Spring na inhoud

IS DIT ONTWERP?

Die akrobatiese toertjies van die vrugtevlieg

Die akrobatiese toertjies van die vrugtevlieg

 Enigiemand wat al probeer het om ’n vlieg dood te slaan, weet hoe moeilik dit is. Hierdie insekte is blitsvinnig, en daarom kan ’n mens hulle gewoonlik nie vang nie.

 Wetenskaplikes het ontdek dat een soort vlieg, die vrugtevlieg, soos ’n vegvliegtuig kan draai, maar in ’n fraksie van ’n sekonde. Professor Michael Dickinson sê: Wanneer hulle gebore word, “kan hulle soos ’n professionele vlieënier vlieg. Dit is soos om ’n pasgebore baba in die sitplek van ’n vegvlieënier te sit, en dan weet hy presies wat om te doen.”

 Navorsers het die vlieg se akrobatiese toertjies op kamera opgeneem, en hulle het gesien dat die vlieg sy vlerke 200 keer per sekonde klap. Maar tog is ’n enkele vlerkslag genoeg vir hom om dadelik van rigting te verander en weg te kom.

 En wat van sy reaksietyd? Navorsers het gevind dat hierdie vlieë 50 keer vinniger op gevaar kan reageer as wat ’n mens sy oog kan knip. “Die vlieg doen ’n ingewikkelde berekening in ’n kort tydjie om vas te stel waar die gevaar lê en presies in watter rigting hy moet vlieg om weg te kom”, verduidelik Dickinson.

 Net hoe die piepklein brein van die vrugtevlieg dit kan doen, is ’n groot raaisel wat navorsers wil oplos.

Die vrugtevlieg kom weg van gevaar deur in ’n fraksie van ’n sekonde van rigting te verander

 Wat dink jy? Het die akrobatiese toertjies van die vrugtevlieg deur evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?