Spring na inhoud

Is daar “sewe doodsondes”?

Is daar “sewe doodsondes”?

Die Bybel se antwoord

 Die Bybel praat nie spesifiek van sewe doodsondes nie. Maar dit leer wel dat ’n persoon nie gered sal word as hy ernstige sondes beoefen nie. Die Bybel verwys byvoorbeeld na sulke ernstige sondes soos seksuele onsedelikheid, afgodediens, spiritisme, woedeuitbarstings en dronkenskap as “die werke van die vlees”. Dit sê verder “dat dié wat sulke dinge beoefen, God se koninkryk nie sal beërf nie”.—Galasiërs 5:19-21. a

Bevat die Bybel nie ’n lys van sewe dinge wat God haat nie?

 Ja, dit bevat so ’n lys. Volgens die Nuwe Afrikaanse BybelvertalingSpreuke 6:16: “Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy ’n afsku het.” Maar die lys van sondes in Spreuke 6:17-19 wat hierop volg, is nie bedoel om volledig te wees nie. Dit beskryf eerder basiese kategorieë wat alle soorte verkeerde dade verteenwoordig, insluitende die dinge wat ons dink, sê en doen. b

Waarna verwys die woord “doodsonde”?

 Party vertalings gebruik die uitdrukking “sonde wat tot die dood lei” in 1 Johannes 5:16 om na doodsondes te verwys. Die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling sê byvoorbeeld: “Daar is sonde wat tot die dood lei.” Die uitdrukking “sonde wat tot die dood lei” kan ook vertaal word as ‘sonde wat die dood meebring’. Wat is die verskil tussen ‘sonde wat die dood meebring’ en ‘sonde wat nie die dood meebring nie’?—1 Johannes 5:16.

 Die Bybel sê duidelik dat alle sonde tot die dood lei. Maar deur middel van die losprysofferande van Jesus Christus kan ons van sonde en die dood gered word (Romeine 5:12; 6:23). ’n ‘Sonde wat die dood meebring’ is dus ’n sonde wat nie deur Christus se losprys gedek word nie. ’n Persoon wat hierdie soort sonde pleeg, is so vasbeslote om ’n sondige weg te volg dat hy nooit sy gesindheid of gedrag sal verander nie. Die Bybel verwys ook na hierdie soort sonde as ’n sonde wat “nie vergewe [sal] word nie”.—Matteus 12:31; Lukas 12:10.

[Venster]

a Die 15 voorbeelde van ernstige sondes in Galasiërs 5:19-21 is nie ’n volledige lys nie, want nadat dit opgenoem is in die Bybel, volg die woorde “en soortgelyke dinge”. Die leser word dus aangespoor om sy onderskeidingsvermoë te gebruik om “soortgelyke dinge” te identifiseer wat dalk nie op die lys is nie.

b Spreuke 6:16 bevat ’n voorbeeld van ’n Hebreeuse idioom wat die tweede syfer beklemtoon deur dit met die eerste syfer te vergelyk. Daar is baie voorbeelde hiervan in die Bybel.—Job 5:19; Spreuke 30:15, 18, 21.