Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle het hulle gewillig aangebied—In Taiwan

Hulle het hulle gewillig aangebied—In Taiwan

TOT ongeveer vyf jaar gelede het Choong Keon en Julie, ’n egpaar wat nou in hulle middel-30’s is, as gewone pioniers in Sydney, Australië, gedien. “Ons het deeltydse sekulêre werk gehad en ’n gemaklike lewe gelei”, sê Choong Keon. “Waar ons gewoon het, was die weer aangenaam en die lewenswyse ontspanne. Ons het dit geniet om naby ons familie en vriende te wees.” Maar daar was iets wat Choong Keon en Julie nog steeds gepla het. Waarom? Hulle het geweet dat hulle omstandighede hulle toelaat om meer in Jehovah se diens te doen, maar hulle het gehuiwer om die nodige veranderinge aan te bring.

Toe het hulle by ’n byeenkoms in 2009 ’n toespraak gehoor wat hulle diep geraak het. Die spreker het sy woorde gerig aan diegene wat hulle bediening kon uitbrei. Hy het gesê: “Dink hieraan: ’n Bestuurder kan sy motor links of regs laat draai, maar slegs as die motor beweeg. Net so kan Jesus ons rig om ons bediening uit te brei, maar slegs as ons beweeg—as ons ons werklik inspan om ons doelwitte te bereik.” * Die egpaar het gevoel dat die spreker direk met hulle praat. By daardie selfde byeenkoms is ’n onderhoud gevoer met ’n sendelingegpaar wat in Taiwan dien. Hulle het gepraat oor die vreugde in die bediening en het beklemtoon dat daar nog baie hulp nodig is. Choong Keon en Julie het weer gevoel asof hierdie woorde net aan hulle gerig is.

“Ná daardie byeenkoms”, sê Julie, “het ons tot Jehovah gebid om ons die moed te gee om na Taiwan te trek.” Sy voeg by: “Maar ons was bang. Dit het gevoel asof ons vir die eerste keer aan die diepkant van ’n swembad inspring.” ’n Teks wat hulle gehelp het om hierdie sprong te maak, was Prediker 11:4, wat sê: “Hy wat die wind dophou, sal nie saad saai nie; en hy wat na die wolke kyk, sal nie oes nie.” Choong Keon sê: “Ons het besluit om op te hou ‘kyk’ en eerder te begin ‘saai en oes’.” Hulle het gebid—en nogmaals gebid—lewensverhale van sendelinge gelees, baie e-posse uitgeruil met diegene wat reeds na Taiwan getrek het, hulle motors en meubels verkoop en drie maande later in Taiwan opgedaag.

HULLE HET DIE VREUGDE VAN DIE PREDIKINGSWERK ONTDEK

Meer as 100 broers en susters uit ander lande dien tans in Taiwan in gebiede waar die behoefte aan Koninkryksverkondigers baie groot is. Hulle kom van Australië, Brittanje, Frankryk, Japan, Kanada, Korea, Spanje en die Verenigde State, en hulle ouderdomme wissel van 21 tot 73. Onder hulle is meer as 50 ongetroude susters. Wat het hierdie ywerige broers en susters gehelp om hulle bediening in ’n ander land uit te voer? Kom ons vind uit.

Laura

Laura, ’n ongetroude suster van Kanada, dien as ’n pionier in Wes-Taiwan. Maar sowat tien jaar gelede het sy glad nie van die predikingswerk gehou nie. Laura verduidelik: “Ek het in die bediening uitgegaan, maar net genoeg om nie daarvan te hou nie.” Toe het vriende in Kanada haar gevra om ’n maand lank saam met hulle aan die predikingswerk in Mexiko deel te neem. “Dit was die eerste keer dat ek werklik tyd aan die bediening bestee het, en tot my verbasing was dit wonderlik!”

Daardie aangename ondervinding het Laura beweeg om dit te oorweeg om na ’n anderstalige gemeente in Kanada te trek. Sy het ingeskryf vir ’n Chinese kursus, saam met ’n Chinese groep gedien en die doelwit gestel om na Taiwan te trek, wat in September 2008 ’n werklikheid geword het. “Dit het my omtrent ’n jaar geneem om gemaklik te voel in my nuwe omgewing”, sê Laura, “maar nou kan ek my nie voorstel dat ek weer na Kanada sal teruggaan nie.” Hoe voel sy oor die predikingswerk? “Dit is baie lekker”, sê sy. “Daar is niks bevredigender as om te sien hoe Bybelstudente hulle lewe verander terwyl hulle Jehovah leer ken nie. Om in Taiwan te dien, het my die geleentheid gegee om hierdie diep vreugde baie kere te ondervind.”

