Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel se Evangelies—Waarom jy dit kan vertrou

Die Bybel se Evangelies—Waarom jy dit kan vertrou

“Dit het ’n reusesukses geword. Dit het aanleiding gegee tot rolprente wat miljoene kos . . . asook trefferboeke . . . Christelike sektes het dit aanvaar. Dit het tot die ontstaan van godsdienste en samesweringsteorieë gelei.”—SUPER INTERESSANTE, ’N BRASILIAANSE NUUSTYDSKRIF.

WAAROOR was al die opgewondenheid? Die tydskrif het kommentaar gelewer oor die onlangse wydverspreide belangstelling en bedrywighede in verband met ’n versameling sogenaamde evangelies, sendbriewe en openbarings wat in die middel van die 20ste eeu in Nag Hammadi en elders in Egipte ontdek is. Daar is al na hierdie en ander soortgelyke dokumente verwys as gnostiese of apokriewe geskrifte. *

Was daar ’n sameswering?

In ’n era waarin mense oor die algemeen sinies oor die Bybel en ortodokse godsdienste is, lyk dit of die gnostiese of apokriewe geskrifte by baie mense byval gevind het. Hierdie geskrifte het al ’n groot invloed gehad op hoe baie mense die leringe van Jesus Christus en die Christelike godsdiens beskou. Een tydskrif het byvoorbeeld gesê: “Die Evangelie van Thomas en ander apokriewe [werke] spreek tot die hart van ’n groep mense wat in hedendaagse tye aan die toeneem is: dié wat na geestelikheid smag maar godsdiens wantrou.” Na raming is daar in Brasilië alleen “ten minste 30 groepe wie se godsdiensoortuigings op die Apokriewe gebaseer is”.

Die ontdekking van hierdie dokumente het die teorie gewild gemaak dat die Katolieke Kerk in die vierde eeu HJ saamgesweer het om die waarheid omtrent Jesus te verdoesel, dat party verslae oor sy lewe wat in die apokriewe geskrifte voorkom, geheim gehou is en dat die vier Evangelies wat in hedendaagse Bybels  verskyn, verander is. Elaine Pagels, ’n professor in godsdiens, het dit so gestel: “Ons begin nou sien dat wat ons die Christelike godsdiens noem—en wat ons as Christelike tradisie identifiseer—eintlik net uit ’n klein versameling spesifieke bronne kom, wat uit tientalle ander gekies is.”

Volgens geleerdes soos Pagels is die Bybel nie die enigste bron van Christelike geloof nie; daar is ander bronne, soos die apokriewe geskrifte. Byvoorbeeld, ’n BBC-program met die titel Bible Mysteries, “The Real Mary Magdalene”, het gesê dat die apokriewe geskrifte Maria Magdalena uitbeeld as “’n onderrigter en geestelike leier vir die ander dissipels. Sy is nie net ’n dissipel nie; sy is die apostel vir die apostels.” Juan Arias lewer kommentaar in die Brasiliaanse koerant O Estado de S. Paulo oor die veronderstelde rol van Maria Magdalena en skryf: “Vandag laat alles ons glo dat die vroeë Christelike beweging, wat deur Jesus gestig is, oorwegend ‘feministies’ was, aangesien die eerste huiskerke in die huise van vroue was, waar hulle as priesters en biskoppe gedien het.”

Dit wil voorkom of baie mense die apokriewe bronne as veel gesaghebbender as die Bybelse bron beskou. Maar hierdie voorkeur laat ’n paar belangrike vrae ontstaan: Is die apokriewe geskrifte ’n regmatige bron van Christelike geloof? Watter bron moet ons glo wanneer duidelike Bybelleringe weerspreek word—die Bybel of die Apokriewe? Was daar werklik ’n sameswering in die vierde eeu om hierdie boeke geheim te hou en die vier Evangelies te verander om belangrike inligting omtrent Jesus, Maria Magdalena en ander uit te sluit? Kom ons kyk na een van die vier Evangelieverslae in die Bybel, die Evangelie van Johannes, om antwoorde op hierdie vrae te vind.

