Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sy het tot die familie van Kajafas behoort

Sy het tot die familie van Kajafas behoort

’n Argeologiese ontdekking bevestig soms direk of indirek die bestaan van ’n Bybelkarakter. Byvoorbeeld, in 2011 het Israeliese geleerdes inligting gepubliseer oor ’n vonds wat juis dít doen. Dit is ’n 2 000 jaar oue ossuarium—’n versierde kalksteenkis waarin die beendere van ’n afgestorwene geplaas is nadat die vlees ontbind het.

Hierdie ossuarium bevat die inskripsie: “Mirjam, die dogter van Jesjoea, die seun van Kajafas, priester van Maäsja van Bet ʹImri.” Die Joodse hoëpriester wat by Jesus se verhoor en teregstelling betrokke was, was Kajafas (Joh. 11:48-50). Die geskiedskrywer Flavius Josefus verwys na hom as “Josef, wat Kajafas genoem is”. Hierdie ossuarium was blykbaar een van sy familielede s’n. Aangesien die inskripsie op ’n ossuarium wat vroeër ontdek is en vermoedelik dié van die hoëpriester self was, hom Jehosef bar Kajafa, of Josef, die seun van Kajafas, * noem, was Mirjam op die een of ander manier aan Kajafas verwant.

Volgens inligting wat deur Israel se oudhede-owerheid (IAA) verskaf is, is Mirjam se ossuarium van diewe afgeneem wat ’n ou graf geplunder het. Ontleding van hierdie artefak en die inskripsie daarop bevestig die egtheid daarvan.

Die ossuarium vertel ons ook iets nuuts. Dit verwys na “Maäsja”, die laaste van die 24 priesterlike afdelings wat om die beurt by Jerusalem se tempel gedien het (1 Kron. 24:18). Die inskripsie op hierdie ossuarium toon dat “die Kajafas-familie betrokke was by die Maäsja-afdeling”, sê die IAA.

Die inskripsie meld ook Bet ʹImri. Daar is twee moontlike verklarings vir hierdie deel van die inskripsie. “Die eerste moontlikheid is dat Bet ʹImri die naam is van ’n priesterlike familie—die kinders van ’Immer (Esra 2:36, 37; Neh. 7:39-42) wie se nakomelinge lede van die Maäsja-afdeling ingesluit het”, sê die IAA. “Die tweede moontlikheid is [dat Bet ʹImri] die oorledene of haar hele familie se plek van herkoms [is].” Hoe dit ook al sy, Mirjam se ossuarium bewys dat die Bybel van werklike mense praat wat tot werklike families behoort het.

^ par. 3 Vir inligting oor die ossuarium van Kajafas, sien die artikel “Die hoëpriester wat Jesus veroordeel het”, in Die Wagtoring van 15 Januarie 2006, bladsye 10-13.