Spring na inhoud

Het Jesus ná sy opstanding ’n vleeslike of ’n geestelike liggaam gehad?

Het Jesus ná sy opstanding ’n vleeslike of ’n geestelike liggaam gehad?

Die Bybel se antwoord

 Die Bybel sê dat Jesus “doodgemaak is in die vlees, maar lewend gemaak [opgewek] is in die gees”.—1 Petrus 3:18; Handelinge 13:34; 1 Korintiërs 15:45; 2 Korintiërs 5:16.

 Jesus se eie woorde het getoon dat hy nie met sy liggaam van vlees en bloed opgewek sou word nie. Hy het gesê dat hy sy “vlees vir die lewe van die wêreld” sou gee, as ’n losprys vir die mensdom (Johannes 6:51; Matteus 20:28). As hy weer sy vleeslike liggaam teruggeneem het toe hy opgewek is, sou die losprysoffer nie meer geldig gewees het nie. Maar dit is nie die geval nie, want die Bybel sê dat hy sy vlees en bloed “eens en vir altyd” geoffer het.—Hebreërs 9:11, 12.

As Jesus met ’n geestelike liggaam opgewek is, hoe is dit moontlik dat sy dissipels hom gesien het?

  •  Geesskepsele kan ’n menslike vorm aanneem. Byvoorbeeld, engele wat dit in die verlede gedoen het, het selfs saam met mense geëet en gedrink (Genesis 18:1-8; 19:1-3). Maar hulle was nog steeds geesskepsele en kon na die geesteryk terugkeer.—Rigters 13:15-21.

  •  Ná sy opstanding het Jesus ook tydelik ’n menslike vorm aangeneem, net soos engele dit voorheen gedoen het. As ’n geesskepsel kon hy egter enige tyd verskyn en verdwyn (Lukas 24:31; Johannes 20:19, 26). Die vleeslike liggame wat hy aangeneem het, het nie dieselfde gelyk nie. Selfs Jesus se hegte vriende kon hom dus net herken aan wat hy gesê en gedoen het.—Lukas 24:30, 31, 35; Johannes 20:14-16; 21:6, 7.

  •  Toe Jesus aan die apostel Tomas verskyn het, het hy ’n liggaam met wondmerke aangeneem. Hy het dit gedoen om Tomas se geloof te versterk, aangesien Tomas getwyfel het dat Jesus opgewek is.—Johannes 20:24-29.