DIE TAALGRENS

Brian en Michelle

Brian en Michelle, ’n egpaar in hulle middel-30’s van die Verenigde State, het omtrent agt jaar gelede na Taiwan getrek. Hulle het eers gevoel dat hulle nie ’n betekenisvolle aandeel aan die bediening het nie. Maar ’n ervare sendeling het vir hulle gesê: “Al kan julle net vir iemand ’n traktaat gee, moet julle onthou dat dit waarskynlik die heel eerste keer is dat daardie persoon ’n boodskap oor Jehovah ontvang. Julle het dus reeds ’n belangrike aandeel aan die bediening!” Daardie aanmoedigende kommentaar het Brian en Michelle gehelp om nie tou op te gooi nie. ’n Ander broer het vir hulle gesê: “As julle nie ontmoedig wil word nie, moet julle nie julle vordering in Chinees van dag tot dag meet nie, maar van byeenkoms tot byeenkoms.” En hulle het inderdaad vooruitgang gemaak en is vandag doeltreffende pioniers.

Wat kan jou aanmoedig om die projek aan te pak om ’n nuwe taal te leer? Probeer om die land waar jy wil dien, te besoek. Woon die vergaderinge by, assosieer met die plaaslike broers en susters en doen velddiens saam met hulle. Brian sê: “As jy eers gesien het hoeveel mense gunstig op die Koninkryksboodskap reageer en die hartlike liefde van die broers en susters ondervind, sal dit jou beweeg om die uitdagings te aanvaar om in ’n ander land te dien.”

WAT VAN SEKULÊRE WERK?

Kristin en Michelle

Talle wat in Taiwan gaan dien het waar daar hulp nodig is, kon hulleself in die pionierdiens ondersteun deur Engelse lesse te gee. Kristin en Michelle verkoop seekos. Kristin verduidelik: “Ek het dit nog nooit gedoen nie, maar hierdie soort werk help my om in die land te kan bly.” Mettertyd het Kristin ’n paar gereelde klante gekry. Hierdie deeltydse werk het hom in staat gestel om hom en sy vrou finansieel te ondersteun, en dit gee hulle genoeg tyd om deel te neem aan hulle primêre bedrywigheid—om as pioniers vissers van mense te wees.

“GENIET DIE REIS”

William en Jennifer, ’n egpaar van die Verenigde State, het omtrent sewe jaar gelede in Taiwan aangekom. “Dit was soms uitputtend om die taal te leer, te pionier en na die gemeente sowel as ’n paar finansiële sake om te sien”, sê William. Wat het hulle gehelp om suksesvol te wees en gelukkig te bly? Hulle probeer om redelike doelwitte te stel. Byvoorbeeld, hulle het nie onredelike verwagtinge gehad terwyl hulle Chinees geleer het nie, en hulle het nie toegelaat dat dit hulle onderkry wanneer hulle vordering stadig was nie.

William en Jennifer

William onthou dat ’n reisende opsiener eenkeer vir hom gesê het: “Geniet die reis, nie net die bestemming nie.” Met ander woorde, nadat ons ’n geestelike doelwit gestel het, moet ons die stappe wat ons doen om die doelwit te bereik, geniet. Hierdie raad, sê William, het hom en sy vrou gehelp om aanpasbaar te wees, om na die raad van die verantwoordelike plaaslike broers te luister en om hulle manier van doen aan te pas sodat hulle ’n sukses kan maak van hulle bediening in ’n nuwe land. Hy voeg by: “Dit het ons ook gehelp om te onthou dat ons die tyd moet neem om die natuurskoon van ons eilandtoewysing te geniet.”