Bewyse uit Johannes se Evangelie

’n Waardevolle fragment van Johannes se Evangelie is aan die begin van die 20ste eeu in Egipte gevind en staan nou bekend as die Rylands-papirus 457 (P52). Dit bevat ’n gedeelte wat vandag Johannes 18:31-33, 37, 38 in die Bybel is en word in die John Rylands-biblioteek in Manchester, Engeland, bewaar. Dit is die oudste geskrewe fragment van die Christelike Griekse Geskrifte wat nog bestaan. Baie geleerdes meen dat dit omstreeks 125 HJ geskryf is, net ongeveer ’n kwarteeu ná Johannes se dood. Wat verbasend is, is dat die teks van die fragment feitlik presies ooreenstem met die teks van latere manuskripte. Die feit dat so ’n vroeë kopie van Johannes se Evangelie al in omloop was in Egipte, waar die fragment ontdek is, staaf die gevolgtrekking dat die goeie nuus volgens Johannes werklik in die eerste eeu HJ en deur Johannes self geskryf is, soos die Bybel toon. Die boek Johannes is dus die werk van ’n ooggetuie.

Die apokriewe geskrifte daarenteen dateer almal uit die tweede eeu en later, ’n honderd jaar of meer nadat die gebeure wat daarin beskryf word, plaasgevind het. Party deskundiges probeer aanvoer dat die apokriewe geskrifte op vroeëre geskrifte of oorleweringe gebaseer is, maar daar is geen bewyse hiervan nie. Die volgende vraag is dus gepas: Waarin sal jy meer geloof stel—die verklarings van  ooggetuies of dié van mense wat ’n honderd jaar ná die gebeure gelewe het? Die antwoord is voor die hand liggend. *

Die Rylands-papirus 457 (P52), ’n fragment van die Evangelie van Johannes wat uit die tweede eeu HJ dateer, is net ’n paar dekades ná die oorspronklike geskryf

Wat van die bewering dat die Bybel se Evangelies verander is om sekere verslae oor Jesus se lewe geheim te hou? Is daar byvoorbeeld enige bewys dat die Evangelie van Johannes in die vierde eeu verander is om die feite te verdraai? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons in gedagte hou dat een van die vernaamste bronne van die moderne Bybel die vierde-eeuse manuskrip is wat as Vaticanus 1209 bekend staan. As ons Bybel veranderinge bevat wat in die vierde eeu aangebring is, sal dié veranderinge in hierdie manuskrip gesien kan word. Gelukkig is daar ’n ander manuskrip, bekend as Bodmer 14, 15 (P75), wat die grootste deel van Lukas en Johannes bevat en uit 175 HJ tot 225 HJ dateer. Volgens deskundiges stem die teks feitlik presies ooreen met Vaticanus 1209. Met ander woorde, daar is geen betekenisvolle veranderinge aan die Bybel se Evangelies gemaak nie, en ons het die Vaticanus 1209 om dit te bewys.

Daar is geen bewyse, op skrif of elders, wat toon dat die teks van Johannes—of dié van die ander Evangelies—in die vierde eeu verander is nie. Nadat dr. Peter M. Head, van die Universiteit van Cambridge, ’n versameling geskrewe fragmente ondersoek het wat by Oksiringos, Egipte, ontdek is, skryf hy: “Oor die algemeen bevestig hierdie manuskripte die teks van die groot unsiale [manuskripte wat in groot hoofletters geskryf is wat uit die vierde eeu en later dateer] wat die grondslag van die moderne, kritiese uitgawes vorm. Daar is niks hier wat ’n heeltemal nuwe begrip van die vroeë oorlewering van die teks in die NT [Nuwe Testament] vereis nie.”

Die vierde-eeuse manuskrip Vaticanus 1209, bo, toon dat daar nie juis veranderinge aan die teks van die Evangelies was nie

Tot watter slotsom kan ons kom?

