Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Wat kan ek omtrent seksuele teistering doen?

Wat kan ek omtrent seksuele teistering doen?

 Wat is seksuele teistering?

 Seksuele teistering sluit enige ongewenste seksuele gedrag in—onder andere aanraking of selfs opmerkings van ’n seksuele aard. Maar soms is die skeidslyn tussen tergery, flirtasie en seksuele teistering nie so duidelik nie.

 Weet jy wat die verskil is? Beantwoord die  vrae oor seksuele teistering en vind uit!

 Ongelukkig is seksuele teistering nie altyd iets wat net op skool gebeur nie. Maar as jy nou die vertroue en vermoë ontwikkel om seksuele teistering te hanteer, sal jy daarop voorbereid wees wanneer jy die arbeidsmark betree. En jy kan moontlik selfs verhinder dat ’n teisteraar ander leed aandoen!

 Sê nou ek word seksueel geteister?

 Dit is waarskynliker dat seksuele teistering sal stop as jy weet wat dit is en hoe om daarop te reageer! Kyk na drie situasies en hoe jy in elkeen kan optree.

 SITUASIE:

“By die werk het party van die mans wat baie ouer as ek was, aanhoudend vir my gesê dat ek mooi is en dat hulle wens dat hulle 30 jaar jonger is. Een van hulle het selfs agter my kom staan en aan my hare geruik!”—Tabitha, 20.

 Tabitha kon gedink het: ‘As ek dit net ignoreer en uithou, sal hy dalk ophou.’

 Waarom dit waarskynlik nie sou gehelp het nie: Kenners sê dat seksuele teistering dikwels voortduur of selfs erger word wanneer slagoffers dit ignoreer.

 Probeer eerder die volgende: Sê kalm maar reguit vir die een wat jou teister dat jy nie sy opmerkings of gedrag sal duld nie. “As enigiemand op ’n onvanpaste manier aan my raak,” sê die 22-jarige Taryn, “draai ek om en sê ek vir hom om nooit weer aan my te raak nie. Dit vang die man gewoonlik onkant.” As jou teisteraar aanhou, moet jy ferm wees en nie tou opgooi nie. Wanneer dit by die handhawing van hoë sedelike standaarde kom, sê die Bybel: “Staan vas, op volwasse en selfversekerde wyse.”—Kolossense 4:12, The New Testament in Contemporary Language.

 Sê nou die teisteraar dreig om jou leed aan te doen? Moet hom dan nie konfronteer nie. Gee so gou moontlik pad, en vra die hulp van ’n volwassene wat jy vertrou.

 SITUASIE:

“Toe ek in graad ses was, het twee meisies my in die gang voorgekeer. Een van hulle was ’n lesbiër, en sy wou hê dat ek met haar moet uitgaan. Hoewel ek geweier het, het hulle aangehou om my elke dag tussen klasse te teister. Eenkeer het hulle my selfs teen die muur vasgedruk!”—Victoria, 18.

 Victoria kon gedink het: ‘As ek enigiemand hiervan vertel, sal ander dink dat ek swak is, en miskien sal niemand my glo nie.’

 Waarom dit waarskynlik nie sou gehelp het nie: As jy niemand daarvan vertel nie, sal die teisteraar moontlik aanhou en dan selfs ander teister.—Prediker 8:11.

 Probeer eerder die volgende: Vra hulp. Ouers en onderwysers kan jou die nodige ondersteuning gee om die teistering stop te sit. Maar sê nou die mense vir wie jy vertel, neem jou klag nie ernstig op nie? Probeer die volgende: Skryf die besonderhede neer elke keer dat jy geteister word. Skryf onder andere die dag, tyd en plek van elke voorval neer, sowel as wat die teisteraar gesê het. Gee dan ’n afskrif hiervan aan jou ouer of onderwyser. Baie mense beskou ’n geskrewe klag baie ernstiger as ’n mondelinge klag.

 SITUASIE:

“Ek was regtig bang vir die een seun op die rugbyspan. Hy was byna twee meter lank, en hy het sowat 135 kilogram geweeg! Hy het die idee gekry dat hy seks met my gaan hê. Hy het my amper elke dag lastig geval—’n hele jaar lank. Eendag was dit net ons twee in die klaskamer, en hy het na my toe begin loop. Ek het opgespring en by die deur uitgehardloop.”—Julieta, 18.

 Julieta kon gedink het: ‘Dis maar hoe seuns is.’

 Waarom dit waarskynlik nie sou gehelp het nie: Jou teisteraar sal waarskynlik nie sy gedrag verander as almal dink dat dit aanvaarbaar is nie.

 Probeer eerder die volgende: Weerstaan die versoeking om dit weg te lag of met ’n glimlag te reageer. Maak eerder seker dat jou reaksie—insluitende jou gesigsuitdrukking—dit vir jou teisteraar duidelik maak wat jy sal duld en nie sal duld nie.

 Wat kan ek daaromtrent doen?

 EERSTE WARE VERHAAL:

“Ek hou glad nie daarvan om onbeskof met mense te wees nie. Selfs wanneer mans my bly teister het, het ek dus net vir hulle gesê om op te hou—maar ek was nie baie ferm nie en het dit dikwels met ’n glimlag gesê. Hulle het gedink ek flankeer met hulle.”—Tabitha.

  •   Hoe sou jy teenoor daardie teisteraars opgetree het as jy Tabitha was? Waarom?

  •   Wat kan ’n teisteraar laat dink dat jy met hom of haar flankeer?

 TWEEDE WARE VERHAAL:

“Dit het alles begin met ’n paar smerige opmerkings deur ’n groepie seuns in my gimklas. Ek het hulle opmerkings ’n paar weke lank geïgnoreer, maar dit het net al hoe erger geword. Toe het die seuns langs my begin sit en hulle arms om my gesit. Ek het hulle weggestoot, maar hulle het dit aanhou doen. Later het een van die seuns vir my ’n stukkie papier met ’n aanstootlike boodskap daarop gegee. Ek het dit vir my onderwyser gegee. Die seun is geskors. Ek het besef dat ek reg aan die begin na my onderwyser moes gegaan het!”—Sabina.

  •   Waarom dink jy het Sabina besluit om nie vroeër na haar onderwyser te gaan nie? Dink jy dat sy ’n goeie besluit geneem het? Waarom of waarom nie?

 DERDE WARE VERHAAL:

“’n Seun het in die kleedkamer na my broer Greg toe gekom. Hy het baie na aan Greg kom staan en gesê: ‘Soen my.’ Greg het geweier, maar die seun wou nie weggaan nie. Om die waarheid te sê, Greg moes die seun van hom af wegstoot.”—Suzanne.

  •   Dink jy dat Greg ’n slagoffer van seksuele teistering was? Waarom of waarom nie?

  •   Waarom dink jy huiwer party seuns om vir iemand te vertel wanneer ’n ander seun hulle seksueel teister?

  •   Dink jy Greg het die situasie reg hanteer? Wat sou jy gedoen het?

Vind meer uit: Sien hoofstuk 32, Hoe kan ek my teen seksuele uitbuiters beskerm?” van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1.