Spring na inhoud

Wat sê die Bybel oor pandemies?

Wat sê die Bybel oor pandemies?

Die Bybel se antwoord

 Die Bybel het voorspel dat daar vreeslike siektes (wydverspreide siektes, insluitende pandemies) gedurende die laaste dae sou wees (Lukas 21:11). Sulke pandemies is nie ’n straf van God nie. Die feit is, God sal deur middel van sy Koninkryk binnekort ’n einde maak aan alle gesondheidsprobleme, insluitende pandemies.

 Het die Bybel pandemies voorspel?

 Die Bybel voorspel nie spesifieke pandemies of siektes, soos COVID-19, vigs of die Spaanse griep, nie. Maar dit voorspel wel “vreeslike siektes” en “dodelike plae” (Lukas 21:11; Openbaring 6:8). Hierdie gebeure is deel van die teken van “die laaste dae”, wat ook “die einde van die wêreldstelsel” genoem word. – 2 Timoteus 3:1; Matteus 24:3.

 Het God mense al ooit met siekte gestraf?

 Die Bybel beskryf ’n paar gevalle waar God siekte gebruik het om mense te straf. Hy het byvoorbeeld veroorsaak dat party melaatsheid gekry het (Numeri 12:1-16; 2 Konings 5:20-27; 2 Kronieke 26:16-21). Maar hierdie gevalle was nie pandemies wat na onskuldige mense versprei het nie. Dit was eerder spesifieke oordele teen mense wat heel duidelik ongehoorsaam aan God was.

 Is vandag se pandemies ’n straf van God?

 Nee. Party mense sê dat God pandemies en ander siektes gebruik om mense vandag te straf. Maar hierdie gedagte word nie deur die Bybel ondersteun nie. Hoekom nie?

 Om maar een ding te noem, party van God se aanbidders – in die verlede en in ons tyd – is al deur siekte getref. Byvoorbeeld, die getroue man Timoteus het “dikwels siek” geword (1 Timoteus 5:23). Maar die Bybel sê nie dat dit ’n teken was dat hy nie God se guns gehad het nie. Net so vandag kry party getroue knegte van God siektes. Baie keer is hierdie mense net op die verkeerde plek op die verkeerde tyd. – Prediker 9:11.

 Die Bybel sê ook dat God se tyd nog nie gekom het om die goddeloses te straf nie. Ons lewe eerder “in ’n dag van redding” – dit wil sê ’n tyd wanneer God ’n liefdevolle uitnodiging aan alle mense gee om nader aan hom te kom en om gered te word (2 Korintiërs 6:2). Een manier hoe hy hierdie uitnodiging gee, is deur middel van ’n wêreldwye predikingswerk met ’n positiewe boodskap – “die goeie nuus van die Koninkryk”. – Matteus 24:14.

 Sal daar ooit ’n einde aan pandemies wees?

 Ja. Die Bybel voorspel ’n tyd in die nabye toekoms wanneer niemand siek sal word nie. God sal deur middel van sy Koninkryk ’n einde maak aan gesondheidsprobleme (Jesaja 33:24; 35:5, 6). Swaarkry, pyn en die dood sal nie meer daar wees nie (Openbaring 21:4). En hy sal dié wat gesterf het, weer lewend maak sodat hulle goeie gesondheid onder volmaakte omstandighede hier op die aarde kan geniet. – Psalm 37:29; Handelinge 24:15.

 Bybelverse oor siektes

 Matteus 4:23: “Toe het [Jesus] deur die hele Galilea gegaan en in hulle sinagoges geleer en die goeie nuus van die Koninkryk verkondig en elke soort siekte en elke soort kwaal onder die volk genees.”

 Betekenis: Jesus se wonderwerke het op ’n klein skaal gewys wat God se Koninkryk binnekort vir die hele mensdom sal doen.

 Lukas 21:11: ‘Daar sal vreeslike siektes wees.’

 Betekenis: Wydverspreide gesondheidsprobleme is deel van die teken van die laaste dae.

 Openbaring 6:8: “En ek het gekyk en ’n vaal perd gesien, en die een wat daarop sit, het die naam Dood gehad. En die Graf het hom gevolg en was reg agter hom. En hulle het gesag . . . ontvang, om dood te maak met . . . dodelike plae.”

 Betekenis: Die profesie oor die vier perderuiters van die Apokalips wys dat pandemies in ons tyd sou gebeur.