Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Alkoholgebruik – Hoe kan jy in beheer bly?

Alkoholgebruik – Hoe kan jy in beheer bly?

 Party mense drink meer alkohol wanneer hulle gestres, eensaam of net verveeld is. Drink jy meer as wat jy voorheen gedrink het? As dit die geval is, hoe kan jy seker maak dat jy nie te veel drink of verslaaf word aan alkohol nie? Kyk na praktiese inligting wat jou kan help om in beheer te bly.

 Wat is matige alkoholgebruik?

 Wat die Bybel sê: “Bly weg van mense wat te veel wyn drink.” – Spreuke 23:20.

 Dink hieraan: Die Bybel verbied nie die gebruik van alkohol wanneer dit in matigheid gedoen word nie (Prediker 9:7). Maar dit onderskei tussen die matige gebruik van alkohol, om te veel te drink en om dronk te word (Lukas 21:34; Efesiërs 5:18; Titus 2:3). Selfs al drink jy nie totdat jy dronk word nie, kan dit veroorsaak dat jy slegte besluite neem en jou gesondheid of jou verhoudings met ander benadeel as jy te veel drink. – Spreuke 23:29, 30.

 Baie regerings erken die verskil tussen die matige gebruik van alkohol en om te veel te drink. Hulle bereken dit dikwels in terme van die aantal standaarddrankies wat ’n persoon per dag drink en die hoeveelheid dae per week wat ’n persoon drink. a Maar mense reageer verskillend op alkohol, en daar is tye wanneer dit beter is om glad nie te drink nie. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie:

 “Selfs een of twee drankies kan te veel wees – byvoorbeeld:

  •   Wanneer jy bestuur of met masjinerie werk.

  •   Wanneer jy swanger is of borsvoed.

  •   Wanneer jy op sekere medikasie is.

  •   As jy sekere mediese toestande het.

  •   As jy nie jou alkoholgebruik kan beheer nie.”

 Tekens dat jy alkohol misbruik

 Wat die Bybel sê: “Laat ons ons lewenswyse ondersoek en bestudeer.” – Klaagliedere 3:40.

 Dink hieraan: Jy kan jouself beskerm teen die nadele van alkohol as jy jou drinkgewoontes gereeld ondersoek en dit verander as dit nodig is. Kyk uit vir die volgende tekens wat dalk wys dat jy besig is om beheer te verloor.

  •   Jy is afhanklik van alkohol om gelukkig te wees. Jy voel dat jy moet drink om te ontspan, om lekker te kuier of om jouself te geniet. Jy drink om jou probleme te hanteer.

  •   Jy drink meer as wat jy voorheen gedrink het. Jy drink meer gereeld. Jou drankies is sterker, en jy moet meer daarvan drink sodat dit dieselfde uitwerking op jou sal hê.

  •   Jou alkoholgebruik het probleme veroorsaak by die huis of by die werk. Byvoorbeeld, jy spandeer meer geld op alkohol as wat jy kan bekostig.

  •   Jy maak gevaarlike besluite nadat jy gedrink het, soos om te bestuur, te swem of met masjinerie te werk.

  •   Mense sê dat hulle bekommerd is oor hoeveel jy drink. Wanneer hulle daaroor met jou praat, raak jy ontsteld. Jy probeer wegsteek hoeveel jy drink of jy lieg daaroor.

  •   Jy sukkel om op te hou drink. Jy het probeer om minder te drink of om op te hou, maar jy kan nie.

 Vyf wenke wat jou kan help om jou alkoholgebruik te beheer

 1. Maak ’n plan.

 Wat die Bybel sê: “Die planne van hardwerkende mense lei tot sukses.” – Spreuke 21:5.

 Probeer die volgende: Kies die dae van die week wanneer jy wil drink. Stel ’n matige limiet van hoeveel drankies jy op daardie dae wil drink. En besluit op ten minste twee dae elke week wanneer jy nie sal drink nie.

 ’n Opvoedkundige liefdadigheidsorganisasie oor alkohol in die Verenigde Koninkryk sê: “Om gereeld ’n breek van alkohol te vat, is die beste manier om te keer dat jy nie aan alkohol verslaaf raak nie.”

 2. Volg jou plan.

 Wat die Bybel sê: “Maak . . . die werk klaar . . . waarmee julle begin het.” – 2 Korintiërs 8:11.

 Probeer die volgende: Vind uit wat die standaardgrootte van drankies is sodat jy jou drankies akkuraat kan meet en tel. Kry gesonde nie-alkoholiese drankies wat jy geniet, en maak seker dat dit beskikbaar is.

 Die Amerikaanse Nasionale Instituut vir Drankmisbruik en Alkoholisme sê: “Jy kan die kanse verminder om alkoholverwante probleme te hê as jy klein veranderinge maak.”

 3. Bly by jou besluite.

 Wat die Bybel sê: “Laat julle ‘ja’ ja beteken en julle ‘nee’, nee.” – Jakobus 5:12.

 Probeer die volgende: Wees bereid om op ’n vriendelike maar oortuigende manier “Nee” te sê as iemand vir jou ’n drankie aanbied en jy nie beplan het om te drink nie.

 Die Amerikaanse Nasionale Instituut vir Drankmisbruik en Alkoholisme sê: “Hoe gouer jy kan leer om vir hierdie aanbiedings nee te sê, hoe minder sal jy geneig wees om in te gee.”

 4. Fokus op die voordele van jou besluite.

 Wat die Bybel sê: “Die uiteinde van ’n saak is beter as sy begin.” – Prediker 7:8.

 Probeer die volgende: Maak ’n lys van die redes hoekom jy in beheer wil wees van hoeveel alkohol jy drink. Sluit dinge in soos om jou slaap, gesondheid, finansies en verhoudings te verbeter. As jy met ander oor jou besluite praat, fokus op die voordele, nie die uitdagings nie.

 5. Vertrou op God om jou te ondersteun.

 Wat die Bybel sê: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.” – Filippense 4:13.

 Probeer die volgende: As jy bekommerd is oor jou drinkgewoontes, bid tot God vir hulp. Vra hom vir krag en selfbeheersing. b En vind uit wat sy Woord, die Bybel, sê wat jou kan help. Met hom aan jou kant, kan jy in beheer bly van hoeveel jy drink.

a Byvoorbeeld, Suid-Afrika se Hart- en Beroertestigting stel voor dat as jy alkohol drink, jy dit in matigheid moet doen. “Dit beteken nie meer as 2 drankies per dag vir mans en 1 drankie per dag vir vroue nie. Een drankie is gelyk aan: 340 ml bier, 120 ml wyn, 60 ml sjerrie of 25 ml sterk drank.” Die standaardgrootte van drankies verskil van land tot land. Daarom moet jy jou dokter raadpleeg om vas te stel wat ’n veilige dranklimiet vir jou is.

b As jy nie kan beheer hoeveel jy drink nie, het jy dalk professionele hulp nodig.