Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ONDERHOUD | PAOLA CHIOZZI

’n Biochemikus verduidelik waarom sy in God glo

’n Biochemikus verduidelik waarom sy in God glo

Dr. Paola Chiozzi werk al meer as 20 jaar as ’n molekulêre bioloog by die Universiteit van Ferrara in Italië. Ontwaak! het met haar gesels oor haar wetenskapsveld en haar geloof.

Vertel ons van jou agtergrond.

My pa was ’n skoenmaker en my ma was ’n plaaswerker. Maar ek wou ’n wetenskaplike word. Die pragtige blomme, voëls en insekte om ons huis het my gefassineer. Ek het gedink dat bomenslike wysheid nodig was om dit te maak.

Het jy dan nog altyd aan ’n Skepper geglo?

Nee. Om die waarheid te sê, ek het reeds as kind begin twyfel of God bestaan. My pa het skielik aan ’n hartaanval gesterf, en ek het gewonder: ‘Waarom sou die Skepper van soveel pragtige dinge toelaat dat mense ly en sterf?’

Het jou studie van die wetenskap jou gehelp om ’n antwoord te vind?

Aanvanklik nie. Toe ek ’n molekulêre bioloog geword het, het ek ’n studie van die sterfproses begin maak—die normale, geprogrammeerde afsterwing van die selle waaruit ons liggaam bestaan. Dit verskil grootliks van die onbeheerde selafsterwing wat inflammasie en gangreen veroorsaak. Tot ’n paar jaar gelede het wetenskaplikes min aandag aan hierdie proses geskenk, al is dit noodsaaklik vir ons gesondheid.

Waarom is geprogrammeerde selafsterwing noodsaaklik?

Wel, ons liggaam bestaan uit biljoene mikroskopiese selle. Byna elke sel moet doodgaan en vervang word. Elke soort sel se lewensduur verskil; party word elke paar weke vervang en ander elke paar jaar. Ons liggaam se stelsel vir geprogrammeerde selafsterwing moet baie fyn beheer word om die delikate balans tussen selafsterwing en selvorming te behou.

 Wat kan skeefloop?

Sommige studies gee te kenne dat dit gewrigsrumatiek of kanker tot gevolg kan hê as selle nie sterf soos hulle moet nie. Aan die ander kant kan dit tot Parkinson se siekte of Alzheimer se siekte lei as selle sterf voordat hulle moet. My navorsing hou daarmee verband om maniere te vind om hierdie siektes te behandel.

Watter uitwerking het jou studie van selafsterwing op jou gehad?

Om eerlik te wees, dit het my verwar. Dit was vir my duidelik dat hierdie merkwaardige proses deur iemand ontwerp is wat wil hê dat ons gesond moet wees. En daarom het ek nog steeds gewonder: Waarom ly en sterf mense? Ek kon nie ’n antwoord vind nie.

Maar jy was oortuig daarvan dat die stelsel vir geprogrammeerde selafsterwing ontwerp is.

Ja. Die ingewikkeldheid van die hele proses is verstommend, en die wonderlike ontwerp daarvan getuig van uitsonderlike wysheid. Ek glo dat dit die wysheid van God is. Ek gebruik kragtige mikroskope om die talle komplekse meganismes wat die proses beheer, te bestudeer. Party meganismes kan die vernietigingsproses binne sekondes aan die gang sit, indien nodig. Die selle speel ’n rol in hulle selfvernietiging. Die proses is so goed ontwerp dat dit absoluut ontsagwekkend is.

Aangesien byna al ons selle gereeld vervang word, is dit beslis moontlik om vir ewig te lewe

Jy het vrae gehad oor God en lyding. Hoe het jy die antwoorde gevind?

In 1991 het twee van Jehovah se Getuies aan my deur geklop, en ek het hulle gevra waarom ons sterf. Hulle het my die Bybel se antwoord gewys: “Deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en die dood deur die sonde” (Romeine 5:12). As die eerste mens nie aan God ongehoorsaam was nie, sou hy vir ewig gelewe het. Ek het dadelik besef dat dit ooreenstem met wat ek uit my navorsing geleer het. Trouens, ek kan duidelik sien dat dit nooit God se voorneme was dat mense moes sterf nie. Aangesien byna al ons selle gereeld vervang word, is dit beslis moontlik om vir ewig te lewe.

Wat het jou daarvan oortuig dat die Bybel God se Woord is?

Ek het geleer dat die Bybel in Psalm 139:16 oor God sê: “U oë het selfs my embrio gesien, en in u boek was al die dele daarvan opgeskrywe.” As ’n biochemikus bestudeer ek die genetiese inligting wat in ons selle opgeskrywe is. Hoe het die psalmis van hierdie inligting geweet? Hoe meer Bybelkennis ek opgedoen het, hoe meer het dit my oortuig dat die Bybel deur God geïnspireer is.

Hoe is jy gehelp om te verstaan wat die Bybel leer?

Een van Jehovah se Getuies het aangebied om die Bybel met my te studeer. Ek het uiteindelik geleer waarom God lyding toelaat. Ek het ook geleer dat die Bybel sê dat God “die dood vir ewig [sal] verswelg” (Jesaja 25:8). Dit sal vir ons Skepper maklik wees om die merkwaardige stelsels van ons liggaam volmaak te laat werk sodat ons vir ewig sal kan lewe.

Hoe het jy jou kennis van die Bybel gebruik om ander te help?

Wel, in 1995 het ek een van Jehovah se Getuies geword, en sedertdien gebruik ek elke geleentheid om ander te vertel wat ek in die Bybel geleer het. Byvoorbeeld, een van my kollegas was verpletter toe haar broer selfmoord gepleeg het. Haar kerk leer dat God selfmoord nooit vergewe nie. Maar ek het die Bybel se belofte van ’n opstanding aan haar verduidelik (Johannes 5:28, 29). Dit was vir haar baie vertroostend om te leer dat die Skepper vir ons omgee. Sulke tye voel ek dat dit vir my meer bevrediging meebring om ander van Bybelwaarhede te vertel as wat ’n studie van die wetenskap ooit kan meebring!