Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is die Bybel se beskrywing van die Joodse ballingskap in Babilon akkuraat?

Is die Bybel se beskrywing van die Joodse ballingskap in Babilon akkuraat?

 Die Jode is sowat 2 600 jaar gelede gedwing om na Babilon te gaan, waar hulle omtrent 70 jaar lank in ballingskap was. Volgens die Bybel het God van die toestande voorspel wat die Joodse ballinge in Babilon sou ondervind. “Bou huise en bewoon dit, en lê tuine aan en eet die vrugte daarvan. Neem vrouens en word die vader van seuns en dogters. . . . Soek ook die vrede van die stad waarheen ek julle in ballingskap laat gaan het” (Jeremia 29:1, 4-7). Het die Jode regtig hierdie toestande deurgemaak?

 Navorsers het meer as 100 kleitablette noukeurig ondersoek wat lyk of dit van eertydse Babilon of van die omgewing daar naby is. Die tablette wys dat daar baie Joodse ballinge is wat by hulle kultuur en godsdiens gebly het terwyl hulle gehoorsaam was aan die Babiloniese regering. Vanaf 572 tot 477 VHJ bevat die tablette huurooreenkomste, besigheidsprojekte, skuldbewyse en ander finansiële rekords. Een naslaanwerk sê: “Hierdie dokumente gee ’n kykie in die lewens van gewone mense wat van die platteland is. Hulle bewerk die grond en bou huise, hulle betaal belasting en lewer dienste aan die koning.”

’n Spykerskriftablet van die stad van Juda

 Hierdie belangrike versameling van dokumente wys ook dat daar ’n groot Joodse gemeenskap in Al-Yahudu, of die stad van Juda, was. Die name van vier geslagte van ’n Joodse familie is op die tablette gegraveer. Party van die name was in Ou Hebreeuse letters. Voordat die tablette gevind is, het geleerdes nie baie van die lewens van die Joodse ballinge in Babilon geweet nie. Dr. Filip Vukosavović, ’n lid van die bestuursraad van Israel se Departement van Oudhede, sê: “Met hierdie tablette kan ons uiteindelik hierdie mense beter leer ken, ons kan sien wat hulle name was, waar hulle gebly het, wanneer hulle gelewe het en wat hulle gedoen het.”

Joodse ballinge geniet ’n mate van vryheid in Babilon

 Die Joodse ballinge het ’n mate van vryheid gehad om te kies waar hulle wou bly en wat hulle wou doen. Vukosavović sê dat hulle “nie net in Al-Yahudu nie, maar ook in ’n paar ander dorpies” gebly het. Party van hulle het vaardighede ontwikkel om verskillende werke te doen. Dit het hulle later gehelp met die herbouing van Jerusalem (Nehemia 3:8, 31, 32). Die Al-Yahudu-tablette bevestig ook dat baie Jode gekies het om in Babilon te bly selfs nadat hulle ballingskap geëindig het. Dit is ’n bewys dat hulle redelik rustig gelewe het in Babilon, net soos God se Woord gewys het.