Volgens Matteus 3:1-17

  • Johannes die Doper preek (1-12)

  • Jesus se doop (13-17)

3  In daardie dae het Johannes+ die Doper in die wildernis van Judeʹa kom preek+  en gesê: “Toon berou, want die Koninkryk van die hemel het naby gekom.”+  Ja, hy is die een van wie die profeet Jesaja+ gesê het: “Iemand roep in die wildernis uit: ‘Berei die weg van Jehovah* voor! Maak sy paaie reguit.’”+  Johannes se klere was van kameelhaar, en hy het ’n leerlyfband om sy middel gehad.+ Hy het sprinkane en wilde heuning geëet.+  Toe het die mense van Jerusalem en die hele Judeʹa en die hele omgewing om die Jordaanrivier na hom toe gegaan,+  en hulle is deur hom in die Jordaanrivier gedoop,*+ en hulle het hulle sondes openlik bely.  Toe hy sien dat baie van die Fariseërs en Sadduseërs+ na die doop toe kom, het hy vir hulle gesê: “Julle spul giftige slange,*+ wie het julle gewaarsku om vir die komende woede te vlug?+  Bring dan vrugte voort wat by berou pas.  Moenie dink dat julle vir julleself kan sê: ‘Ons het Abraham as ons vader’ nie.+ Want ek sê vir julle dat God vir Abraham kinders uit hierdie klippe kan voortbring. 10  Die byl lê reeds by die wortel van die boom. Elke boom wat nie goeie vrugte voortbring nie, gaan afgekap en in die vuur gegooi word.+ 11  Ek doop julle met water omdat julle berou getoon het,+ maar die een wat ná my kom, is sterker as ek, en ek is nie waardig om sy sandale uit te trek nie.+ Hy sal julle doop met heilige gees+ en met vuur.+ 12  Die vurk waarmee hy die koring en die kaf skei, is in sy hand, en hy sal sy dorsvloer heeltemal skoonmaak en sy koring in die voorraadskuur bymekaarmaak, maar hy sal die kaf verbrand met vuur+ wat nie geblus kan word nie.” 13  Toe het Jesus van Galileʹa af na die Jordaanrivier toe gekom om deur Johannes gedoop te word.+ 14  Maar Johannes het hom probeer keer deur te sê: “Ek is die een wat deur u gedoop moet word, en u kom na my toe?” 15  Jesus het hom geantwoord: “Laat dit hierdie keer so wees, want dit is goed dat ons op hierdie manier alles doen wat regverdig is.” Toe het Johannes opgehou om hom te probeer keer. 16  Nadat Jesus gedoop is, het hy onmiddellik uit die water opgekom. En kyk! die hemel het oopgegaan,+ en hy* het gesien hoe God se gees soos ’n duif neerdaal en op hom* kom.+ 17  Kyk! ’n Stem het ook uit die hemel+ gesê: “Dit is my geliefde Seun,+ wat ek goedgekeur het.”+

Voetnote

Of “onderdompel”.
Of “Addergebroedsel”.
Waarskynlik Johannes.
Jesus.