Spring na inhoud

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

“Ek dink nie meer sleg van myself nie”

“Ek dink nie meer sleg van myself nie”
  • Gebore: 1963

  • Geboorteland: Mexiko

  • Geskiedenis: Straatkind; voel minderwaardig

MY VERLEDE

 Ek is in Ciudad Obregón in Noord-Mexiko gebore. Ek is die vyfde van nege kinders. Ons het net buite die stad gewoon, waar my pa ’n klein plasie gehad het. Dit was lekker om daar te woon, en ons gesin was heg en gelukkig. Maar toe ek net vyf jaar oud was, het ’n orkaan ongelukkig ons plaas vernietig, en ons moes toe na ’n ander dorp trek.

 My pa het toe begin om finansieel goed te doen. Maar terselfdertyd het hy ’n alkoholis geword. Dit het my ouers se huwelik en ons hele gesin geraak. Ek en my twee ouer broers het sigarette begin rook wat ons by my pa gesteel het. Toe ek net ses jaar oud was, het ek vir die eerste keer dronk geword. Kort daarna is my ouers uit mekaar en my slegte gewoontes het net erger geword.

 My ma het ons saam met haar gevat toe sy saam met ’n ander man gaan woon het. Hy het nie vir haar geld gegee nie, en ons kon nie lewe van wat sy verdien het nie. Daarom het ek en my broers en susters enige werk gedoen wat ons kon, maar ons het skaars genoeg verdien vir die basiese dinge. Ek het skoene skoongemaak en brood, koerante, kougom en ander dinge verkoop. Ek het ook deur die stad gedwaal en na kos gesoek in ryk mense se vullis.

 Toe ek tien jaar oud was, het ’n man my gevra om saam met hom by die stad se vullishoop te werk. Ek het die aanbod aanvaar, skool verlaat en weggeloop van die huis af. Hy het my minder as ’n dollar per dag betaal en het vir my kos gegee wat hy by die vullishoop opgetel het. Ek het in ’n hokkie gewoon wat ek van materiaal gebou het wat ek by die vullishoop opgetel het. Die mense om my het lelike taal gebruik en was seksueel onsedelik. Baie van hulle was dwelmverslaafdes en alkoholiste. Dit was die aakligste tyd van my lewe, en ek het elke aand gehuil en gebewe omdat ek bang was. Omdat ek arm en ongeleerd was, het ek baie sleg gedink van myself. Ek het omtrent drie jaar lank by die vullishoop gebly, totdat ek in ’n ander staat in Mexiko gaan woon het. Daar het ek in die landerye gewerk, blomme en katoen gepluk, suikerriet bymekaargemaak en aartappels geoes.

Ek het drie jaar lank by ’n vullishoop soos hierdie een gewoon

 Vier jaar later het ek teruggetrek na Ciudad Obregón. Een van my tannies, wat ’n kruiedokter was, het vir my ’n kamer in haar huis gegee. Ek het begin nagmerries kry en het so depressief geword dat ek selfmoordgedagtes gehad het. Een nag het ek tot God gebid: “Here, as u bestaan, wil ek u leer ken en u vir ewig dien. As daar ’n ware godsdiens is, wil ek dit leer ken.”

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET

 Ek het altyd daarvan gehou om van God te leer. Selfs toe ek ’n kind was, het ek na verskillende kerke gegaan, maar hulle almal het my teleurgestel. Nie een van die kerke het veel oor die Bybel gesê of my gehelp om meer van God te leer nie. Party kerke wou net geld hê, en in ander kerke was die lede seksueel onsedelik.

 Toe ek 19 jaar oud was, het een van my swaers my vertel dat Jehovah se Getuies hom gewys het wat die Bybel sê oor die gebruik van godsdiensbeelde. Hy het Eksodus 20:4, 5 vir my gelees. Dit sê dat ons nie gesnede beelde moet maak nie. Vers 5 sê: “Jy mag jou nie voor hulle neerbuig of laat oorhaal om hulle te dien nie, want ek, Jehovah jou God, is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid eis.” Toe vra my swaer my: “As God beelde gebruik om wonderwerke te doen, of as hy wil hê dat ons beelde in ons aanbidding moet gebruik, hoekom verbied hy dit dan?” Dit het my laat dink. Daarna het ons heelwat besprekings oor Bybelonderwerpe gehad. Ek het daardie gesprekke so baie geniet dat tyd eenvoudig verbygevlieg het.

 Later het hy my na ’n vergadering van Jehovah se Getuies gevat. Ek was regtig beïndruk deur wat ek daar gesien en gehoor het. Selfs jongmense het aan die program deelgeneem en het vlot van die verhoog gepraat! Ek het gedink: ‘Hoe goed word die mense hier tog geleer!’ Al was my hare lank en het ek slordig gelyk, het die Getuies my vriendelik verwelkom. ’n Gesin het my selfs genooi om saam met hulle ná die vergadering te kom eet!

 Ek het uit my studie van die Bybel saam met die Getuies geleer dat Jehovah God ’n liefdevolle Vader is. Hy gee vir ons om maak nie saak wat ons ras of geleerdheid is of ons finansiële of sosiale agtergrond is nie. Hy is regtig onpartydig (Handelinge 10:34, 35). Uiteindelik is my begeerte om meer van God te leer, vervul. Ek was nie meer ongelukkig nie en het nie meer gevoel dat daar iets kortkom in my lewe nie.

HOE DIT MY LEWE BETER GEMAAK HET

 My hele lewe het drasties begin verbeter! Ek het opgehou om te rook, om te veel te drink en om lelike taal te gebruik. Die bitterheid wat ek van kleins af gevoel het, het weggegaan en my aaklige nagmerries ook. En ek het ook my sterk gevoelens van minderwaardigheid oorkom. Ek het nie meer gedink dat ek niks werd was nie. Iets wat ek geglo het omdat ek as ’n kind deur moeilike tye gegaan het en nie baie geleerd was nie.

 Ek het ’n wonderlike vrou wat lief is vir Jehovah en wat my ten volle ondersteun. Ek dien nou as ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies, en ek besoek gemeentes en moedig my geestelike familie van broers en susters aan en leer hulle. Ek dink nie meer sleg van myself nie omdat die Bybel my geestelik gesond gemaak het en as gevolg van die uitstekende opvoeding wat God ons gee.

Ek en my vrou geniet dit om ander te help soos ek gehelp was