Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | SIEKTE—HOE OM JOU TE BESKERM

Beskerm jou teen siekte

Beskerm jou teen siekte

TALLE ou stede is deur massiewe mure beskerm. As ’n vyand dit reggekry het om deur ’n klein opening in ’n muur te breek, was die veiligheid van die hele stad in gevaar. Jou liggaam is soos ’n ommuurde stad. Die manier waarop jy jou liggaam beskerm, het ’n groot uitwerking op hoe gesond jy is. Kom ons bespreek vyf elemente wat jou aan siekte kan blootstel en wat die beste maniere is om jou daarteen te beskerm.

1 WATER

DIE GEVAAR: Skadelike organismes kan jou liggaam maklik deur besoedelde water binnedring.

HOE JY JOU KAN BESKERM: Die beste manier om jou te beskerm, is om te sorg dat jou water nie besoedel word nie. As jy weet of vermoed dat jou water besoedel is, kan jy die water by die huis behandel om dit veilig te maak. * Berg drinkwater in ’n toe houer met ’n kraan, of gebruik ’n skoon skepding om dit op ’n higiëniese manier uit te gooi. Moet nooit jou hande in die skoon water druk nie. As dit moontlik is, moet jy probeer om in ’n gemeenskap te woon wat behoorlik van menslike afval ontslae raak. Dit voorkom dat plaaslike waterbronne besmet word.

2 VOEDSEL

DIE GEVAAR: Skadelike organismes kan in of op jou kos wees.

HOE JY JOU KAN BESKERM: Besmette kos kan vars en voedsaam lyk. Kom dus in die gewoonte om alle vrugte en groente goed te was. Maak seker dat alle kombuisgereedskap, oppervlaktes en jou hande skoon is wanneer jy kos maak of bedien. Party voedselsoorte moet teen ’n sekere temperatuur gaargemaak word om gevaarlike bakterieë dood te maak. Pas op vir kos wat verkleur het of sleg ruik of smaak—dit is tekens dat ’n magdom mikro-organismes dalk wag om jou aan te val. Sit kos wat jy nie gaan gebruik nie so gou as moontlik in die yskas. Moenie vir ander mense kos maak wanneer jy siek is nie. *

3 INSEKTE

DIE GEVAAR: Party insekte is draers van skadelike mikro-organismes, en hulle kan dit aan jou oordra.

HOE JY JOU KAN BESKERM: Beperk kontak met insekte wat siektes dra. Bly binne wanneer hulle aktief is of dra beskermende klere, soos langmouklere en langbroeke. Slaap onder inseknette wat met insekafweermiddels behandel is, en spuit of smeer dit ook aan jou lyf. Raak ontslae van houers met stilstaande water waar muskiete kan uitbroei. *

4 DIERE

DIE GEVAAR: Bakterieë wat in diere woon maar onskadelik is vir hulle, kan jou gesondheid in gevaar stel. Jy kan aan hierdie bakterieë blootgestel word as ’n troeteldier of ’n ander dier jou byt of krap of as jy in aanraking kom met hulle ontlasting.

HOE JY JOU KAN BESKERM: Party mense verkies om hulle diere buite die huis te hou om kontak met hulle te beperk. Was jou hande nadat jy aan ’n huisdier geraak het en vermy alle kontak met wilde diere. As jy gebyt of gekrap word, moet jy die wond deeglik was en dokter toe gaan. *

5 MENSE

DIE GEVAAR: Party kieme word in klein druppeltjies liggaamsvloeistowwe gevind en hierdie kieme kan aan jou oorgedra word wanneer iemand hoes of nies. Dit kan ook versprei wanneer jy iemand ’n drukkie gee of iemand se hand skud. Mikro-organismes van ander mense kan ook op deurhandvatsels, handrelings, telefone, afstandbeheerders of rekenaarskerms en -toetsborde gevind word.

HOE JY JOU KAN BESKERM: Moenie persoonlike items soos skeermesse, tandeborsels of handdoeke deel nie. Moenie aan liggaamsvloeistowwe, insluitende bloed en bloedprodukte, van diere of ander mense, raak nie. En moenie die voordele onderskat wat dit inhou om jou hande deeglik en gereeld te was nie. Dit is heel waarskynlik die doeltreffendste manier om te keer dat siektes versprei.

As dit moontlik is, moet jy by die huis bly wanneer jy siek is. Die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming beveel aan dat jy ’n sneesdoekie of jou mou gebruik wanneer jy hoes of nies, maar nooit jou hande nie.

’n Ou spreuk sê: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het” (Spreuke 22:3). Hoe waar is hierdie woorde tog vandag in ’n wêreld wat vol gevaarlike siektes is! Kry dus meer inligting by plaaslike gesondheidsdienste, en beskerm jou teen gevaar deur goeie higiëne te handhaaf. Doen alles in jou vermoë om jou teen siektes te beskerm!

^ par. 6 Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel verskeie metodes aan waarop ’n mens water by die huis veiliger kan maak. Jy kan dit met chloor behandel, filtreer, kook of van son-ontsmetting gebruik maak.

^ par. 9 Vir meer inligting oor hoe om seker te maak dat jou kos veilig is, sien die Ontwaak! van Junie 2012, bladsy 3-9.

^ par. 12 Vir spesifieke maniere om jou teen malaria te beskerm, sien die Ontwaak! van Julie 2015, bladsy 14-15.

^ par. 15 As jy kontak gehad het met ’n giftige dier en daardeur beseer is, het jy gewoonlik dringend mediese behandeling nodig.