 of 15 Mapuche-leerlinge in die hele skool sou wees”, sê sy, “maar daar was baie meer—op die ou end het ek 150 uitnodigings uitgegee!”

“SY HET IEMAND VERWAG WAT OUER IS”

’n Vrou wat die plakkaat met die uitnodiging by die skool se ingang gesien het, het gevra by wie sy meer daaroor kon uitvind. Stel jou voor hoe verbaas sy was toe sy na ’n tienjarige meisie verwys is! “Sy het iemand verwag wat ouer is”, sê María Isabel met ’n glimlag. Nadat María Isabel vir die vrou ’n uitnodiging gegee en dit kortliks verduidelik het, het sy vir die vrou haar adres gevra sodat sy en haar ouers haar kon besoek om haar meer oor God se Koninkryk te vertel. Hoe verheug was die 20 verkondigers wat in die Mapudungun-veld dien om hierdie vrou tesame met 26 ander belangstellendes van die Mapuche-volk by die Gedenkmaal te sien. Daardie groep is nou ’n florerende gemeente!

Kan jy, ongeag hoe oud jy is, soortgelyke inisiatief aan die dag lê om klasmaats of kollegas na die Gedenkmaal, ’n openbare toespraak of ’n streekbyeenkoms te nooi? Doen gerus navorsing in ons publikasies om ondervindinge te vind wat jou idees kan gee van hoe om so ’n projek met welslae uit te voer. Bid ook vir Jehovah se heilige gees om jou te help om die moed bymekaar te skraap om oor hom te praat (Luk. 11:13). As jy dit doen, sal jy moontlik ook aangenaam verras wees en baie bemoedig word deur die vrugte wat jou goed beplande pogings sal afwerp.