Die vier kanonieke Evangelies—Matteus, Markus, Lukas en Johannes—is ten minste reeds teen die middel van die tweede eeu algemeen aanvaar onder Christene. Tatianus se welbekende Diatessaron (’n Griekse term wat “deur [die] vier” beteken), wat tussen 160 en 175 HJ saamgestel is, is slegs op die vier kanonieke Evangelies gebaseer en nie op een van die gnostiese “evangelies” nie. (Sien die venster  “’n Vroeë verdediging van die Evangelies”.) Wat ook noemenswaardig is, is ’n opmerking deur Ireneus van die laat tweede eeu HJ. Hy het beweer dat daar vier Evangelies moet wees, omdat daar vier hoeke van die aarde en vier hoofwinde is. Hoewel sy vergelykings bevraagteken kan word, staaf sy punt die idee dat daar destyds net vier kanonieke Evangelies was.

Wat toon al hierdie feite? Dat die Christelike Griekse Geskrifte—insluitende die vier Evangelies—soos ons dit vandag het, vanaf die tweede eeu grootliks onveranderd gebly het. Daar is geen grondige rede om te glo dat daar ’n sameswering in die vierde eeu was om enige deel van die goddelik geïnspireerde Skrif te verander of geheim te hou nie. Inteendeel, die Bybelgeleerde Bruce Metzger het geskryf: “Teen die einde van die tweede eeu . . . is ’n hoë vlak van eenstemmigheid  oor die grootste deel van die Nuwe Testament bereik onder die uiters uiteenlopende en wydverspreide gemeentes van gelowiges, nie net regoor die Middellandse See-gebied nie, maar ook oor ’n gebied wat van Brittanje tot Mesopotamië strek.”

Die apostels Paulus en Petrus was voorstanders van die waarheid van God se Woord. Hulle albei het mede-Christene ernstig gewaarsku om niks anders te aanvaar of te glo as wat hulle geleer is nie. Byvoorbeeld, Paulus het aan Timoteus geskryf: “O Timoteus, bewaar die pand wat aan jou toevertrou is en keer jou af van die leë praatjies wat skend wat heilig is en van die teenstrydighede van die sogenaamde ‘kennis’. Deur ’n vertoon van sulke kennis te maak, het party van die geloof afgewyk.” Petrus het getuig: “Nee, dit was nie deur kunstig versinde valse stories te volg dat ons die krag en teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus aan julle bekend gemaak het nie, maar deurdat ons ooggetuies van sy luisterrykheid geword het.”—1 Timoteus 6:20, 21; 2 Petrus 1:16.

Eeue gelede is die profeet Jesaja geïnspireer om te sê: “Die groen gras het verdroog, die bloeisel het verwelk; maar wat die woord van ons God betref, dit sal tot onbepaalde tyd bly bestaan” (Jesaja 40:8). Ons kan dieselfde vertroue hê dat die Een wat die Heilige Skrif geïnspireer het, dit ook deur die eeue heen bewaar het sodat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom”.—1 Timoteus 2:4.

^ par. 3 “Gnosties” en “apokrief” kom van Griekse woorde wat onderskeidelik na “geheime kennis” en “sorgvuldig verborge” kan verwys. Hierdie terme word gebruik om te verwys na vervalste of niekanonieke geskrifte wat ’n poging is om die Evangelies, Handelinge, briewe en die openbarings in die kanonieke boeke van die Christelike Griekse Geskrifte na te maak.

^ par. 11 Nog ’n probleem in verband met die apokriewe geskrifte is dat baie min kopieë nog bestaan. Die Evangelie van Maria Magdalena, waarna daar vroeër indirek verwys is, bestaan uit net twee klein fragmente en ’n langer een waarvan waarskynlik die helfte van die oorspronklike teks ontbreek. Bowendien is daar aansienlike verskille tussen die beskikbare manuskripte.