Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | DIE BYBEL—’N BOEK WAT BEHOUE GEBLY HET

Die Bybel het behoue gebly ondanks verwering

Die Bybel het behoue gebly ondanks verwering

DIE BEDREIGING: Bybelskrywers en kopiiste het hoofsaaklik papirus en perkament gebruik om op te skryf (2 Timoteus 4:13). * Hoe het hierdie skryfmateriaal die voortbestaan van die Bybel in gevaar gestel?

Papirus skeur, verkleur en vergaan maklik. “’n Vel kan later ontbind tot vesels en ’n hand vol stof”, sê die Egiptoloë Richard Parkinson en Stephen Quirke. “’n Boekrol wat gestoor is, kan muf en verrot weens vogtigheid en kan deur knaagdiere of insekte geëet word, veral deur termiete, as dit begrawe is.” Nadat party papirusse ontdek is, is dit aan te veel lig en vogtigheid blootgestel, wat dit vinniger laat verweer het.

Perkament is duursamer as papirus, maar dit kan ook verweer as dit nie reg hanteer word nie of aan uiterste temperature, vog of lig blootgestel word. * Insekte is ook ’n bedreiging vir perkament. Wanneer ou rekords dus behoue bly, is dit “die uitsondering en nie die reël nie”, sê die boek Everyday Writing in the Graeco-Roman East. As die Bybel vergaan het, sou sy boodskap saam met hom vergaan het.

HOE DIE BYBEL BEHOUE GEBLY HET: Die Joodse wet het elke koning verplig om vir hom ’n afskrif van die wet, die eerste vyf boeke van die Bybel, in ’n boek te skryf (Deuteronomium 17:18). En professionele kopiiste het soveel manuskripte gemaak dat die Skrif in die eerste eeu in sinagoges regoor Israel en selfs in verafgeleë Masedonië gevind kon word! (Lukas 4:16, 17; Handelinge 17:11). Hoe het party baie ou manuskripte tot vandag toe behoue gebly?

Manuskripte wat as die Dooie See-rolle bekend is, het eeue lank behoue gebly in erdekruike wat in grotte in ’n droë klimaat geberg is

“Jode was daarvoor bekend dat hulle boekrolle wat die Skrif bevat het, in kruike of flesse gesit het om dit te bewaar”, sê die Nuwe Testamentiese geleerde Philip W. Comfort. Christene het blykbaar hierdie gebruik voortgesit. Gevolglik is party vroeë Bybelmanuskripte in erdekruike ontdek, asook in donker kamertjies en grotte en in besonder droë gebiede.

DIE GEVOLG: Duisende gedeeltes van Bybelmanuskripte—sommige meer as 2 000 jaar oud—het tot vandag toe behoue gebly. Geen ander antieke geskrif het soveel manuskripte wat so oud is nie.

^ par. 3 Papirus is ’n skryfmateriaal wat gemaak is van ’n waterplant met dieselfde naam. Perkament is van dierevelle gemaak.

^ par. 5 Die Verenigde State se amptelik ondertekende Onafhanklikheidsverklaring is byvoorbeeld op perkament geskryf. Nou, minder as 250 jaar later, het dit so verbleik dat dit skaars leesbaar is.