Spring na inhoud

Vertaalwerk in Mexiko en Sentraal-Amerika

Vertaalwerk in Mexiko en Sentraal-Amerika

In Mexiko en Sentraal-Amerika vertaal ongeveer 290 vertalers, wat in ses lande woon, Bybelpublikasies in meer as 60 tale. Waarom al die moeite? Wel, wanneer mense Bybellektuur ontvang in ’n taal wat hulle maklik kan verstaan, word hulle hart makliker geraak.—1 Korintiërs 14:9.

In ’n poging om die gehalte van die vertaling selfs verder te verhoog, is party vertalers wat by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Mexikostad gewerk het, verskuif na kantore in gebiede waar hulle taal gepraat word. Hoe het dit gehelp? Die vertalers het meer kontak met die moedertaalsprekers van die taal waarin hulle die publikasies vertaal, en dit help hulle om ’n vertaling te lewer wat maklik verstaanbaar is.

Hoe voel die vertalers oor die verandering? Federico, wat Guerrero-Nahuatl vertaal, sê: “Gedurende die byna tien jaar dat ek in Mexikostad was, het ek net een gesin teëgekom wat my taal praat. Maar nou praat byna almal in die dorpe naby die vertaalkantoor dit!”

Karin, wat Nederduits by die kantoor in die Mexikaanse staat Chihuahua vertaal, sê: “Om hier onder die Mennoniete te woon, het my gehelp om op hoogte te bly met die taal wat hulle praat. Ons woon en werk in ’n klein dorpie, en wanneer ek by die venster uitkyk, kan ek die mense sien wat sal baat vind by die vertaalwerk wat ons hier doen.”

Neyfi, wat nou by die vertaalkantoor in Mérida, Mexiko, woon, sê: “Wanneer ons Bybelstudies in Maja hou, word ons bewus van uitdrukkings wat nie maklik is vir die Majas om te verstaan nie. Ons soek dan maniere om hierdie uitdrukkings natuurliker weer te gee in ons vertaalwerk.”

Hoe help dit diegene wat die vertaalde materiaal ontvang? Kyk na net een voorbeeld: Elena, wie se moedertaal Tlapaneeks is, het ongeveer 40 jaar lank die vergaderinge van Jehovah se Getuies gereeld bygewoon. Maar aangesien die vergaderinge in Spaans gehou is, het sy nie verstaan wat gesê is nie. “Ek het net geweet dat ek by die vergaderinge wil wees”, het sy gesê. Maar nadat Elena die Bybel met behulp van brosjures in Tlapaneeks bestudeer het, het haar liefde vir God so toegeneem dat sy haar lewe aan hom toegewy het en in 2013 gedoop is. Elena sê: “Ek dank Jehovah dat hy my in staat gestel het om die Bybel te verstaan.”