Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIÉ WAT TREUR

Hoe om die hartseer te hanteer — Wat jy vandag kan doen

Hoe om die hartseer te hanteer — Wat jy vandag kan doen

Daar is ’n berg inligting en voorstelle beskikbaar oor hoe om die pyn en hartseer te hanteer — party van die voorstelle werk natuurlik beter as ander. Dalk is dit omdat almal die pyn en hartseer anders hanteer, soos ons vroeër genoem het. Wat vir die een persoon werk, werk moontlik nie vir die ander persoon nie.

Maar tog is daar ’n paar basiese riglyne wat baie mense al gehelp het. Professionele raadgewers stel gereeld hierdie riglyne aan ander voor. Hierdie riglyne is niks nuuts nie en is gebaseer op waarhede wat ook in die Bybel gevind word, ’n eeue oue boek vol wysheid.

1: AANVAAR HULP VAN FAMILIE EN VRIENDE

  • Party kenners voel dat die hulp van familie en vriende die belangrikste manier is om die pyn en hartseer te hanteer. Maar soms wil jy dalk net alleen wees. Dalk raak jy selfs geïrriteerd met die mense wat jou probeer help. Dit is heeltemal normaal.

  • Moenie voel dat jy altyd tussen mense moet wees nie, maar moet hulle ook nie heeltemal wegstoot nie. Jy gaan dalk hulle hulp in die toekoms nodig hê. Laat ander op ’n liefdevolle manier weet wat jy nou nodig het en wat jy nie nodig het nie.

  • Dink aan jou situasie en aan wat jy nodig het, en vind ’n balans tussen jou alleentyd en hoeveel tyd jy met ander spandeer.

WAARHEID: “Twee is beter as een . . . Want as een van hulle val, kan die ander sy metgesel ophelp.” — Prediker 4:9, 10.

2: EET GESOND EN MAAK TYD VIR OEFENING

  • Om die pyn en hartseer te hanteer, kan baie stresvol wees. ’n Gebalanseerde dieet kan jou hiermee help. Probeer om ’n verskeidenheid vrugte, groente en laevetproteïene te eet.

  • Drink baie water en ander drinkgoed wat gesond is.

  • As jy nie baie lus is om te eet nie, eet kleiner porsies, maar meer gereeld. Jy kan ook jou dokter oor dieetaanvullings vra. *

  • As jy ’n ent vinnig gaan stap of ander oefeninge doen, kan dit die negatiewe gevoelens verminder. Oefening kan jou die kans gee om te dink aan wat jy verloor het of om net ’n bietjie daarvan te vergeet.

WAARHEID: “Niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit.” — Efesiërs 5:29, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (1983).

3: KRY GENOEG SLAAP

  • Slaap is altyd belangrik, veral vir mense wat treur, omdat die pyn en hartseer uitputtend kan wees.

  • Wees versigtig hoeveel kafeïen en alkohol jy drink, want dit kan sleg wees vir jou slaap.

WAARHEID: “’n Hand vol rus is beter as ’n dubbele hand vol harde werk en ’n gejaag na die wind.” — Prediker 4:6.

4: VIND UIT WAT VIR JOU WERK

  • Onthou dat almal die hartseer anders hanteer. Op die ou end sal jy self moet besluit watter plan van aksie vir jou die beste werk.

  • Baie mense vind dat dit help om hulle hart uit te stort, terwyl ander verkies om nie daaroor te praat nie. Moet jy met ander oor jou gevoelens praat om die pyn en hartseer suksesvol te hanteer? Kenners het verskillende opinies hieroor. As jy wel voel dat jy met iemand moet gesels, maar jy huiwerig is, kan jy dalk klein begin en vir ’n goeie vriend vertel hoe jy min of meer voel.

  • Party mense vind dat dit help om te huil, terwyl ander die pyn goed hanteer sonder om baie te huil.

WAARHEID: “Net ’n mens self ken die bitterheid van sy eie gemoed.” — Spreuke 14:10, NAB.

5: VERMY GEWOONTES WAT SLEG IS VIR JOU

  • Party probeer om hulle pyn en hartseer met drank en dwelms te verlig. Maar dit kan baie gevaarlik wees. Enige verligting wat ’n mens op hierdie manier kry, sal nie lank hou nie en kan baie slegte gevolge hê. Daar is veiliger maniere om jou stres en hartseer te hanteer.

WAARHEID: “Laat ons ons van alle besoedeling . . . reinig.” — 2 Korintiërs 7:1, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

6: BALANSEER JOU TYD

  • Alhoewel hulle soms treur, het dit baie mense al gehelp om tyd te maak vir aktiwiteite wat hulle help om minder aan die pyn en hartseer te dink.

