Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

As jou kind leuens vertel

As jou kind leuens vertel

DIE UITDAGING

Jou vyfjarige seuntjie speel in die kamer langsaan. * Skielik hoor jy iets met ’n harde slag val. Jy hardloop na jou seuntjie toe en sien hom langs ’n blompot staan wat aan skerwe lê. Die skuldige uitdrukking op sy gesig spreek boekdele.

“Het jy die blompot gebreek?” vra jy hom streng.

“Nee, Mamma, ek het nie!” antwoord hy gou.

Dit is nie die eerste keer dat jou vyfjarige jou ’n blatante leuen vertel nie. Moet jy bekommerd wees?

WAT JY MOET WEET

Alle leuens is sleg. Die Bybel sê dat Jehovah God “’n valse tong” veroordeel (Spreuke 6:16, 17). Die Wet wat aan Israel gegee is, het streng maatreëls bevat teen enigiemand wat ’n ander mens bedrieg het.—Levitikus 19:11, 12.

Maar nie alle leuens is ewe ernstig nie. Party leuens is kwaadwillig; dit is bedoel om iemand anders te benadeel. Ander leuens word vertel omdat die persoon onder druk is, dalk om verleentheid of straf te vermy (Genesis 18:12-15). Hoewel alle leuens verkeerd is, is party leuens ernstiger as ander. Wanneer jou kind ’n leuen vertel het, moet jy sy ouderdom en beweegrede in ag neem.

Spreek die probleem aan terwyl jou kind nog jonk is. “Om die waarheid te praat, veral wanneer dit moeilik is, is ’n belangrike les vir kinders”, skryf dr. David Walsh. “Verhoudings is op vertroue gebaseer, en leuens sal hierdie vertroue skend.” *

Maar moenie paniekerig raak nie. Die feit dat jou kind ’n leuen vertel het, beteken nie dat hy vinnig op pad is na sedelike verdorwenheid nie. Dink aan die Bybel se woorde: “Dwaasheid sit vas in die hart van ’n [kind]” (Spreuke 22:15; voetnoot in NW). Party kinders toon sulke dwaasheid deur leuens te vertel, dalk omdat hulle dink dat dit ’n maklike manier is om straf vry te spring. Hoe jy reageer, is dus belangrik.

WAT JY KAN DOEN

Probeer onderskei waarom jou kind leuens vertel. Is hy bang om gestraf te word? Wil hy jou nie teleurstel nie? Gestel jou kind maak stories op om sy vriende te beïndruk. Doen hy dit dalk omdat hy nog nie oud genoeg is om die verskil tussen werklikheid en fantasie te verstaan nie? As jy weet waarom jou kind leuens vertel, sal jy in ’n beter posisie wees om hom reg te help.—Bybelbeginsel: 1 Korintiërs 13:11.

Gebruik soms stellings in plaas van vrae. In die scenario aan die begin van die artikel het die ma, wat reeds bewus was van die feite, haar seuntjie streng gevra: “Het jy die blompot gebreek?” Die kind het ’n leuen vertel, dalk omdat hy bang was dat sy ma kwaad sal word. Maar gestel die ma het nie ’n beskuldigende vraag gevra nie, maar eerder net gesê: “Ag nee, jy het die blompot gebreek!” Deur ’n stelling in plaas van ’n vraag te gebruik, bring sy die kind nie in die versoeking om ’n leuen te vertel nie—en help sy hom om in die gewoonte te kom om eerlik te wees.—Bybelbeginsel: Kolossense 3:9.

Prys eerlikheid. Kinders wil van nature hulle ouers behaag; gebruik dus hierdie neiging tot jou voordeel. Maak dit vir jou kind duidelik dat eerlikheid ’n belangrike gesinswaarde is en dat jy dus van hom verwag om eerlik te wees.—Bybelbeginsel: Hebreërs 13:18.

Help jou kind om te verstaan dat leuens vertroue vernietig en dat dit lank kan neem om vertroue te herwin as dit eers verlore is. Bevorder goeie gedrag deur hom te prys wanneer hy die waarheid praat. Jy kan byvoorbeeld sê: “Dit maak my bly dat jy eerlik is.”

Stel die voorbeeld. Jy kan natuurlik nie van jou kind verwag om eerlik te wees as hy jou dinge hoor sê soos “Sê vir hom dat ek nie by die huis is nie” wanneer jy nie met iemand oor die telefoon wil praat nie of “Ek neem vandag siekverlof” wanneer jy eintlik net wil ontspan.—Bybelbeginsel: Jakobus 3:17.

Gebruik die Bybel. Die beginsels en ware verhale daarin bevorder eerlikheid. Die boek Leer by die Groot Onderwyser, uitgegee deur Jehovah se Getuies, kan jou help om Bybelbeginsels by jou kind in te skerp. Hoofstuk 22 het die titel “Hoekom ons nie leuens moet vertel nie”. (Sien ’n uittreksel daarvan in die venster “ ’n Boek om jou kind te help”.)

^ par. 4 Ter wille van eenvoud verwys ons in hierdie artikel na die kind as ’n seun. Maar die beginsels wat bespreek word, is van toepassing op seuns sowel as meisies.

^ par. 11 Uit die boek No: Why Kids—of All Ages—Need to Hear It and Ways Parents Can Say It.