Jeremia 44:1-30

  • Rampspoed oor Jode in Egipte voorspel (1-14)

  • Volk verwerp God se waarskuwing (15-30)

    • Aanbidding van “Koningin van die Hemel” (17-19)

44  Jeremia het die volgende boodskap ontvang vir al die Jode wat in Egipte woon,+ naamlik dié wat in Migdol,+ Tagpanʹhes,+ Nof*+ en die land Patros+ woon:  “Dít is wat Jehovah van die leërmagte, die God van Israel, sê: ‘Julle het al die rampspoed gesien wat ek oor Jerusalem+ en oor al die stede van Juda gebring het, en vandag is hulle verwoes, sonder ’n enkele inwoner.+  Dit is as gevolg van die goddelose dinge wat hulle gedoen het om my aanstoot te gee deur offerandes te bring+ en deur ander gode te dien wat hulle nie geken het nie, nie julle of julle voorvaders nie.+  Ek het al my knegte, die profete, na julle toe bly stuur. Ek het hulle keer op keer gestuur* en gesê: “Moet asseblief nie hierdie afskuwelike ding doen wat ek haat nie.”+  Maar hulle het nie geluister nie en het geweier om hulle goddelose weë te los en het aangehou om offerandes aan ander gode te bring.+  Daarom is my groot woede uitgestort en het dit in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem gebrand, en hulle is verwoes en het ’n verlate plek geword, soos vandag die geval is.’+  “En nou sê Jehovah, die God van die leërmagte, die God van Israel: ‘Hoekom bring julle groot rampspoed oor julleself, wat elke man en vrou, kind en baba uit Juda sal uitroei en wat julle sonder ’n oorblyfsel sal agterlaat?  Hoekom gee julle my aanstoot met die werke van julle hande deur aan ander gode offerandes te bring in Egipte waar julle gaan woon het? Julle sal uitgeroei word en sal ’n vloek en ’n bespotting onder al die nasies van die aarde word.+  Het julle die goddelose dade van julle voorvaders, die goddelose dade van die konings van Juda+ en die goddelose dade van hulle vrouens+ vergeet, sowel as julle eie goddelose dade en die goddelose dade van julle vrouens,+ die dade wat in die land van Juda en op die strate van Jerusalem gedoen is? 10  Tot vandag toe het hulle hulle nie verneder nie,* en hulle het nie bang geword nie,+ en hulle het ook nie my wet en my wetsbepalings gevolg wat ek vir julle en julle voorvaders gegee het nie.’+ 11  “Daarom sê Jehovah van die leërmagte, die God van Israel: ‘Ek is vasbeslote om rampspoed oor julle te bring, om die hele Juda te vernietig. 12  En ek sal die oorblyfsel van Juda neem wat vasbeslote was om in Egipte te gaan woon, en hulle sal almal in Egipte+ aan hulle einde kom. Hulle sal met die swaard doodgemaak word en deur die hongersnood sterf, van die kleinste tot die grootste. Ja, hulle sal met die swaard doodgemaak word en deur die hongersnood sterf. En hulle sal ’n vloek word, iets skokkends, ’n vervloeking en ’n bespotting.+ 13  Ek sal dié straf wat in Egipte woon, net soos ek Jerusalem met die swaard, hongersnood en vreeslike siektes gestraf het.+ 14  En die oorblyfsel van Juda wat in Egipte gaan woon het, sal nie ontsnap of bly lewe om na die land van Juda terug te gaan nie. Hulle sal ’n sterk begeerte hê om terug te gaan en daar te woon, maar hulle sal nie teruggaan nie, behalwe ’n paar wat sal ontsnap.’” 15  Al die manne wat geweet het dat hulle vrouens offerandes aan ander gode gebring het en al die vrouens wat daar gestaan het, wat ’n groot groep uitgemaak het, en die hele volk wat in Egipte,+ in Patros,+ gewoon het, het Jeremia geantwoord en gesê: 16  “Ons sal nie luister na wat jy in die naam van Jehovah vir ons gesê het nie. 17  Nee, ons sal beslis elke woord uitvoer wat ons* gesê het: Ons sal offerandes aan die Koningin van die Hemel* bring en drankoffers vir haar uitgooi,+ net soos ons voorvaders, ons konings en ons leiers in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem gedoen het, toe ons met brood versadig was en dit met ons goed gegaan het, toe ons geen rampspoed gesien het nie. 18  Vandat ons opgehou het om offerandes aan die Koningin van die Hemel* te bring en vir haar drankoffers uit te gooi, het ons alles kortgekom en het ons deur die swaard en die hongersnood gesterf.” 