Spring na inhoud

Waarom neem Jehovah se Getuies nie deel aan oorloë nie?

Waarom neem Jehovah se Getuies nie deel aan oorloë nie?

 Jehovah se Getuies neem nie deel aan oorloë nie om die volgende redes:

  1.   Gehoorsaamheid aan God. Die Bybel sê dat God se knegte ‘van hulle swaarde ploegskare sal smee’ en ‘nie meer sal leer om oorlog te voer nie’.—Jesaja 2:4.

  2.   Gehoorsaamheid aan Jesus. Jesus het vir die apostel Petrus gesê: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matteus 26:52). Hierdeur het Jesus getoon dat sy volgelinge nie die wapen sou opneem nie.

     Jesus se dissipels gehoorsaam sy opdrag om “geen deel van die wêreld” te wees nie deur streng neutraal te bly ten opsigte van politieke aangeleenthede (Johannes 17:16). Hulle protesteer nie teen militêre optrede of meng in met diegene wat besluit om in die weermag te dien nie.

  3.   Liefde vir ander. Jesus het sy dissipels beveel dat hulle “mekaar moet liefhê” (Johannes 13:34, 35). Sodoende sou hulle ’n internasionale broederskap vorm waarin niemand ooit teen sy broer of suster oorlog voer nie.—1 Johannes 3:10-12.

  4.   Die voorbeeld van vroeë Christene. Die Encyclopedia of Religion and War sê: “Die vroegste volgelinge van Jesus het oorlog en militêre diens verwerp” omdat hulle besef het dat hierdie gebruike “onversoenbaar [is] met Jesus se etiek oor liefde en die opdrag om jou vyande lief te hê”. Die Duitse teoloog Peter Meinhold het van daardie vroeë dissipels van Jesus gesê: “Om ’n Christen en ’n soldaat te wees, is as onverenigbaar beskou.”

Bydrae tot die gemeenskap

 Jehovah se Getuies is nuttige lede van die gemeenskap en hou geen bedreiging in vir die veiligheid van die lande waar hulle woon nie. Ons respekteer die gesag van die regering, in ooreenstemming met hierdie Bybelgebooie:

  •   “[Wees] onderdanig . . . aan die hoër owerhede.”—Romeine 13:1.

  •   “Betaal dan aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort.”—Matteus 22:21.

 Ons gehoorsaam dus die wet, betaal ons belasting en ondersteun die regering se pogings om na mense se welsyn om te sien.