  • Dit kan jou dalk bietjie beter laat voel as jy nuwe vriende maak, met ou vriende kuier, nuwe vaardighede leer of tyd maak vir ontspanning.

  • Hoe jy jou tyd gebruik, sal moontlik na ’n ruk begin verander. Soos wat jou hart genees, sal jy dalk vind dat die tye wat jy treur al hoe korter en verder uitmekaar raak.

WAARHEID: “Elke ding het sy vaste tyd, . . . ’n tyd om te huil, ’n tyd om te lag, ’n tyd om te treur, ’n tyd om van blydskap te dans.” — Prediker 3:1, 4, NAB.

7: BLY BY ’N ROETINE

  • Kom so gou as moontlik weer in ’n normale roetine.

  • Dit sal jou help om te voel asof dinge weer normaal word as jy by jou roetine van slaap, werk en ander aktiwiteite bly.

  • As jy besig bly met goeie dinge wat jou beter laat voel, kan dit jou help om die pyn te verminder.

WAARHEID: “Want hy sal nie dikwels aan sy lewensdae dink nie, omdat die ware God hom besig hou met die blydskap van sy hart.” — Prediker 5:20.

8: MOENIE ONMIDDELLIK GROOT BESLUITE MAAK NIE

  • Baie wat groot besluite gemaak het kort nadat hulle hulle geliefde verloor het, was later spyt daaroor.

  • As dit vir jou moontlik is, wag eers ’n rukkie voordat jy trek, van werk verander of van jou geliefde se besittings ontslae raak.

WAARHEID: “Wat hardwerkende mense beplan, is nuttig, maar elkeen wat oorhaastig is, stuur af op gebrek.” — Spreuke 21:5, NAB.

9: ONTHOU JOU GELIEFDE

  • Baie vind dat dit vir hulle goed is om dinge te doen wat hulle help om die herinneringe van hulle geliefde lewendig te hou.

  • Dit sal jou dalk vertroos as jy foto’s en ander goedjies bymekaarmaak wat jou aan die persoon herinner. Of jy kan ondervindinge en stories wat jy graag wil onthou, in ’n dagboek neerskryf.

  • Moenie die dinge weggooi wat jou goeie herinneringe gee nie. Wanneer jy later beter voel, kan jy daarna kyk.

WAARHEID: “Dink aan die dae van die ou tyd.” — Deuteronomium 32:7.

10: KOM ’N BIETJIE WEG

  • Dalk kan ’n vakansie jou goeddoen.

  • As dit nie vir jou prakties is om op ’n lang vakansie te gaan nie, kan jy dalk vir ’n dag of twee ietsie lekkers doen. Byvoorbeeld, gaan op ’n staproete, besoek ’n museum of gaan ry net ’n bietjie rond.

  • Selfs om net vir ’n slag iets anders te doen, kan jou help om beter te voel.

WAARHEID: “Kom julle alleen na ’n eensame plek en rus ’n bietjie.” — Markus 6:31.

11: HELP ANDER

  • Onthou dat dit jou sal help om beter te voel as jy tyd maak om ander te help.

  • Jy kan dalk begin deur ander te help wat ook geraak is deur die dood van jou geliefde, soos vriende of familie wat ’n skouer nodig het om op te huil.

  • As jy ander ondersteun en vertroos, kan dit jou weer gelukkig maak. Dit kan jou ook laat voel dat jou lewe betekenisvol is, iets wat jy dalk op hierdie tyd regtig nodig het.

WAARHEID: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.” — Handelinge 20:35.

12: DINK WEER OOR JOU PRIORITEITE

  • Wanneer jy treur, kan dit jou help om te besef watter dinge regtig belangrik is.

  • Gebruik hierdie kans om mooi te dink oor hoe jy jou lewe gebruik.

  • Maak ’n paar veranderinge aan jou prioriteite, as dit nodig is.

WAARHEID: “Dit is beter om na die huis van rou te gaan as om na die huis van feesmaaltye te gaan, want dit is die einde van die hele mensdom; en die lewende moet dit ter harte neem.” — Prediker 7:2.

Natuurlik gaan niks jou pyn heeltemal wegvat nie. Baie wat al ’n geliefde verloor het, kan uit eie ondervinding sê dat daar wel dinge is wat jy kan doen om die pyn en hartseer te hanteer. Die voorstelle wat byvoorbeeld in hierdie artikel genoem is, kan jou baie help. Dit is nie ’n volledige lys van alles wat jy kan doen nie. Maar as jy ’n paar van hierdie voorstelle probeer, sal dit jou baie met die pyn en hartseer help.

^ par. 13 Ontwaak! beveel geen spesifieke behandeling aan nie.