Spring na inhoud

Beoefen Jehovah se Getuies geloofsvermenging?

Beoefen Jehovah se Getuies geloofsvermenging?

 As Jehovah se Getuies hou ons daarvan om met mense van alle godsdienste oor die Bybel te praat. Maar ons beoefen nie geloofsvermenging in die sin dat ons saam met persone sal aanbid wat anders as ons glo nie. Die Bybel wys dat ware Christene “harmonies saamgeheg is”, en ’n belangrike kenmerk van hierdie harmonie is eenheid van geloof (Efesiërs 4:​16; 1 Korintiërs 1:10; Filippense 2:2). Dit behels meer as om net saam te stem oor die waarde van goeie eienskappe soos liefde, medelye en vergewensgesindheid. Wat ons glo, is op akkurate kennis van die Bybel gegrond. Sonder hierdie kennis sal ons geloof nutteloos wees.​—Romeine 10:​2, 3.

 Die Bybel vergelyk mense met verskillende geloofsoortuigings wat saam aanbid, met diere wat onder ’n ongelyke juk is. Hierdie soort verbintenis sal nadelig vir ’n Christen se geloof wees (2 Korintiërs 6:​14-​17). Daarom het Jesus nie sy dissipels toegelaat om geloofsvermenging te beoefen nie (Matteus 12:30; Johannes 14:6). God se Wet deur Moses het ook die eertydse Israeliete verbied om saam met die nasies rondom hulle te aanbid (Eksodus 34:11-​14). Getroue Israeliete het later geweier om hulp te aanvaar omdat dit tot ’n godsdiensverbintenis sou lei met mense van ander gelowe.—Esra 4:​1-3.

Neem Jehovah se Getuies deel aan gesprekke met persone van ander godsdienste?

 Ja. Soos die apostel Paulus wil ons graag verstaan wat “die meeste” mense in ons bediening dink en glo (1 Korintiërs 9:​19-​22). Wanneer ons met mense praat, probeer ons altyd die Bybel se raad volg deur “diep respek” vir ander te hê.​—1 Petrus 3:15.