Volgens Lukas 23:1-56

  • Jesus voor Pilatus en Herodes (1-25)

  • Jesus en twee misdadigers aan pale gehang (26-43)

    • “Jy sal saam met my in die Paradys wees” (43)

  • Jesus se dood (44-49)

  • Jesus word begrawe (50-56)

23  Die hele skare het opgestaan en hom na Pilatus toe gelei.+  Toe het hulle hom begin beskuldig+ en gesê: “Ons het vasgestel dat hierdie man ons nasie opstandig maak. Hy verbied mense om belasting aan die keiser te betaal+ en sê dat hy Christus, ’n koning, is.”+  Pilatus het vir hom gevra: “Is jy die Koning van die Jode?” Hy het geantwoord: “U sê dit self.”+  Toe het Pilatus vir die hoofpriesters en die skare gesê: “Ek vind nie bewyse dat hierdie man enige misdaad gepleeg het nie.”+  Maar hulle het bly sê: “Hy steek die volk op deur die mense in die hele Judeʹa te leer, van Galileʹa af en selfs tot hier.”  Toe Pilatus dit hoor, het hy gevra of die man ’n Galileër is.  Nadat hy vasgestel het dat hy uit die regsgebied van Herodes was,+ het hy hom na Herodes toe gestuur, wat ook in daardie dae in Jerusalem was.  Toe Herodes Jesus sien, was hy baie bly. Hy wou Jesus nou al ’n hele ruk lank ontmoet omdat hy al baie van hom gehoor het,+ en hy het gehoop dat Jesus die een of ander teken sou doen.  Hy het hom dus baie vrae begin vra, maar Jesus het hom geen antwoord gegee nie.+ 10  Die hoofpriesters en die skrifgeleerdes het egter bly opstaan en hom van allerhande dinge beskuldig. 11  Toe het Herodes en sy soldate Jesus verneder,+ en hy het met hom die spot gedryf+ deur vir hom ’n mooi kleed aan te trek, en daarna het hy hom na Pilatus toe teruggestuur. 12  Herodes en Pilatus was voorheen vyande, maar hulle het op daardie selfde dag vriende geword. 13  Pilatus het toe die hoofpriesters, die heersers en die volk bymekaargeroep 14  en vir hulle gesê: “Julle het hierdie man na my toe gebring as iemand wat die volk opstandig maak. Ek het hom voor julle verhoor, maar ek kon geen bewyse vind van die aanklagte wat julle teen hierdie man inbring nie.+ 15  Herodes kon ook nie enige bewyse vind nie, want hy het hom na ons toe teruggestuur, en hy het niks gedoen wat die dood verdien nie. 16  Ek sal hom dus straf+ en vrylaat.” 17  *—— 18  Maar hulle almal, die hele skare, het uitgeroep en gesê: “Maak hierdie man dood,* en laat Barabʹbas vry!”+ 19  (Hierdie man is in die gevangenis gegooi weens ’n opstand wat in die stad plaasgevind het en weens moord.) 20  Pilatus het weer met hulle gepraat, want hy wou Jesus vrylaat.+ 21  Toe het hulle begin skree: “Hang hom aan die paal! Hang hom aan die paal!”+ 22  Hy het ’n derde keer vir hulle gesê: “Hoekom? Wat het hierdie man gedoen wat sleg is? Ek het niks in hom gevind wat die dood verdien nie. Ek sal hom dus straf en vrylaat.” 23  Toe het hulle met harde stemme daarop begin aandring dat hy aan die paal gehang moet word. En hulle het so baie geskree dat hy ingegee het.+ 24  Toe het Pilatus besluit om te doen wat hulle vra. 25  Hy het die man vrygelaat vir wie hulle gevra het – die man wat weens opstand en moord in die tronk gegooi is – maar hy het Jesus aan hulle oorgelewer sodat hulle met hom kan doen wat hulle wil. 26  En terwyl hulle hom weggelei het, het hulle ’n sekere Simon van Sireʹne, wat van die platteland af gekom het, gegryp en die folterpaal* op hom gesit om dit agter Jesus aan te dra.+ 27  ’n Groot groep mense het hom gevolg, insluitende vrouens wat aanhoudend oor hom getreur en gehuil het. 28  Jesus het omgedraai en vir die vrouens gesê: “Dogters van Jerusalem, hou op om oor my te huil. Huil eerder oor julleself en oor julle kinders,+ 29  want daar kom dae wanneer mense sal sê: ‘Gelukkig is die onvrugbare vrouens en die moederskote wat nie geboorte gegee het nie en die borste wat nie gevoed het nie!’