Spring na inhoud

Het Jehovah se Getuies die Bybel verander om by hulle oortuigings te pas?

Het Jehovah se Getuies die Bybel verander om by hulle oortuigings te pas?

 Nee, ons het nie. Inteendeel, wanneer ons besef het dat ons oortuigings nie heeltemal met die Bybel ooreenstem nie, het ons ons oortuigings verander.

 Lank voordat ons die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in 1950 begin uitgee het, het ons die Bybel ondersoek. Ons het alle beskikbare vertalings gebruik en het ons oortuigings in ooreenstemming daarmee gevorm. Kyk na ’n paar voorbeelde van oortuigings wat Jehovah se Getuies al lank huldig, en besluit self of dit strook met wat die Bybel werklik leer.

  1.   Wat ons glo: God is nie ’n drie-eenheid nie. Zion’s Watch Tower van Julie 1882 het gesê: “Ons lesers is daarvan bewus dat ons, hoewel ons glo aan Jehovah en Jesus, en die heilige Gees, die leer dat hulle drie Gode in een persoon is of, soos sommige dit stel, een God in drie persone is, as heeltemal onskriftuurlik verwerp.”

      Wat die Bybel sê: “Jehovah ons God is een Jehovah” (Deuteronomium 6:4, The Holy Bible, deur Robert Young). “Tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom” (1 Korintiërs 8:6, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Jesus het self gesê: “My Vader [is] groter . . . as Ek.”—Johannes 14:28, OAB.

  2.   Wat ons glo: Daar is geen ewige foltering in ’n helse vuur nie. Die titel van Zion’s Watch Tower van Junie 1882 was “Die loon van die sonde is die dood”, gegrond op Romeine 6:23 in die King James Version. Hierdie tydskrif het gesê: “Hoe duidelik en eenvoudig is hierdie verklaring tog. Hoe vreemd is dit tog dat so baie mense wat sê dat hulle die Bybel as die Woord van God aanvaar, hierdie uitdruklike verklaring bly weerspreek en bevestig dat hulle glo, en dat die Bybel leer, dat die loon van die sonde ewige lewe in foltering is.”

      Wat die Bybel sê: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4, 20, OAB). Die finale straf vir diegene wat God teëstaan, is nie ewige foltering nie, maar “ewige vernietiging”.—2 Tessalonisense 1:9, King James Version.

  3.   Wat ons glo: God se Koninkryk is ’n werklike regering, nie net ’n hartstoestand nie. Zion’s Watch Tower van Desember 1881 het aangaande God se Koninkryk gesê: “Die oprigting van hierdie koninkryk sal natuurlik die omverwerping van al die koninkryke op die aarde beteken.”

      Wat die Bybel sê: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44, OAB.

Maak Jehovah se Getuies net op die Nuwe Wêreld-vertaling staat om hulle oortuigings te steun?

 Nee, ons gebruik nog steeds baie vertalings van die Bybel in ons predikingswerk. Trouens, al voorsien ons eksemplare van die Nuwe Wêreld-vertaling kosteloos as deel van ons gratis Bybelstudieprogram, studeer ons ook met graagte met diegene wat verkies om ander vertalings te gebruik.