Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons lesers vra . . .

Het Jehovah se Getuies vrouebedienaars?

Het Jehovah se Getuies vrouebedienaars?

Ja, Jehovah se Getuies het wêreldwyd etlike miljoene vrouebedienaars. Hulle is ’n groot menigte predikers van die goeie nuus van God se Koninkryk. Psalm 68:11 sê profeties van hierdie bedienaars: “Jehovah laat die woord hoor; die vroue wat die goeie nuus verkondig, is ’n groot leër.”

Moet egter nie die bediening van vroue wat Jehovah se Getuies is, verwar met die bediening wat deur vroulike geestelikes van ander godsdienste uitgevoer word nie. Daar is ’n hemelsbreë verskil tussen die twee groepe. In watter opsigte is hulle verskillend?

Hulle preek vir verskillende groepe mense. Vroulike geestelikes van veral die Christendom beklee leierskapsposisies in hulle gemeentes, en hulle gehoor bestaan hoofsaaklik uit lede van die kudde. Wat vrouebedienaars van Jehovah se Getuies betref, die gehoor wat hulle deur hulle predikingswerk probeer bereik, bestaan hoofsaaklik uit mense buite die gemeente, naamlik die publiek, wat hulle in hulle huis-tot-huis-bediening en elders ontmoet.

Nog ’n opsig waarin vrouebedienaars van Jehovah se Getuies van dié in ander godsdienste verskil, is hulle bedrywighede in die gemeente. Vroulike geestelikes van die Christendom en ander kerke hou toesig oor en onderrig lede van hulle gemeente in die leerstellings van hulle godsdiens. Vrouebedienaars van Jehovah se Getuies onderrig egter nie in die gemeente wanneer gedoopte mans teenwoordig is nie. Slegs mans wat as onderrigters aangestel is, doen dit.—1 Timoteus 3:2; Jakobus 3:1.

In die Bybel word slegs mans die taak gegee om oor die gemeente toesig te hou. Let op die presedent wat deur die apostel Paulus geskep is toe hy aan ’n medeopsiener, Titus, geskryf het: “Om dié rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy . . . in stad na stad ouer manne sou aanstel.” Paulus het bygevoeg dat elke man wat aangestel word, “vry van beskuldiging . . . , die man van een vrou” moes wees (Titus 1:5, 6). Paulus het soortgelyke instruksies aan Timoteus in sy herderlike brief gegee: “As ’n man na ’n opsienersamp streef, begeer hy ’n voortreflike werk. Die opsiener moet dan onberispelik wees, die man van een vrou, . . . bekwaam om te onderrig.”—1 Timoteus 3:1, 2

Waarom is toesighoudende rolle in die gemeente tot mans beperk? Paulus sê: “Ek laat ’n vrou nie toe om te onderrig of om gesag oor ’n man uit te oefen nie, maar sy moet stil wees. Want Adam is eerste gevorm, daarna Eva” (1 Timoteus 2:12, 13). Die volgorde waarin God die man en vrou geskep het, toon dus waarom Hy mans die verantwoordelikheid gegee het om te onderrig en opsieners te wees.

Bedienaars van Jehovah volg die voorbeeld van hulle Leier, Jesus Christus. Die dissipel Lukas het die volgende oor Jesus se bediening geskryf: “Hy [het] van stad tot stad en van dorpie tot dorpie begin reis en gepreek en die goeie nuus van die koninkryk van God bekend gemaak.” Later het Jesus sy volgelinge uitgestuur om dieselfde werk te doen: “Hulle [het] deur die gebied van dorpie tot dorpie gegaan en oral die goeie nuus bekend gemaak” (Lukas 8:1; 9:2-6).

Vandag neem bedienaars van Jehovah—mans en vroue—ywerig deel aan die werk wat Jesus voorspel het, gedoen sou word: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:14.