Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Johannes 16:33 – “Ek het die wêreld oorwin”

Johannes 16:33 – “Ek het die wêreld oorwin”

 “Ek het hierdie dinge vir julle gesê sodat julle deur middel van my vrede kan hê. In die wêreld sal julle moeilike tye deurmaak, maar moenie bang wees nie! Ek het die wêreld oorwin.” – Johannes 16:33, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.” – Johannes 16:33, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Johannes 16:33

 Met hierdie woorde het Jesus sy volgelinge verseker dat hulle ook vir God gelukkig kan maak al gaan hulle deur moeilike tye of word hulle teëgestaan.

 “Ek het hierdie dinge vir julle gesê sodat julle deur middel van my a vrede kan hê.” Die res van die vers wys dat hierdie vrede nie beteken dat ’n persoon nie probleme sal hê nie. Dit verwys eerder na innerlike vrede. Hierdie innerlike vrede is moontlik “deur middel van” Jesus, wat belowe het om die heilige gees te stuur. Hierdie kragtige “helper” sou dit vir Jesus se dissipels moontlik maak om deur enige moeilike tye te kom wat hulle gehad het. – Johannes 14:16, 26, 27.

 “In die wêreld sal julle moeilike tye deurmaak, maar moenie bang wees nie!” Jesus was eerlik en het vir sy dissipels gesê dat hulle probleme sou hê, soos ongeregtigheid en vervolging (Matteus 24:9; 2 Timoteus 3:12). Maar hulle het rede gehad om ‘nie bang te wees nie’ of om “goeie moed” te hou. – Johannes 16:33.

 “Ek het die wêreld oorwin.” Hier verwys die woord “wêreld” na onregverdige mense wat nie ’n goedgekeurde verhouding met God het nie. b Eerste Johannes 5:19 sê: “Die hele wêreld is in die mag van die Duiwel”, of Satan. Daarom dink en doen mense van hierdie “wêreld” dinge wat teen God se wil is. – 1 Johannes 2:15-17.

 Satan en sy wêreld het probeer keer dat Jesus God se wil doen. Dit het ingesluit dat Jesus vir ander oor God leer en dat hy sy volmaakte lewe as ’n losprys gee (Matteus 20:28; Lukas 4:13; Johannes 18:37). Maar Jesus het nie toegelaat dat die wêreld sy denke beïnvloed nie, wat kon veroorsaak het dat hy God verwerp. Hy het tot die dood toe getrou gebly. Daarom kon Jesus sê dat hy die wêreld oorwin het en dat Satan, “die heerser van die wêreld”, “geen mag” oor hom gehad het nie. – Johannes 14:30.

 Jesus het sy eie voorbeeld gebruik om vir sy volgelinge te wys dat hulle ook getrou aan God kan bly selfs wanneer hulle lojaliteit getoets word. Jesus het eintlik gesê: “As ek die wêreld kan oorwin, kan julle ook.”

Konteks van Johannes 16:33

 Jesus het hierdie woorde die aand voor sy dood gesê. Omdat Jesus geweet het dat hy binnekort sou sterf, het hy die geleentheid gebruik om belangrike raad aan sy getroue apostels te gee. Hy het inligting ingesluit waaroor hulle ernstig moes nadink: Hulle sou hom nie meer sien nie, en hulle sou vervolg of selfs doodgemaak word (Johannes 15:20; 16:2, 10). Omdat dit sy apostels kon bang maak, het Jesus met die woorde in Johannes 16:33 afgesluit om hulle aan te moedig en te verseker.

 Net so kan Jesus se woorde en voorbeeld sy volgelinge vandag aanmoedig. Alle Christene kan getrou bly aan God al gaan hulle deur moeilike tye.

a Die Griekse uitdrukking “deur middel van my” kan ook as “in eenheid met my” vertaal word. Dit dra die gedagte oor dat Jesus se dissipels vrede kon hê deur in eenheid met hom te bly.

b Die woord “wêreld” het ’n soortgelyke betekenis in Johannes 15:19 en 2 Petrus 2:5.