Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer jy ’n ernstige siekte het

Wanneer jy ’n ernstige siekte het

“Toe ek uitvind dat ek kanker in my long en dikderm het, was dit vir my soos ’n doodsvonnis. Maar toe ek van die dokter af by die huis kom, het ek gedink: ‘Nou ja, dis nou nie wat ek verwag het nie, maar ek moet ’n manier vind om hierdeur te kom.’” – Linda, 71 jaar oud.

“Ek het ’n pynlike senusindroom wat die linkerkant van my gesig aantas. Soms voel ek depressief weens die verskriklike pyn. Ek voel dikwels alleen en het al aan selfmoord gedink.” – Elise, 49 jaar oud.

AS JY of een van jou geliefdes al met ’n lewensgevaarlike siekte gediagnoseer is, weet jy hoe stresvol dit kan wees. Die siekte sowel as die pynlike emosies wat daarmee saamgaan, kan ’n groot uitdaging wees. Stresvolle mediese afsprake, die uitdaging om behandeling te kry of daarvoor te betaal of die aaklige newe-effekte van die behandeling kan vrees en angstigheid vererger. Die emosionele stres wat met ernstige siekte gepaardgaan, kan oorweldigend wees.

Waar kan ons hulp vind? Baie het gevind dat hulle die grootste vertroosting kry as hulle op God vertrou in gebed en vertroostende gedeeltes in die Bybel lees. En die liefde en ondersteuning van familie en vriende kan ook baie help.

WAT PARTY GEHELP HET

“Wanneer jy siek is, moet jy op God vertrou”, sê die 58-jarige Robert, “en hy sal jou deurdra. Bid tot Jehovah. Sê vir hom hoe jy voel. Vra hom vir heilige gees. Vra hom vir krag om sterk te wees ter wille van jou familie en vir hulp om jou siekte met ’n kalm gees te verduur.

“Dit beteken so baie wanneer jou familie jou emosioneel ondersteun, wanneer hulle daar is vir jou. Elke dag bel een of twee van hulle my om te vra: ‘Hoe gaan dit met jou?’ Vriende van oraloor moedig my aan. Hulle laat my beslis beter voel en help my om voort te gaan.”

As jy vir ’n siek vriend gaan kuier, moet jy Linda se woorde in gedagte hou: “Die pasiënt wil so ver moontlik ’n normale lewe lei en sal dalk nie altyd oor sy siekte wil praat nie. Daarom moet jy praat oor dinge waaroor julle gewoonlik praat.”

Met die krag wat God gee en vertroosting uit die Bybel, sowel as die ondersteuning van liefdevolle familielede en vriende, kan ons ons vertroue behou dat die lewe die moeite werd is, selfs wanneer ons ’n ernstige siekte het.