+ 30  Dan sal hulle vir die berge begin sê: ‘Val op ons!’ en vir die heuwels: ‘Bedek ons!’+ 31  As hulle hierdie dinge doen wanneer die boom groen is, wat sal gebeur wanneer dit uitgedroog is?” 32  Twee ander mans, misdadigers, is ook weggelei om saam met hom doodgemaak te word.+ 33  En toe hulle by die plek kom wat Skedel genoem word,+ het hulle hom daar aan die paal gehang met die misdadigers langs hom, een aan sy regterkant en een aan sy linkerkant.+ 34  Maar Jesus het gesê: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” En hulle het die lot gewerp om sy klere te verdeel.+ 35  Die volk het gestaan en kyk wat gebeur, maar die heersers het hom uitgelag en gesê: “Hy het ander gered. Laat hy homself red as hy die Christus van God is, die Een wat uitgekies is.”+ 36  Selfs die soldate het hom bespot en nader gekom en vir hom suur wyn aangebied+ 37  en gesê: “As jy die Koning van die Jode is, red jouself.” 38  Daar was ook ’n opskrif bokant sy kop: “Dit is die Koning van die Jode.”+ 39  Toe het een van die misdadigers wat daar gehang het, hom begin beledig+ en gesê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en red ons ook!” 40  Die ander een het streng met hom gepraat en gesê: “Het jy geen vrees vir God nie? Jy het dan nou dieselfde oordeel ontvang! 41  Dit is reg dat ons gestraf word, want ons kry ons verdiende loon, maar hierdie man het niks slegs gedoen nie.” 42  Toe het hy gesê: “Jesus, dink aan my wanneer u in u Koninkryk kom.”+ 43  Hy het vir hom gesê: “Ek verseker jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees.”+ 44  Dit was toe omtrent die sesde uur,* en tog het die hele land donker geword, tot die negende uur* toe,+ 45  want die sonlig het verdwyn. Toe het die gordyn* van die heiligdom+ middeldeur geskeur.+ 46  En Jesus het met ’n harde stem uitgeroep: “Vader, in u hande gee ek my gees oor.”+ Nadat hy dit gesê het, het hy gesterf.*+ 47  Omdat die militêre offisier gesien het wat gebeur het, het hy God begin loof en gesê: “Waarlik, hierdie man was regverdig.”+ 48  Toe die hele skare wat daar bymekaar was, sien wat alles gebeur het, het hulle teruggegaan huis toe terwyl hulle op hulle bors geslaan het. 49  En almal wat hom geken het, het op ’n afstand gestaan. Daar was ook vrouens wat saam met hom van Galileʹa af gereis het wat gesien het wat gebeur het.+ 50  Daar was ’n man met die naam Josef, wat ’n lid van die Raad was en wat ’n goeie en regverdige man was.+ 51  (Hierdie man het nie saamgestem met wat hulle beplan en gedoen het nie.) Hy was van Arimateʹa, ’n stad van die Judeërs, en hy het vir die Koninkryk van God gewag. 52  Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en vir Jesus se liggaam gevra. 53  En hy het dit afgehaal+ en dit in fyn linne toegedraai, en hy het hom in ’n graf* neergelê wat in die rots uitgekap was+ en waarin niemand nog ooit neergelê is nie. 54  Dit was die Voorbereidingsdag,+ en die Sabbat+ sou binnekort begin. 55  Maar die vrouens wat saam met Jesus uit Galileʹa gekom het, het Josef gevolg en na die graf* gekyk en gesien hoe sy liggaam neergelê is,+ 56  en hulle het teruggegaan om speserye en lekkerruik-olies voor te berei. Maar hulle het natuurlik op die Sabbat gerus,+ volgens die Wet.

Voetnote

Lett. “Neem hierdie man weg”.
D.w.s. omtrent 12:00.
D.w.s. omtrent 15:00.
Of “voorhangsel”.
Of “sy laaste asem uitgeblaas”.
Of “gedenkgraf”.
Of “gedenkgraf”.