Spring na inhoud

Die goeie nuus word in die plaaslike tale van Ierland en Brittanje verkondig

Die goeie nuus word in die plaaslike tale van Ierland en Brittanje verkondig

Jehovah se Getuies wend spesiale pogings aan om mense te bereik wat die plaaslike tale van Ierland en Brittanje praat. a Behalwe Engels sluit hierdie tale Iers, Skots-Gaelies en Wallies in.

In September 2012 het ons die herontwerpte jw.org-webwerf in baie talle vrygestel, insluitende Iers en Wallies. Skots-Gaelies het in Augustus 2014 beskikbaar geword. Ons druk ook ’n verskeidenheid Bybellektuur in hierdie tale. Hoe het mense op hierdie poging gereageer?

’n Predikant het ’n Bybeltraktaat in Skots-Gaelies aanvaar, dit onmiddellik hardop gelees en begin huil. Waarom het dit hom so geraak? Hy was verbaas oor die hoë standaard van vertaling en het uitgeroep: “Wie het dit vertaal? Dit is baie goed!”

Sowat 750 mense het jw.org in Skots-Gaelies besoek binne die eerste maand nadat dit vrygestel is.

’n Dosent aan die Nasionale Universiteit van Ierland, Galway, het vir ’n Getuie gesê dat hy nie in godsdiens belangstel nie. Maar toe hy uitvind dat hy die brosjure Die Bybel—Wat is die boodskap daarin? in Iers kan kry, het hy vir ’n eksemplaar gevra. Hy het gesê dat almal Bybellektuur in hulle moedertaal behoort te kan kry, en hy het Jehovah se Getuies geprys vir die werk wat hulle gedoen het om lektuur te voorsien vir mense wat Iers praat.

’n Bejaarde vrou was baie bly toe sy ’n Bybelbrosjure in Wallies ontvang het, en het gesê: “Om eerlik te wees, as julle dit vir my in Engels aangebied het, sou ek dit waarskynlik nie geneem het nie, maar dit is so wonderlik om dit in my eie taal te hê.”

In Augustus 2014 het ons meer materiaal in Wallies op jw.org begin sit. Dit is noemenswaardig dat die aantal mense wat ons webwerf besoek om materiaal in Wallies te lees, gedurende daardie maand meer as verdubbel het.

“Ons praat dieselfde taal”

Nadat Jesus die Skrif aan twee van sy dissipels verduidelik het, het hulle opgewonde gesê: “Het ons hart nie gebrand toe hy op die pad met ons gepraat het, toe hy die Skrif ten volle vir ons geopen [oftewel, verduidelik] het nie?” (Lukas 24:32). Dit het dikwels ’n groot uitwerking op mense se lewens wanneer Bybelwaarhede duidelik in hulle eie taal vir hulle uiteengesit word.

’n Man met die naam Emyr, van Wallis, is getroud met een van Jehovah se Getuies, maar het nooit saam met sy vrou aanbid nie. Hy het toe ’n vriendskap opgebou met ’n Getuie met die naam Russell. Emyr verduidelik wat sy gesindheid laat verander het: “Ek het besluit om ’n ernstige studie van die Bybel te maak toe Russell na my toe gekom het met die boek Wat leer die Bybel werklik? b Hy het vir my ’n eksemplaar gegee en gesê: ‘Hierdie boek is in Wallies. En ons gaan dit saam studeer. Ons begin sommer nou.’” Waarom het Emyr Russell se reguit aanbod aanvaar? Hy verduidelik: “Wel, ons praat dieselfde taal, ons het dieselfde kultuur en ons verstaan mekaar.” Emyr se hart het “gebrand” toe hy besprekings oor die Bybel in sy moedertaal, Wallies, gehad het omdat hy die verduidelikings maklik kon verstaan.

Jehovah se Getuies sal voortgaan om mense te help om van God te leer in hulle moedertaal, die taal wat hulle hart raak.

a Brittanje verwys hier na Engeland, Skotland en Wallis.

b ’n Bybelstudiehulp wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word.