Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.” – Jakobus 4:8

Hoor God ons gebede?

Hoor God ons gebede?

Het jy al ooit gewonder of God jou hoor wanneer jy bid? As jy so voel, is jy nie alleen nie. Baie het al tot God gebid oor sekere probleme, maar die probleme gaan nie weg nie. Beteken dit dat God ons gebede ignoreer? Nee! Die Bybel verseker ons dat God na ons luister wanneer ons tot hom bid op die regte manier. Kom ons kyk na wat die Bybel sê.

GOD LUISTER WEL.

“O Hoorder van gebed, alle soorte mense sal na u toe kom.” – Psalm 65:2.

Party mense bid omdat hulle sê dat dit hulle beter laat voel, selfs al glo hulle nie regtig dat iemand na hulle luister nie. Maar gebed is nie iets wat ons doen net om beter te voel sodat ons ons probleme kan hanteer nie. Die Bybel verseker ons: “Jehovah * is naby almal wat hom aanroep, almal wat hom in opregtheid aanroep. . . . Hy hoor hulle geroep om hulp.” – Psalm 145:18, 19.

Daarom kan ons seker wees dat Jehovah God die gebede van sy aanbidders hoor. Hy sê liefdevol: “Julle sal my aanroep en tot my kom bid, en ek sal na julle luister.” – Jeremia 29:12.

GOD WIL HÊ DAT JY TOT HOM MOET BID.

“Hou vol met gebed.” – Romeine 12:12.

In die Bybel word ons aangemoedig om ‘aanhoudend te bid’ en “om by elke geleentheid . . . te bid”. Dit is duidelik dat Jehovah God wil hê dat ons tot hom moet bid. – Matteus 26:41; Efesiërs 6:18.

Hoekom wil God hê dat ons tot hom moet bid? Dink hieraan: ’n Pa is bly wanneer sy jong kind hom vra om hom te help. Die pa weet natuurlik alreeds wat sy kind nodig het of hoe hy voel, maar wanneer hy hoor dat sy kind hom vir hulp vra, wys dit vir hom dat sy kind hom vertrou en na aan hom is. Net so wanneer ons tot Jehovah God bid, wys ons vir hom dat ons hom vertrou en dat ons na aan hom wil wees. – Spreuke 15:8; Jakobus 4:8.

GOD GEE REGTIG VIR JOU OM.

“Gee al julle bekommernisse oor aan God, want hy gee om vir julle.” – 1 Petrus 5:7.

God wil hê dat ons tot hom moet bid omdat hy lief is vir ons en vir ons omgee. Hy is heeltemal bewus van ons probleme en bekommernisse, en hy wil ons help.

Koning Dawid het sy hele lewe lank tot Jehovah God gebid vir hulp en Hom van sy gedagtes en gevoelens vertel (Psalm 23:1-6). Hoe het God oor Dawid gevoel? God was lief vir Dawid en het na sy gebede geluister (Handelinge 13:22). Net so luister God na ons gebede omdat hy vir ons omgee.

“EK IS LIEF VIR JEHOVAH, WANT HY HOOR MY STEM”

Dit is die woorde van een van die skrywers van die psalms in die Bybel. Hy het geweet dat God na sy gebede luister, en dit het hom baie gehelp. Hy het nader aan God gevoel en het die krag gekry om die bekommernisse en hartseer in die lewe te hanteer. – Psalm 116:1-9.

Wanneer ons seker is dat God ons gebede hoor, sal ons aanhou om tot hom te bid. Kyk na die voorbeeld van Pedro, wat in die noorde van Spanje woon. Hy het sy 19-jarige seun in ’n ongeluk verloor. Pedro was baie hartseer, en hy het sy hart voor God uitgestort en het oor en oor vir vertroosting en ondersteuning gebid. Wat het gebeur? Pedro sê: “Jehovah het my gebede beantwoord deur die vertroosting en ondersteuning wat ek en my vrou by mede-Christene gekry het.”

Ons gebede word baie keer beantwoord deur die vertroosting en ondersteuning van vriende wat lief is vir ons

Hoewel gebed nie Pedro se seun weer lewend gemaak het nie, het dit hom en sy familie baie gehelp. Sy vrou, María Carmen, sê: “Gebed het my gehelp om my hartseer te verduur. Ek het geweet dat Jehovah God my verstaan omdat ek innerlike vrede en kalmte gekry het wanneer ek tot hom gebid het.”

Die Bybel en persoonlike ondervindinge wys duidelik dat God ons gebede hoor. Maar dit is ook duidelik dat God nie alle gebede beantwoord nie. Hoekom beantwoord God party gebede en nie ander nie?

^ par. 5 Jehovah is God se persoonlike naam. – Psalm 83:18.