19  Die vrouens het bygevoeg: “En toe ons offerandes aan die Koningin van die Hemel* gebring het en vir haar drankoffers uitgegooi het, het ons mos ons mans se toestemming gehad om offerkoeke in die vorm van haar beeld te maak en drankoffers vir haar uit te gooi.” 20  Toe het Jeremia vir die hele volk, vir die manne en hulle vrouens en vir die hele volk wat met hom gepraat het, gesê: 21  “Jehovah het gedink aan die offerandes wat julle, julle voorvaders, julle konings, julle leiers en die volk van die land in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem gebring het,+ en dit het in sy hart opgekom! 22  Uiteindelik kon Jehovah julle goddelose gewoontes en die afskuwelike dinge wat julle gedoen het, nie meer verdra nie, en julle land het ’n verwoeste plek geword, iets skokkends en ’n vloek, sonder ’n enkele inwoner, soos vandag die geval is.+ 23  Hierdie rampspoed het oor julle gekom, soos vandag gesien kan word, omdat julle hierdie offerandes gebring het en omdat julle teen Jehovah gesondig het deur nie die stem van Jehovah te gehoorsaam en sy wette, sy wetsbepalings en sy herinneringe te volg nie.”+ 24  Jeremia het verder vir die hele volk en vir al die vrouens gesê: “Hoor die woord van Jehovah, julle almal wat van Juda kom en wat in Egipte is. 25  Dít is wat Jehovah van die leërmagte, die God van Israel, sê: ‘Wat julle en julle vrouens met julle mond gesê het, het julle met julle hande uitgevoer, want julle het gesê: “Ons sal beslis ons geloftes nakom om vir die Koningin van die Hemel* offerandes te bring en vir haar drankoffers uit te gooi.”+ Vrouens, julle sal julle geloftes beslis vervul en dit nakom.’ 26  “Daarom, hoor die woord van Jehovah, almal van julle wat van Juda kom en wat in Egipte woon: ‘“Ek sweer by my eie groot naam,” sê Jehovah, “dat my naam nie meer in ’n eed gebruik sal word deur enige man van Juda+ in die hele Egipte wat sê: ‘So waar as wat die Soewereine Heer Jehovah lewe!’ nie.+ 27  Nou waak ek oor hulle om rampspoed te bring in plaas van iets goeds.+ Al die manne van Juda wat in Egipte is, sal sterf deur die swaard en deur hongersnood, totdat hulle ophou bestaan.+ 28  Net ’n paar sal van die swaard ontsnap en uit Egipte na die land van Juda terugkeer.+ Dan sal die hele oorblyfsel van Juda wat in Egipte kom woon het, weet wie se woord waar geword het, myne of hulle s’n!”’” 29  “‘En ek gee julle die volgende teken,’ sê Jehovah, ‘dat ek julle in hierdie plek sal straf, sodat julle kan weet dat my belofte van rampspoed teen julle beslis waar sal word. 30  Dít is wat Jehovah sê: “Ek gee farao Hofra, die koning van Egipte, in die hand van sy vyande en van dié wat hom wil doodmaak, net soos ek koning Sedekiʹa van Juda in die hand van koning Nebukadneʹsar* van Babilon gegee het, wat sy vyand was en wat hom wou doodmaak.”’”+

Voetnote

Of “Memfis”.
Lett. “vroeg opgestaan en gestuur”.
Of “het hulle nie verpletter gevoel nie”.
Lett. “ons mond”.
Die titel van ’n godin wat deur afvallige Israeliete aanbid is, moontlik ’n vrugbaarheidsgodin.
Die titel van ’n godin wat deur afvallige Israeliete aanbid is, moontlik ’n vrugbaarheidsgodin.
Die titel van ’n godin wat deur afvallige Israeliete aanbid is, moontlik ’n vrugbaarheidsgodin.
Die titel van ’n godin wat deur afvallige Israeliete aanbid is, moontlik ’n vrugbaarheidsgodin.
Lett. “Nebukadresar”, ’n wisselvorm van die naam.