Spring na inhoud

IS DIT ONTWERP?

Die houtkappermier se antenna-skoonmaker

Die houtkappermier se antenna-skoonmaker

 ’n Insek moet skoon wees om te kan vlieg, klim en om ’n idee te vorm van hoe sy omgewing lyk. ’n Vuil antenna maak dit vir ’n insek byvoorbeeld moeiliker om sy rigting te kry, om te kommunikeer en om geure te herken. Daarom “sal jy nooit ’n vuil insek kry nie”, sê die soöloog Alexander Hackmann. Volgens hom het hierdie miere ’n uitstekende manier uitgevind om hulleself skoon te maak.

 Dink hieraan: Hackmann en sy kollega’s het gekyk na die manier waarop ’n soort houtkappermier (Camponotus rufifemur) sy antennas skoonmaak. Hulle het gesien dat die mier stukkies vuilheid van verskillende grotes verwyder van sy antennas. Hy doen dit deur sy been te buig om ’n soort hakie te vorm, en dan trek hy elke antenna deur die hakie. Growwe haartjies in die hakie raak van die grootste stukkies vuilheid ontslae. Kleiner stukkies word verwyder deur ’n fyn kammetjie met gapings wat presies so wyd is soos die haartjies op die mier se antennas. Dan word die kleinste deeltjies, wat tot 1/80ste van die deursnee van ’n mensehaar is, deur die haartjies van ’n selfs fyner kammetjie verwyder.

 Kyk hoe ’n houtkappermier sy antennas skoonmaak

 Hackmann en sy span glo dat die meganisme wat miere gebruik om hulle antennas skoon te maak, in verskeie industrieë toegepas kan word. Dit sou byvoorbeeld gebruik kan word vir stelsels wat dinge skoonhou tydens die vervaardiging van delikate mikro-elektroniese komponente en halfgeleiers, waar selfs net ’n klein bietjie vuilheid tot fabrieksfoute kan lei.

 Wat dink jy? Het die houtkappermier se doeltreffende antenna-skoonmaker deur evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?