Megan, ’n ongetroude pioniersuster van die Verenigde State, geniet ook haar ‘reis’ terwyl sy haar doelwit nastreef om haar vlotheid in Chinees te verbeter. Elke naweek gaan sy saam met ’n groep verkondigers wat in ’n interessante gebied preek—die grootste hawe in Taiwan, Kau-sjioeng. Megan het die goeie nuus van skip tot skip verkondig en gepreek vir vissermanne van Bangladesj, die Filippyne, Indië, Indonesië, Thailand en Vanuatu. “Aangesien die vissermanne net ’n kort tydjie in die hawe is, begin ons daar en dan ’n Bybelstudie met hulle. Om hulle almal te bereik, studeer ek dikwels met vier of vyf mense op dieselfde tyd.” En hoe vaar sy met haar Chinees? Sy sê: “Ek wens dat ek vinniger kan leer, maar ek hou in gedagte wat ’n broer eenkeer vir my gesê het: ‘Doen jou bes, en Jehovah sal sorg vir die res.’”

Megan

VEILIG, EENVOUDIG EN OPWINDEND

Voordat Cathy, van Brittanje, na die buiteland getrek het, het sy navorsing gedoen oor watter buitelandse toewysing veilig sou wees vir ’n ongetroude suster. Sy het haar vrese in gebed aan Jehovah genoem, en sy het aan verskeie takkantore geskryf om uit te vind watter moontlike gevare daar vir ongetroude susters is. Daarna het sy die antwoorde op haar briewe sorgvuldig oorweeg en tot die slotsom gekom dat Taiwan ’n gepaste keuse vir haar sou wees.

In 2004, op 31-jarige ouderdom, het Cathy na Taiwan getrek, waar sy so eenvoudig moontlik lewe. Sy sê: “Ek het die broers en susters gevra waar die beste plekke is om goedkoop vrugte en groente te koop. Hulle goeie wenke het my gehelp om geld te spaar.” Wat help haar om ’n eenvoudige lewe te lei? Cathy sê: “Ek bid dikwels tot Jehovah om my te help om tevrede te wees met die eenvoudige kos wat ek eet en die beskeie klere wat ek dra. Ek voel dat Jehovah my gebede verhoor deur my te leer wat ek werklik nodig het en deur my te help om nie die ander dinge te mis nie.” Sy voeg by: “Ek geniet my eenvoudige lewenswyse, want dit help my om op geestelike belange te konsentreer.”

Cathy

Maar Cathy se lewe is nie net eenvoudig nie. Dit is ook opwindend. Sy verduidelik waarom: “Ek kan in ’n gebied preek waar baie mense gunstig op die goeie nuus reageer. Dit is fantasties!” Toe sy in Taiwan aangekom het, was daar twee Chinese gemeentes in die stad waar sy as ’n pionier begin dien het, maar vandag is daar sewe gemeentes. Cathy sê: “Om sulke wonderlike groei te sien en ’n deel aan die oeswerk te hê, maak my daaglikse lewe baie opwindend!”

‘HULLE HET SELFS VIR MY NODIG GEHAD!’

Hoe het dinge afgeloop vir Choong Keon en Julie, wat aan die begin van die artikel genoem is? Choong Keon het aanvanklik gedink dat hy nie baie in die gemeente gebruik kan word nie as gevolg van sy beperkte Chinees. Maar die plaaslike broers het nie so gedink nie. “Toe ons gemeente in twee gemeentes verdeel is, is ek as ’n bedieningskneg meer verantwoordelikhede gegee”, sê Choong Keon. “Op daardie oomblik het ek werklik gevoel dat ek dien waar daar meer hulp nodig is. Dit was wonderlik dat hulle selfs vir my nodig gehad het!”, sê hy met ’n glimlag. Vandag dien hy as ’n ouer man. Julie voeg by: “Ons voel dat ons iets bereik het, en ons is tevrede en gelukkiger as ooit tevore. Ons het hierheen gekom om te help, maar ons voel dat ons eintlik deur hierdie opwindende ondervinding gehelp is. Ons dank Jehovah dat hy ons toelaat om hier te dien!”

In baie lande is daar nog steeds ’n behoefte aan meer werkers in die geestelike oes. Voltooi jy jou skoolopleiding binnekort, en wonder jy wat jy met jou lewe moet doen? Is jy ongetroud, en wil jy graag meer gebruik word in Jehovah se organisasie? Wil jy graag vir jou gesin ’n ryk geestelike erfenis gee? Het jy afgetree, en het jy ’n leeftyd van kosbare ondervinding wat jy met ander kan deel? Jy kan seker wees dat ryk seëninge op jou wag as jy besluit om jou bediening uit te brei deur te dien waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is.