Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

1 Hoe om probleme te vermy

1 Hoe om probleme te vermy

Die Bybel sê dat die raad daarin geïnspireer is en “nuttig [is] om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel” (2 Timoteus 3:16). Is dit waar? Kom ons kyk hoe die Bybel se raad mense gehelp het om party van die lewe se moeilikste probleme te vermy voordat hulle daarin vasgevang is.

MISBRUIK VAN ALKOHOL

Delphine, wat in die vorige artikel genoem is, het gevoel dat haar probleme veroorsaak dat sy te veel begin drink. Die Bybel sê nie dat dit verkeerd is om ’n redelike hoeveelheid alkohol te drink nie, maar dit sê wel: “Moenie onder die wynsuipers wees . . . nie” (Spreuke 23:20). Die misbruik van alkohol het al veroorsaak dat mense ernstig siek raak, dat verhoudings beskadig word en misluk en dat miljoene mense voor hulle tyd doodgaan. Baie mense kon hierdie probleme vermy het as hulle die Bybel se goeie raad gevolg het.

Delphine het dit gedoen. Nou sê sy: “Ek het besef dat alkohol nie my probleme gaan oplos nie. Ek het die goeie raad in Filippense 4:6, 7 toegepas, wat sê: ‘Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke . . . by God bekend word.’ Elke aand wanneer my gedagtes op hol gegaan en ek begin stres het, het ek tot Jehovah gebid. Ek het hom van al my gevoelens vertel, hoe kwaad, hoe seer en hoe moedeloos ek was. Ek het hom gesmeek om my te help om meer positief te voel. Die volgende oggend het ek seker gemaak dat daardie gevoelens nie weer by my opkom nie. Hierdie gewoonte het my gehelp om te konsentreer op wat ek het in plaas van wat ek nie het nie. Ek het besluit om nooit weer alkohol te drink nie. Die vrede wat ek gekry het, het vir my soveel beteken dat ek niks wou doen om dit te verloor nie.”

SEKSUELE SONDE

Daar is min probleme wat soveel hartseer en pyn veroorsaak soos seksuele sonde. Maar Bybelwaarhede kan ons help om sulke probleme te vermy deur ons bewus te maak van party van die oorsake daarvan soos om te flirt met iemand met wie jy nie in ’n verhouding is nie en om na pornografie te kyk. “Dit was so maklik om te flirt”, sê ’n jong man met die naam Samuel. “Partykeer het ek nie eers van die persoon gehou nie, maar ek kon sien dat sy van my hou. Dit het dit lekker gemaak om te flirt.” Samuel is so gereeld daarvan beskuldig dat hy flirt, selfs al het hy nie bedoel om dit te doen nie, dat hy uiteindelik besluit het om aspris te flirt. Maar hierdie gewoonte het hom gepla. Hy sê nou: “Dit was nie goed vir my nie, want dit het veroorsaak dat ek selfsugtig word.”

Samuel het ’n artikel vir jongmense op die webwerf jw.org gelees. En hy het oor Spreuke 20:11 nagedink, wat sê: “Deur sy handelinge laat ’n seun hom tog ken, of sy optrede suiwer en reg is.” Hoe het dit hom gehelp? Samuel het besef dat dit nie suiwer of reg is om te flirt nie. Hy sê nou: “Ek het ook geleer dat ’n jong persoon wat flirt, eienskappe ontwikkel wat kan veroorsaak dat hy ’n slegte huweliksmaat sal wees. Ek het begin dink oor hoe my toekomstige vrou sou voel as sy my met ’n ander vrou sien flirt. Dit het my laat besef dat die gewoonte slegte gevolge kan hê. Net omdat dit maklik is, beteken dit nie dat dit reg is nie.” Samuel het verander. Omdat hy dit vermy om te flirt, het dit hom gehelp om seksuele sonde te vermy.

Antonio was in selfs groter gevaar om seksueel te sondig. Hy was aan pornografie verslaaf. Hoewel hy getroud was en baie lief was vir sy vrou, het hy oor en oor daarna gekyk. Hy sê dat dit hom baie gehelp het om oor 1 Petrus 5:8 te dink. Dit sê: “Bly nugter van verstand, wees waaksaam. Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind.” Antonio sê: “Pornografiese prente is oral om ons in hierdie wêreld, en dit kan in jou verstand vassteek. Daardie vers het my regtig gehelp om te dink aan waar hierdie versoekings vandaan kom. Ek moes leer om dadelik daaraan te dink dat hierdie vieslike prente van die Duiwel af kom. Nou weet ek dat net Jehovah my kan help om ‘nugter van verstand te bly en waaksaam te wees’ sodat ek teen hierdie aanvalle op my verstand, my hart en my huwelik kan veg.” Antonio het die hulp gekry wat hy nodig gehad het, en hy het uiteindelik hierdie slegte gewoonte oorkom. Dit het hom weer gehelp om selfs groter probleme te vermy.

Dit is duidelik dat die Bybel vir ons praktiese raad gee wat ons kan help om ernstige probleme te vermy. Maar wat van probleme wat alreeds wortelgeskiet het en waarmee ons aanhoudend sukkel? Kom ons kyk hoe God se Woord ons kan help om sulke moeilike probleme op te los.

Die Bybel se praktiese raad kan ons help om party probleme te vermy