Spring na inhoud

Watter uitwerking sal ’n Koninkryksaal op jou gemeenskap hê?

Watter uitwerking sal ’n Koninkryksaal op jou gemeenskap hê?

Meer as ’n 100 jaar lank bou en ontwerp Jehovah se Getuies hulle eie plekke waar hulle bymekaarkom. Word een van hierdie sentrums van aanbidding, wat ’n Koninkryksaal genoem word, in jou gebied gebou? Hoe kan ’n Koninkryksaal jou gemeenskap bevoordeel?

Flowery Branch, Georgia, VSA

“’n Aangename geskenk aan die gemeenskap”

Koninkryksale word ontwerp om die gebied mooi te laat lyk. Jason, wat help met die koördinering van die bou van Koninkryksale in die Verenigde State, sê: “Ons doel is om elke Koninkryksaal een van die mooiste en mees gerespekteerde geboue in die omgewing te maak.” ’n Getuie wat ’n argitek is en saam met die ontwerpspan werk, sê: “Ons wil hê dat die finale produk ’n aangename geskenk aan die gemeenskap moet wees en dat dit ’n positiewe invloed op die geboue rondom dit moet hê.”

Konstruksiewerkers wat die Koninkryksale bou, is Jehovah se Getuies. Hulle doelwit is om hoëgehalte-geboue te bou, en hierdie werk word dikwels deur ander mense raakgesien. Byvoorbeeld, die plaaslike bou-inspekteur van ’n projek wat onlangs in Richmond, Texas, VSA, gedoen is, het gesê dat die gehalte van die Koninkryksaal se dak die beste is wat hy nog ooit gesien het. Op die eiland Jamaika het ’n bou-inspekteur ’n groep nuwe inspekteurs na ’n Koninkryksaalbouprojek geneem. Hy het vir hulle gesê: “Julle hoef nooit oor hierdie mense bekommerd te wees nie. Jehovah se Getuies doen presies wat die bouplan sê en hulle doen selfs meer as wat die bouregulasies vereis.” ’n Bou-inspekteur in ’n stad in Florida, VSA, het gesê: “Ek het al hospitale en groot regeringsprojekte geïnspekteer, maar nie een van die projekte was so goed georganiseerd soos hierdie een nie. Julle doen goeie werk.”

Concession, Zimbabwe

’n Positiewe uitwerking op die gemeenskap

Die vergaderinge by die Koninkryksaal het ’n positiewe uitwerking op die mense wat dit bywoon. Dit het dié wat dit bywoon, gehelp om beter pa’s, ma’s en kinders te word. Rod, wat saam met ’n span werk wat Koninkryksale ontwerp, sê: “Elke Koninkryksaal is ’n onderrigsentrum wat hoë sedelike standaarde bevorder, wat tot alle gemeenskappe se voordeel is. Dit is ’n plek waar jy hulp kan kry wanneer jy deur moeilike tye gaan. Binne sal jy ’n liefdevolle en ’n vriendelike omgewing kry waar almal welkom voel. Dit help mense wat vertroosting nodig het en meer oor God wil leer.”

Die mense wat by Koninkryksale bymekaarkom, gee om vir hulle bure, en hulle is gou om te help wanneer ’n ramp tref. Byvoorbeeld, in 2016 nadat orkaan Matthew die Bahamas getref het, het Jehovah se Getuies 254 huise reggemaak. In een buurt het ’n 80-jarige inwoner met die naam Violet se huis oorstroom. Sy het na ’n span Getuies gegaan wat besig was om noodlenigingswerk te doen. Sy het aangebied om hulle te betaal vir enige hulp wat hulle haar kon gee. Hulle het nie haar geld gevat nie, maar hulle het wel haar dak reggemaak sodat dit nie meer lek nie. Toe het hulle nuwe pleisterbord gehang en afgewerk om die plafon in die sitkamer reg te maak. Daarna het Violet almal op die span ’n drukkie gegee en vir hulle dankie gesê. Sy het uitgeroep: “Julle is regtig God se mense!”

Bad Oeynhausen, Noord-Ryn-Wesfale, Duitsland

‘Ons is bly die Koninkryksaal is in ons gemeenskap’

Jehovah se Getuies het ’n program om seker te maak dat Koninkryksale in ’n baie goeie toestand gehou word. Hulle lei plaaslike lede van die gemeente op om hulle eie saal in stand te hou. Dit het goed uitgewerk. Byvoorbeeld, in ’n klein gemeenskap in Arizona, het ’n vrou ’n uitnodiging na ’n vergadering by ’n Koninkryksaal aanvaar. Sy het gesê dat die saal mooi netjies lyk en was beïndruk om te hoor van die instandhoudingsprogram. Die program het ingesluit dat ’n gebou wat reeds in ’n goeie toestand is, verbeter word. Die vrou was ’n skrywer vir die dorpie se plaaslike nuusbrief, en later was daar ’n artikel in die nuusbrief oor hoe goed die Koninkryksaal in stand gehou word. Die artikel het afgesluit: “Ons is bly die . . . Koninkryksaal is in ons gemeenskap.”

Daar is Koninkryksale in gemeenskappe regoor die wêreld. Ons wil jou graag uitnooi om ’n Koninkryksaal te besoek. Jy kan seker wees dat jy verwelkom sal word.