Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoekom die lewe wel die moeite werd is

Hoekom die lewe wel die moeite werd is

Faizal moes omtrent ’n jaar ná sy vrou se dood ’n groot hartoperasie ondergaan. Hy sê: “Toe ek die boek Job gelees het, het ek geweet dat Jehovah dit vir ’n rede in die Bybel gesit het. Wanneer ons in die Bybel ’n voorbeeld vind van iemand met wie ons kan identifiseer, help dit om die pyn in ons hart te verlig.” Hy voeg by: “Die lewe is nog steeds die moeite werd.”

Tarsha was nog jonk toe haar ma oorlede is. Sy sê: “Vriendskap met ons Skepper gee ’n mens ’n doel in die lewe sowel as hoop en vreugde, ten spyte van die probleme wat ons dalk ondervind. Jehovah het beslis die vermoë om ons te ondersteun en te help om deur elke dag te kom.”

DIE VORIGE artikels wys hoe verskeie traumatiese ondervindinge die lewe ondraaglik kan laat voel. Terwyl jy met jou persoonlike probleme worstel, wonder jy dalk of die lewe die moeite werd is en of enigiemand vir jou omgee. Jy kan seker wees dat God wel oor jou besorg is en jou wil help. Jy is baie kosbaar vir hom.

Die skrywer van Psalm 86 het sy vertroue in God soos volg uitgespreek: “In die dag van my benoudheid sal ek u aanroep, want u sal my antwoord” (Psalm 86:7). Maar jy wonder dalk: ‘Hoe sal God my “in die dag van my benoudheid” antwoord?’

God sal dalk nie jou probleme onmiddellik wegneem nie, maar sy Woord, die Bybel, verseker jou dat hy jou innerlike vrede kan gee om jou te help om dit te verduur. Filippense 4:6, 7 sê: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns [of, “gedagtes”] . . . bewaak.” Kyk hoe die volgende Bybelverse ons verseker van God se liefdevolle besorgdheid.

God gee vir jou om

‘Nie een [mossie] word voor God vergeet nie. Julle is meer werd as baie mossies.’  Lukas 12:6, 7.

DINK HIERAAN: God stel selfs in doodgewone voëltjies belang. Hy sien byvoorbeeld selfs ’n klein mossie raak. Elke voëltjie is ’n kosbare lewende skepseltjie. Mense is baie kosbaarder vir God as wat mossies is. Mense is die kroon van God se skeppingswerke op die aarde. Hulle is na sy “beeld” gemaak en het die vermoë om sy wonderlike eienskappe aan te kweek en te openbaar. – Genesis 1:26, 27.

“O Jehovah, u het my deurvors, en u ken my. U het . . . op my gedagte gelet . . . Ondersoek my, en ken my verontrustende gedagtes.”  Psalm 139:1, 2, 23.

DINK HIERAAN: God ken jou as ’n persoon. Hy weet wat jou diepste gevoelens en bekommernisse is. Al verstaan ander miskien nie jou probleem nie, kan jy seker wees dat God vir jou omgee en jou wil help. Dit maak die lewe die moeite werd.

Jou lewe is belangrik

“O Jehovah, hoor tog my gebed; en mag my hulpgeroep tot u kom. . . . Neig u oor tot my; haas u, antwoord my, op die dag dat ek roep. . . . Hy sal hom beslis wend tot die gebed van dié wat alles ontneem is.”  Psalm 102:1, 2, 17.

DINK HIERAAN: Dit is asof Jehovah rekord hou van elke traan wat mense al gestort het vandat die mensdom se probleme begin het (Psalm 56:8). Dit sluit jou trane in. God onthou alles wat jy deurmaak en al jou trane, want jy is kosbaar vir hom.

“Moenie rondkyk nie, want ek is jou God. Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help . . . Ek, Jehovah jou God, . . . sê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.’”  Jesaja 41:10, 13.

DINK HIERAAN: God wil jou help. As jy val, sal hy jou ophelp.

’n Beter toekoms lê voor

“God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”  Johannes 3:16.

DINK HIERAAN: God is so lief vir jou dat hy gewillig was om sy Seun, Jesus, te gee om vir jou te sterf. Hierdie offerande maak dit vir jou moontlik om vir ewig ’n gelukkige en betekenisvolle lewe te hê. *

Al voel jy oorweldig deur probleme en al voel dit of jou lewe ondraaglik is, is dit belangrik dat jy ’n deeglike studie maak van God se Woord en jou geloof opbou in God se beloftes vir die toekoms. Dit sal jou gelukkig maak en jou die vertroue gee dat die lewe die moeite werd is.

^ Om meer te leer oor hoe jy by Jesus se offerande kan baat vind, kyk na die video Herdenk Jesus se dood op www.mt711.com/af. Kyk onder OMTRENT ONS > GEDENKMAAL.