Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Romeine 15:13 – “Mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede”

Romeine 15:13 – “Mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede”

 “Mag die God wat hoop gee, julle met alle vreugde en vrede vul omdat julle op hom vertrou, sodat julle hoop oorvloedig kan wees met die krag van die heilige gees.” – Romeine 15:13, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!” – Romeine 15:13, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Romeine 15:13

 Die apostel Paulus het met hierdie woorde sy wens uitgespreek dat God sy medegelowiges met “vreugde en vrede” moet vul. Hierdie goeie eienskappe word gekoppel aan die hoop wat God gee en die krag van die heilige gees.

 Ons leer oor die hoop wat God gee in sy geskrewe Woord, die Bybel. Romeine 15:4 sê: “Alles wat vroeër geskryf is [in die Bybel], is geskryf sodat ons daaruit kan leer, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting uit die Skrif hoop kan hê.” Die Bybel praat van God se belofte om die probleme op te los wat die lewe vandag soms hopeloos kan laat lyk. Dit sluit probleme soos armoede, ongeregtigheid, siekte en die dood in (Openbaring 21:4). God gaan Jesus Christus gebruik om hierdie beloftes te laat waar word. Dit is hoekom ons ’n hoop vir ’n beter toekoms kan hê. – Romeine 15:12.

 Ons kan net “oorvloedig” wees, of vaste vertroue hê, in hierdie godgegewe hoop wanneer ons in God vertrou. Hoe meer ons oor hom leer, hoe sterker sal ons oortuiging word dat hy heeltemal betroubaar is (Jesaja 46:10; Titus 1:2). ’n Persoon kan vreugde en vrede hê, selfs al gaan hy deur moeilike tye, as gevolg van die betroubare hoop wat God gee. – Romeine 12:12.

 Vrede, vreugde en hoop word ook gekoppel aan “die heilige gees”, wat God se krag in aksie is. a God gebruik heilige gees om sy beloftes te laat waar word, en dit gee ons hoop. Hierdie gees kan mense ook help om goeie eienskappe, soos vrede en vreugde, te ontwikkel. – Galasiërs 5:22.

Konteks van Romeine 15:13

 Die boek Romeine is eintlik ’n brief aan Christene wat in die stad Rome gebly het. Party van daardie Christene het ’n Joodse agtergrond gehad, en ander het nie. Paulus het hulle almal aangemoedig om hard daaraan te werk om in hulle denke en dade verenig te wees, al het hulle uit verskillende agtergronde en kulture gekom. – Romeine 15:6.

 Paulus het Christene in Rome daaraan herinner dat God lank gelede ’n tyd voorspel het wanneer mense van al die nasies Hom saam sou aanbid. Paulus het die Hebreeuse Geskrifte b vier keer aangehaal om hierdie feit te ondersteun (Romeine 15:9-12). Sy punt was dat mense van al die nasies saam met die Jode deur Christus se bediening bevoordeel kan word. Albei groepe het dieselfde hoop van God af. So almal in die gemeente in Rome, maak nie saak wat hulle agtergrond was nie, moes ‘mekaar verwelkom’, dit wil sê mekaar liefdevol of gasvry ontvang. – Romeine 15:7.

a Vir meer inligting, lees die artikel “Wat is die heilige gees?

b Die Hebreeuse Geskrifte word soms die Ou Testament genoem.