Spring na inhoud

Tagalog-byeenkoms in Rome​—“’n Groot familiereünie!”

Tagalog-byeenkoms in Rome​—“’n Groot familiereünie!”

Duisende Tagalog-sprekende Jehovah se Getuies het meer as 10 000 kilometer van die Filippyne af—die tuiste van die Tagalog-volk​—in Rome, Italië, bymekaargekom vir ’n unieke byeenkoms wat van 24-26 Julie 2015 gehou is.

Volgens een skatting woon meer as 850 000 Filippyners nou in Europa. Gevolglik hou ongeveer 60 gemeentes en kleiner groepe van Jehovah se Getuies in Europa vergaderinge in Tagalog, en hulle preek vir Filippyners in hulle omgewing.

Al hierdie gemeentes en groepe het vir die eerste keer in Rome bymekaargekom vir ’n driedaagse byeenkoms in hulle eie taal. Die 3 239 wat teenwoordig was, was baie bly omdat broer Mark Sanderson, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies wat voorheen in die Filippyne gedien het, elke dag die slottoespraak gehou het.

‘Dit het my hart geraak’

Maak dit ’n verskil as iemand ’n byeenkoms in sy moedertaal eerder as in ’n tweede taal bywoon? “Ek verstaan ’n bietjie Engels,” sê ’n enkelma met die naam Eva, “maar danksy hierdie Tagalog-byeenkoms het Bybelleringe my hart geraak.” Om geld te spaar vir die reis van haar tuiste in Spanje na Italië, het sy en haar twee kinders besluit dat hulle net een keer ’n maand sou gaan uiteet en nie meer elke week nie. “Dit was die opoffering werd omdat ek alles verstaan het by hierdie byeenkoms!” sê Eva.

Jasmin, wat in Duitsland woon, het verlof gevra om die byeenkoms by te woon. “Maar net voordat ek vertrek het,” vertel sy, “is daar vir my gesê dat ek nie kan gaan nie omdat daar werk is wat gedoen moet word. Ek het kalm gebly, tot Jehovah gebid en my baas genader. Ons kon die werk herorganiseer sodat ek die byeenkoms kon bywoon! Dit was ongelooflik om die geleentheid te hê om saam met ander Filippynse broers en susters van regoor Europa te wees.”

Talle Filippyners in Europa verlang natuurlik nie net na hulle geboorteland nie, maar ook na hulle vriende wat na ander dele van Europa getrek het. Die byeenkoms het baie van hierdie vriende gehelp om mekaar as geestelike broers en susters te leer ken (Matteus 12:48-50). Fabrice sê: “Dit het my hart met vreugde gevul om mense te sien wat ek ken!” Aan die einde van die byeenkoms het een suster bly uitroep: “Dit was ’n groot familiereünie!”