Spring na inhoud

3 FEBRUARIE 2022
TADJIKISTAN

VN se komitee: Regte van broer Tierri Amedzro in Tadjikistan geskend

VN se komitee: Regte van broer Tierri Amedzro in Tadjikistan geskend

Op 14 Desember 2021 het die Verenigde Nasies se Menseregtekomitee die uitspraak gelewer dat Tadjikistan broer Tierri Amedzro se regte geskend het deur hom te arresteer en na Kazakstan te deporteer.

Die komitee het vasgestel dat die arrestasie “arbitrêr” was en dat dit die VN se Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte geskend het. Die komitee het ook gesê dat die regering Tierri nie kan keer om na Tadjikistan terug te keer as hy dit wil doen nie. Amptenare in Tadjikistan is nou “verplig om al die nodige stappe te neem om soortgelyke skendings in die toekoms te voorkom”.

Die owerhede van Tadjikistan het op 4 Oktober 2018 ’n huis deursoek waar Jehovah se Getuies ’n vergadering gehou het. Tierri is gearresteer en ondervra by die hoofkantoor van Tadjikistan se Staatskomitee oor Nasionale Veiligheid. Op 16 Oktober 2018 het ’n regter Tierri skuldig bevind aan ’n aanklag van onwettige immigrasie. Tierri is ’n Russiese burger wat in Tadjikistan gewerk het.

Die regter wat Tierri gevonnis het, het ook die opdrag gegee dat hy gedeporteer moet word.

Tierri het gesê: “Ek hoop dat die besluit van die VN se komitee op die een of ander manier godsdiensvryheid in Tadjikistan sal verbeter en ons broers sal help om Jehovah met gemoedsrus te aanbid.”

Op die oomblik is daar een broer in Tadjikistan in die tronk weens sy geloof.

Ons is oortuig dat Jehovah ons broers wat deur moeilike tye gaan, blywende vrede sal gee. – Jesaja 26:3.