Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Geniet die voordele wat dit inhou om te gee

Geniet die voordele wat dit inhou om te gee

“DIE bus kan gaan, maar die Chinese ou moet bly!” Dit is wat Alexandra gehoor het terwyl sy in ’n bus gesit en wag het om die grens tussen twee Suid-Amerikaanse lande oor te steek. Sy het afgeklim om te gaan kyk wat aan die gang was. ’n Jong Chinese man het gesukkel om sy probleem in gebroke Spaans aan ’n grenswag te verduidelik. Aangesien Alexandra in ’n Chinese gemeente van Jehovah se Getuies was, het sy aangebied om vir hulle te tolk.

Die man het gesê dat hy ’n wettige inwoner is, maar dat sy dokumente en geld gesteel is. Die grenswag wou eers nie sy storie glo nie en hy het selfs gedink dat Alexandra by mensehandel betrokke is. Uiteindelik het die grenswag die man se verduideliking aanvaar, maar hy moes ongelukkig ’n boete betaal omdat hy nie die regte dokument gehad het nie. Aangesien hy nie geld gehad het nie, het Alexandra aangebied om vir hom $20 te leen. Die man kon haar nie genoeg bedank nie en hy het gesê dat hy haar meer as $20 sou terugbetaal. Alexandra het verduidelik dat sy nie ’n beloning wou hê nie; sy wou hom graag help omdat sy gemeen het dat dit die regte ding is om te doen. Sy het vir die man Bybellektuur gegee en hom aangespoor om die Bybel saam met die Getuies te studeer.

Dit maak ons hart bly wanneer ons hoor van iemand wat vrygewig was teenoor ’n vreemdeling. Dit is ongetwyfeld iets wat gedoen word deur mense van alle godsdienste en mense wat nie aan ’n godsdiens behoort nie. Sou jy bereid wees om op so ’n onselfsugtige manier van jouself te gee? Dit is ’n interessante vraag omdat Jesus gesê het: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Dit is ook van wetenskaplike belang, want navorsers het gevind dat dit goed is vir ’n mens as jy van jouself gee. Kom ons kyk op watter maniere jy dit kan doen.

DIE “BLYMOEDIGE GEWER”

Die ondervinding toon dat vrygewigheid en geluk dikwels hand aan hand gaan. Die apostel Paulus het geskryf dat God “’n blymoedige gewer” liefhet. Hy het gepraat van Christene wat groot bydraes gegee het om medegelowiges wat swaargekry het, te help (2 Korintiërs 8:4; 9:7). Paulus het nie gesê dat hulle gegee het omdat hulle gelukkig was nie. Die teenoorgestelde was eerder waar—hulle was gelukkig omdat hulle kon gee.

Volgens ’n studie wakker vrygewigheid “dele van die brein [aan] wat geassosieer word met genot, sosiale verbintenis en vertroue, wat tot ’n gevoel van tevredenheid lei”. In ’n ander studie is bevind dat “mense gelukkiger was wanneer hulle vir iemand anders geld gegee het as wanneer hulle dit op hulleself uitgegee het”.

Het jy al ooit gevoel dat jy weens jou omstandighede nie veel kan doen nie? Die waarheid is dat ons almal “’n blymoedige gewer” kan wees en die vreugde kan ervaar wat daarmee gepaardgaan. Wanneer ’n mens met die regte beweegrede gee, hoef dit nie ’n groot bedrag te wees nie. Een van Jehovah se Getuies het die volgende boodskap en ’n bydrae aan die uitgewers van hierdie tydskrif gestuur: “Jare lank kon ek maar net klein bydraes by die Koninkryksaal maak.” Maar sy sê verder: “Jehovah God het my baie meer teruggegee as wat ek ooit gegee het. . . . Dankie dat julle dit vir my moontlik gemaak het om hierdie geskenk te gee—dit laat my goed voel.”

Om te gee gaan natuurlik nie net oor geld nie. Daar is baie ander maniere waarop ’n mens kan gee.

OM TE GEE IS GOED VIR JOU GESONDHEID

Om te gee is goed vir jou en vir ander

Die Bybel sê: “’n Man van liefderyke goedhartigheid doen goed aan sy eie siel, maar die wreedaard stort sy eie liggaam in die ongeluk” (Spreuke 11:17). Goedhartige mense is vrygewig, bereid om van hulleself te gee—hulle tyd, energie, sorg, ensovoorts. Hierdie benadering tot die lewe bevoordeel hulle op baie maniere, en een van die belangrikste hiervan is die feit dat sulke vrygewigheid goed is vir hulle gesondheid.

Studies toon dat diegene wat aanbied om ander te help, minder pyne en kwale het en ook minder depressief is. Hulle is oor die algemeen gesonder. Vrygewigheid verbeter selfs die gesondheid van party wat chroniese gesondheidsprobleme het, soos veelvuldige sklerose of MIV. Daar is ook al getoon dat alkoholiste wat besig is om te herstel, minder depressief is wanneer hulle ander help en ook minder geneig is om ’n terugslag te hê.

