Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Kinders en slimfone – Deel 1: Moet my kind ’n slimfoon kry?

Kinders en slimfone – Deel 1: Moet my kind ’n slimfoon kry?

 Al hoe meer kinders het ’n slimfoon, a en baie van hulle gebruik hulle foon om toegang tot die Internet te kry wanneer hulle alleen is. Wat is die gevare wanneer jy toelaat dat jou kind ’n slimfoon kry? Wat is die voordele? Hoeveel tyd moet jy jou kind elke dag toelaat om dit te gebruik?

 Wat jy moet weet

 Die voordele

  •   Veiligheid vir kinders, gemoedsrus vir ouers. Bethany, ’n ma van twee tieners, sê: “Ons bly in ’n gevaarlike wêreld. Dit is baie belangrik dat kinders hulle ouers moet kan kontak.”

     ’n Ma met die naam Catherine vat dit ’n stap verder. Sy sê: “Party apps laat jou toe om jou kind se foon te gebruik om te sien waar hy is. As hy besig is om te bestuur, kan jy selfs sien hoe vinnig hy ry.”

  •   Hulp vir skoolwerk. ’n Ma met die naam Marie sê: “Kinders kry huiswerk deur middel van e-pos of teksboodskappe, en hulle kan met hulle onderwysers op dieselfde manier kommunikeer.”

 Die gevare

  •   Dit word te lank gebruik. Jongmense gebruik gewoonlik hulle foon ’n hele paar uur per dag. Om die waarheid te sê, ouers spandeer omtrent net soveel tyd aan hulle toestelle as wat hulle betekenisvolle tyd met hulle kinders spandeer. Een berader beskryf party gesinne as “vreemdelinge wat elke dag bymekaarkom, maar behep is met ’n klomp toestelle.” b

  •   Pornografie. Daar word geskat dat meer as die helfte van alle tieners elke maand na pornografie soek. Dit verbaas ’n mens nie omdat dit so maklik is om ’n mobiele toestel te gebruik om pornografie te kry. William, ’n pa van twee tieners, sê: “Ouers wat toelaat dat hulle kind ’n slimfoon het, gee hulle kind onwetend ’n manier om toegang te hê tot alle soorte pornografie waar die kind ook al gaan.”

  •   Afhanklikheid. Baie mense is emosioneel afhanklik van hulle foon. As hulle nie hulle foon kan kry nie, sê hulle dat hulle paniekerig, desperaat en selfs siek voel. Party ouers sê dat hulle kinders onbeskof raak wanneer hulle hulle toestel gebruik. Carmen sê: “Soms wanneer ek met my seun praat, rol hy sy oë vir my of sê hy iets disrespekvol omdat hy nie daarvan hou om onderbreek te word wanneer hy sy foon gebruik nie.”

  •   Nog gevare. Wanneer jy ’n slimfoon gebruik, is daar die gevare van kuberboelies en sexting. Dan is daar ook die gevaar van gesondheidsprobleme wat die gevolg is van ’n swak postuur en te min slaap. Party jongmense gebruik ’n app wat onskuldig lyk – met die voorkoms van ’n sakrekenaar byvoorbeeld – om dinge weg te steek wat hulle nie wil hê hulle ouers moet sien nie.

     Daniel, die pa van ’n tienerdogter, som dit so op: “’n Slimfoon maak die deur oop na alles wat op die Internet beskikbaar is – goed en sleg.”

 Wat jy moet vra

  •   ‘Het my kind ’n slimfoon nodig?’

     Die Bybel sê: “Die verstandige persoon dink mooi voordat hy iets doen” (Spreuke 14:15). Met dit in gedagte vra jouself:

     ‘Is veiligheid of ander faktore genoeg rede om ’n slimfoon vir my kind te gee? Het ek mooi gedink oor die voordele en die gevare? Is daar ’n ander opsie eerder as om ’n slimfoon te gebruik?’

     ’n Pa met die naam Todd sê: “Dit is nog steeds moontlik om selfone te koop wat nie slimfone is nie, en dit gee jou ’n manier om jou kind te kontak deur middel van SMS’e of deur hulle te bel. Jy sal ook baie geld spaar.”

  •   ‘Is my kind reg vir die verantwoordelikheid?’

     Die Bybel sê “Die hart van die wyse lei hom op die regte weg” (Prediker 10:2). Met dit in gedagte vra jouself:

     ‘Hoe weet ek dat ek my kind kan vertrou? Praat my kind openlik met my? Is my kind eerlik met my, byvoorbeeld, steek hy dalk weg wie sy vriende is? Het hy alreeds selfbeheersing wanneer hy die TV, ’n tablet of ’n rekenaar gebruik?’ ’n Ma met die naam Serena sê: “’n Slimfoon is baie nuttig, maar dit kan ook baie gevaarlik wees. Dink aan die verantwoordelikheid wat jy vir jou kind gee terwyl hy nog baie onervare is.”

  •   ‘Is ek reg vir die verantwoordelikheid?’

     Die Bybel sê: “Lei ’n kind op in die weg wat hy moet volg” (Spreuke 22:6). Met dit in gedagte vra jouself:

     ‘Weet ek genoeg oor die foon om my kind te help om moontlike gevare te verstaan en te vermy? Weet ek as ouer hoe om beperkings op die foon op te stel? Hoe sal ek my kind help om goeie besluite te maak wanneer hy of sy die foon gebruik?’ Daniel, ’n pa wat vroeër aangehaal is, sê: “Ek het al baie keer gesien hoe ouers hulle kind ’n slimfoon gee en dan nie seker maak of die kind dit verstandig gebruik nie.”

 Die slotsom: Kinders moet geleer word om ’n slimfoon verantwoordelik te gebruik. Die boek Indistractable sê dat “die meeste kinders nie die versoeking kan weerstaan om baie tyd op hierdie toestelle te spandeer nie. Dit is veral die geval as hulle ouers nie bewus is van wat hulle doen of as daar nie behoorlike toesig is nie.”

a In hierdie artikel verwys die woord “slimfoon” na ’n selfoon wat Internettoegang het.

b Uit die boek Disconnected, deur Thomas Kersting.