Volgens Markus 1:1-45

  • Johannes die Doper preek (1-8)

  • Jesus se doop (9-11)

  • Jesus deur Satan versoek (12, 13)

  • Jesus begin in Galilea preek (14, 15)

  • Eerste dissipels geroep (16-20)

  • Onrein gees uitgedryf (21-28)

  • Jesus genees baie in Kapernaum (29-34)

  • Jesus bid op ’n afgeleë plek (35-39)

  • ’n Melaatse word genees (40-45)

1  Die begin van die goeie nuus oor Jesus Christus, die Seun van God:  Net soos daar geskryf is in die boek van die profeet Jesaja: “(Kyk! Ek stuur my boodskapper voor jou uit, wat jou weg sal voorberei.)+  Iemand roep in die wildernis uit: ‘Berei die weg van Jehovah* voor! Maak sy paaie reguit.’”+  Johannes die Doper was in die wildernis en het verkondig dat mense hulle moet laat doop as ’n simbool van berou sodat hulle sondes vergewe kan word.+  En die hele gebied van Judeʹa en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gegaan, en hulle is deur hom in die Jordaanrivier gedoop,* en hulle het hulle sondes openlik bely.+  Johannes het klere van kameelhaar en ’n leerlyfband om sy middel gedra,+ en hy het sprinkane en wilde heuning geëet.+  En hy het gepreek: “Ná my kom iemand wat sterker as ek is, en ek is nie eers waardig om te buk en die rieme van sy sandale los te maak nie.+  Ek het julle met water gedoop, maar hy sal julle met heilige gees doop.”+  In daardie dae het Jesus uit Naʹsaret in Galileʹa gekom, en hy is deur Johannes in die Jordaanrivier gedoop.+ 10  En onmiddellik toe hy uit die water opkom, het hy die hemel sien oopgaan en die gees soos ’n duif op hom sien neerdaal.+ 11  Toe het ’n stem uit die hemel gekom wat gesê het: “Jy is my geliefde Seun. Ek het jou goedgekeur.”+ 12  En die gees het hom onmiddellik in die wildernis laat ingaan. 13  Hy het 40 dae in die wildernis gebly, waar hy deur Satan versoek is.+ Hy was saam met die wilde diere, maar die engele het in sy behoeftes voorsien.*+ 14  En nadat Johannes in hegtenis geneem is, het Jesus na Galileʹa gegaan+ en die goeie nuus van God verkondig+ 15  en gesê: “Die vasgestelde tyd is hier, en die Koninkryk van God het naby gekom. Toon berou+ en stel geloof in die goeie nuus.” 16  Terwyl hy langs die See van Galileʹa geloop het, het hy Simon en sy broer Andreʹas+ gesien, wat besig was om hulle nette in die see uit te gooi,+ want hulle was vissermanne.+ 17  Toe het Jesus vir hulle gesê: “Kom volg my, en ek sal julle vissers van mense maak.”+ 18  Hulle het dadelik hulle nette gelos en hom gevolg.+ 19  Nadat hy ’n entjie verder gegaan het, het hy Jakobus, die seun van Sebedeʹus, en sy broer Johannes gesien terwyl hulle in hulle boot besig was om hulle nette reg te maak,+ 20  en hy het hulle dadelik geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeʹus, by die gehuurde werkers in die boot gelos en hom gevolg. 21  Toe het hulle in Kaperʹnaum aangekom. Kort nadat die Sabbat begin het, het hy in die sinagoge ingegaan en die mense begin leer.+ 22  En hulle was verstom oor die manier waarop hy geleer het, want hy het hulle geleer soos iemand wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.+ 23  Op daardie oomblik was daar ’n man in hulle sinagoge wat onder die beheer van ’n onrein gees was, en hy het geskree: 24  “Wat het ons met jou te doen, Jesus die Nasarener?+ Het jy gekom om ons te vernietig? Ek weet presies wie jy is: die Heilige van God!”+ 25  Maar Jesus het streng met hom gepraat en gesê: “Bly stil, en kom uit hom uit!” 26  En nadat die onrein gees die man ’n stuiptrekking laat kry het en so hard geskree het as wat hy kon, het hy uit die man uitgekom. 27  Die mense was almal so verstom dat hulle dit onder mekaar begin bespreek het en gesê het: “Wat is dit? ’n Nuwe lering! Hy beveel selfs die onrein geeste met gesag, en hulle gehoorsaam hom.” 28  En die nuus oor hom het vinnig deur die hele Galileʹa versprei. 29  Toe het hulle uit die sinagoge gegaan en saam met Jakobus en Johannes na die huis van Simon en Andreʹas gegaan.+ 30  Simon se skoonma+ het siek in die bed gelê met koors, en hulle het Jesus dadelik van haar vertel. 31  Toe het hy na haar gegaan, haar hand gevat en haar opgehelp. Die koors het verdwyn, en sy het hulle begin bedien. 32  Daardie aand, nadat die son gesak het, het die mense almal wat siek was en almal in wie daar demone was, na hom toe begin bring,+ 33  en die hele stad het reg voor die deur bymekaargekom. 34  Toe het hy baie mense genees wat aan allerhande siektes gely het,+ en hy het baie demone uitgedryf, maar hy het die demone nie toegelaat om enigiets te sê nie, want hulle het geweet dat hy Christus is.* 35  Vroeg die oggend, terwyl dit nog donker was, het hy opgestaan en buitentoe gegaan, na ’n afgeleë plek, en daar het hy begin bid.+ 36  Maar Simon en dié wat by hom was, het hom gaan soek. 37  Toe hulle hom kry, het hulle vir hom gesê: “Almal soek u.” 38  Hy het vir hulle gesê: “Laat ons êrens anders gaan, na die dorpe hier naby, sodat ek ook daar kan preek, want dit is hoekom ek gekom het.”+ 39  En hy het gegaan en deur die hele Galileʹa in hulle sinagoges gepreek en die demone uitgedryf.+ 40  Daar het ook ’n melaatse na Jesus toe gekom, wat gekniel het en hom gesmeek het: “As u net wil, kan u my gesond* maak.”+ 41  En omdat hy baie jammer gevoel het vir die man, het hy sy hand uitgesteek, aan hom geraak en vir hom gesê: “Ek wil! Word gesond.”*+ 42  Sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn, en hy het gesond* geword. 43  Toe het Jesus hom dadelik weggestuur en hom streng beveel: 44  “Moet vir niemand hiervan vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester, en offer die dinge vir jou reiniging, net soos Moses voorgeskryf het.+ Dit sal as ’n getuienis vir hulle dien.”+ 45  Maar nadat die man weggegaan het, het hy dit wyd en syd begin verkondig en die nuus oral versprei. Daarom kon Jesus nie meer openlik in ’n stad ingaan nie, en hy het buite op afgeleë plekke gebly. Tog het mense van oral na hom toe bly kom.+

Voetnote

Of “onderdompel”.
Of “het hom versterk”.
Of moontlik “hulle het geweet wie hy is”.
Lett. “rein”.
Lett. “gereinig”.
Lett. “rein”.