Die rede hiervoor is blykbaar omdat “gevoelens van medelye, goedhartigheid en liefde minder plek laat vir negatiewe emosies”. Om te gee kan ook stres verminder en bloeddruk verlaag. En mense wie se huweliksmaat gesterf het, se simptome van depressie het vinniger verdwyn wanneer hulle ander gehelp het.

Om te gee is ongetwyfeld goed vir jou.

OM TE GEE IS AANSTEEKLIK

Jesus het sy volgelinge aangespoor: “Gee altyddeur, en mense sal vir julle gee. Hulle sal ’n goeie maat, ingestamp, geskud en oorlopend, in julle skoot stort. Want met die maat waarmee julle uitmeet, sal hulle weer vir julle uitmeet” (Lukas 6:38). Wanneer jy gee, sal mense waarskynlik met dankbaarheid op jou vrygewigheid reageer en hulle sal ook vrygewig word. Vrygewigheid spoor mense dus aan om saam te werk en om vriende te wees.

Vrygewigheid help mense om saam te werk en om vriende te wees

Navorsers wat menseverhoudings bestudeer, het opgemerk dat “mense wat altyd onselfsugtig is, ander aanspoor om dieselfde te doen”. In werklikheid “maak dit mense vrygewiger selfs wanneer hulle net oor buitengewone dade van goedhartigheid lees”. Volgens een studie “kan elke persoon in ’n netwerk [dus] tientalle of selfs honderde mense beïnvloed, al ken hy of sy party van hulle nie en het hy of sy hulle nog nooit ontmoet nie”. Met ander woorde, wanneer een persoon vrygewig is, kan dit ’n kettingreaksie veroorsaak wat die hele gemeenskap kan beweeg om ook vrygewig te wees. Sou jy nie daarvan hou om in so ’n plek te bly nie? Ja, dit kan groot voordele inhou as meer mense in die gewoonte kom om te gee.

’n Ondervinding wat toon watter goeie uitwerking dit kan hê om te gee, kom uit Florida, VSA. ’n Groep van Jehovah se Getuies het ná ’n verwoestende orkaan aangebied om noodlenigingswerk te doen. Terwyl hulle vir voorraad gewag het om herstelwerk aan ’n huis te doen, het hulle gesien dat een van die bure se heining stukkend was, en hulle het aangebied om dit reg te maak. “Ek is baie dankbaar”, het die buurman later in ’n brief aan die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies geskryf. “Hierdie mense is van die gaafste mense wat ek al ooit ontmoet het.” Hy het gesê dat die Getuies buitengewone werk doen, en uit dankbaarheid het hy ’n groot bydrae vir hulle werk gestuur.

VOLG DIE BESTE VOORBEELD VAN VRYGEWIGHEID NA

’n Merkwaardige bevinding van wetenskaplike navorsing is dat “dit lyk asof mense ’n diepgewortelde drang het om ander te help”. Hierdie navorsing toon dat kinders “onselfsugtig optree selfs voordat hulle geleer het om te praat”. Waarom? Die Bybel gee die antwoord wanneer dit sê dat mense “na God se beeld” geskep is, dit wil sê dat hulle dieselfde basiese godvrugtige eienskappe het.—Genesis 1:27.

Vrygewigheid is een van ons Skepper, Jehovah God, se wonderlike eienskappe. Hy het vir ons die lewe gegee en alles wat ons nodig het om gelukkig te wees (Handelinge 14:17; 17:26-28). Ons kan ons hemelse Vader beter leer ken en meer oor sy liefdevolle voornemens vir ons leer deur sy Woord, die Bybel, te studeer. Hierdie boek vertel ons ook dat God voorsiening gemaak het sodat ons in die toekoms gelukkig kan wees * (1 Johannes 4:9, 10). Omdat Jehovah God die bron van vrygewigheid is en jy na sy beeld geskep is, is dit te verstane dat vrygewigheid—in navolging van God—goed is vir jou en dat dit hom gelukkig maak wanneer jy gee.—Hebreërs 13:16.

Onthou jy Alexandra wat aan die begin van hierdie artikel genoem is? Wat het toe later met haar gebeur? Al het iemand anders op die bus gesê dat Alexandra haar geld gemors het, het die man sy vriende in ’n stad waar die bus daarna stilgehou het, gekontak, en hy het haar $20 teruggegee. Wat meer is, die man het Alexandra se voorstel gevolg en die Bybel begin studeer. Sy was baie bly toe sy hom drie maande later by ’n Chinese byeenkoms van Jehovah se Getuies in Peru raakgeloop het. Om sy dankbaarheid te toon vir alles wat Alexandra vir hom gedoen het, het hy haar en diegene wat saam met haar na die byeenkoms toe gereis het, na sy restaurant toe genooi.

Om te gee en ander te help, maak ons baie gelukkig. En dit maak ons selfs gelukkiger wanneer ons in die proses mense help om die Bron van alle goeie gawes—Jehovah God—beter te leer ken! (Jakobus 1:17). Geniet jy die voordele wat dit inhou om op hierdie maniere te gee?

^ par. 21 Vir meer besonderhede sien die boek Wat leer die Bybel werklik? uitgegee deur Jehovah se Getuies en aanlyn beskikbaar by www.mt711.com/af. Kyk onder PUBLIKASIES > BOEKE & BROSJURES.