Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP: IS GOD WREED?

Waarom sê mense dat God wreed is?

Waarom sê mense dat God wreed is?

IS DIE vraag “Is God wreed?” vir jou skokkend? Vir party is dit, maar vandag is daar baie mense wat wonder of God wreed is—of wat aanneem dat hy is. Waarom?

Party wat natuurrampe oorleef, vra: “Waarom laat God toe dat dit gebeur? Gee hy nie om nie? Of is hy wreed?”

Ander vra soortgelyke vrae wanneer hulle die Bybel lees. Hulle lees verslae soos die een oor Noag en die Vloed, en hulle wonder: ‘Waarom sou ’n liefdevolle God al daardie mense doodmaak? Is hy wreed?’

Kom sulke vrae soms by jou op? Of vind jy dit moeilik om iemand te antwoord wat wonder of God wreed is? Hoe dit ook al sy, kom ons kyk na ’n ander vraag wat jou moontlik sal help.

WAAROM HAAT ONS WREEDHEID?

Eenvoudig gestel, ons haat wreedheid omdat ons ’n sin vir reg en verkeerd het. In hierdie opsig verskil ons grootliks van diere. Ons Skepper het ons “na sy beeld” gemaak (Genesis 1:27). Wat beteken dit? Hy het ons die vermoë gegee om sy eienskappe en sedelike standaarde, sy sin vir reg en verkeerd, te weerspieël. Dink hieraan: As ons ons sin vir reg en verkeerd van God ontvang het en ons geneig is om wreedheid te haat, gee dit dan nie te kenne dat God dit ook haat nie?

Die Bybel bevestig hierdie logiese gevolgtrekking, want God verseker ons in die Bybel: “My weë [is] hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jesaja 55:9). As ons aanneem dat God wreed is, sê ons dan nie in werklikheid die teenoorgestelde nie—dat ons weë hoër is as sy weë nie? Dit sal sekerlik wys wees om meer feite te kry voordat ’n mens so ’n standpunt inneem. Dalk moet ons nie vra of God wreed is nie, maar waarom dit miskien lyk of party van sy dade wreed is. Om ons te help, kan ons kyk wat “wreed” werklik beteken.

Wanneer ons sê dat iemand wreed is, skryf ons slegte beweegredes aan hom toe. ’n Wrede persoon is iemand wat dit geniet om ander te sien ly of wat onverskillig staan teenoor hulle lyding. ’n Vader wat sy seun dissiplineer omdat hy dit geniet om sy seun se gevoelens seer te maak, is dus wreed. Maar ’n vader wat sy seun dissiplineer om hom te onderrig of te beskerm, is goed. Beweegredes word maklik misverstaan, soos jy maar alte goed weet as iemand jou al ooit verkeerd geoordeel het.

Kom ons ondersoek twee van die redes waarom party dink dat God wreed is—die natuurrampe wat ons vandag sien en Bybelverslae van oordele wat God voltrek het. Toon die feite werklik dat God wreed is?