Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Ek het geleer om selfrespek en respek vir vroue te hê

Ek het geleer om selfrespek en respek vir vroue te hê
  • GEBORE: 1960

  • GEBOORTELAND: FRANKRYK

  • GESKIEDENIS: GEWELDDADIGE DWELMSLAAF, GEEN RESPEK VIR VROUE NIE

MY VERLEDE:

Ek is gebore in Mülhausen, Noordoos-Frankryk, in ’n werkersklasvoorstad wat berug was vir geweld. As ek terugdink aan my kinderjare, onthou ek die gewelddadige konflikte tussen families in die omgewing. In ons familie is daar neergesien op vroue, en mans het selde hulle mening gevra. Ek is geleer dat ’n vrou se plek in die kombuis is en dat sy na die mans en kinders moet omsien.

My kinderjare was nie maklik nie. Toe ek tien was, is my pa dood as gevolg van alkoholisme. Vyf jaar later het een van my ouer broers selfmoord gepleeg. Dieselfde jaar het ek gesien hoe iemand gedurende ’n familietwis vermoor word. Ek was baie geskok. Familielede het my geleer hoe om messe en vuurwapens te gebruik en om te baklei wanneer dit ook al nodig was. Ek was ’n versteurde jong man wat tatoeëermerke oral op my lyf laat aanbring het, en ek het begin drink.

Teen die tyd dat ek 16 was, het ek elke dag tussen 10 en 15 bottels bier gedrink, en ek het kort voor lank dwelms begin gebruik. Om vir my slegte gewoontes te betaal, het ek ou metaal verkoop en begin steel. Toe ek 17 was, het ek reeds gevangenisstraf uitgedien. Ek is altesaam 18 vonnisse vir diefstal en geweld opgelê.

Gedurende my vroeë 20’s het my situasie vererger. Ek het tot 20 daggasigarette per dag gerook en het heroïen en ander dwelms gebruik. Ek het ’n paar keer by die dood omgedraai as gevolg van ’n oordosis. Ek het dwelms begin verkoop, en daarom het ek altyd messe en vuurwapens by my gehad. Eenkeer het ek ’n man probeer skiet, maar gelukkig het die koeël die gespe van sy belt getref! Toe ek 24 was, het my ma gesterf, en dit het my woede laat vererger. Mense was bang vir my en het gewoonlik die straat oorgesteek wanneer hulle my sien aankom het. Ek het baie baklei, en daarom het ek dikwels my naweke deurgebring by die polisiestasie of in die hospitaal om my wonde te laat toewerk.

Ek is op 28 getroud. Soos ’n mens kan verwag, het ek my vrou nie met respek behandel nie. Ek het haar beledig en geslaan. Ons het niks as ’n egpaar saam gedoen nie. Ek het gedink dat dit genoeg is om haar met gesteelde juwele te oorlaai. Toe het iets onverwags gebeur. My vrou het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Ná haar eerste studie het sy ophou rook, geweier om gesteelde geld te aanvaar en haar juwele vir my teruggegee. Ek was woedend. Ek het haar Bybelstudie teëgestaan en het sigaretrook in haar gesig geblaas. Ek het ook oral in die buurt met haar die spot gedryf.

Een aand, toe ek smoordronk was, het ek ons woonstel aan die brand gesteek. My vrou het my en ons vyfjarige dogtertjie uit die vlamme gered. Toe ek weer nugter was, is ek deur skuldgevoelens geteister. Diep binne my het ek gevoel dat God my nooit sal vergewe nie. Ek het onthou hoe ’n priester eenkeer gesê het dat die goddeloses hel toe gaan. Selfs my psigiater het vir my gesê: “Daar’s geen hoop vir jou nie! Niemand sal jou kan help nie.”

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

Ná die brand het ons by my vrou se ouers gaan woon. Toe die Getuies my vrou kom besoek het, het ek hulle gevra: “Kan God my vir al my sondes vergewe?” Hulle het vir my 1 Korintiërs 6:9-11 in die Bybel gewys. Hierdie gedeelte wys watter soort gedrag God veroordeel, maar dit voeg by: “Dit [is] wat party van julle was.” Hierdie woorde het my die versekering gegee dat dit moontlik is om te verander. Toe het die Getuies 1 Johannes 4:8 vir my gewys om my daarvan te verseker dat God my liefhet. Dit het my aangemoedig, en daarom het ek die Getuies gevra om die Bybel twee keer per week met my te studeer, en ek het hulle Christelike vergaderinge begin bywoon. Ek het voortdurend tot Jehovah gebid.

Binne ’n maand het ek besluit om op te hou om dwelms en alkohol te gebruik. Kort voor lank het dit gevoel asof ’n oorlog in my liggaam uitgebreek het! Ek het verskriklike nagmerries, hoofpyne, krampe en ander onttrekkingsimptome gekry. Maar dit het terselfdertyd gevoel asof Jehovah my hand vashou en my versterk. Ek het soos die apostel Paulus gevoel. Paulus het die volgende geskryf oor die hulp wat God hom gegee het: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee” (Filippense 4:13). Ek het dit mettertyd ook reggekry om op te hou rook.—2 Korintiërs 7:1.

Die Bybel het my nie net gehelp om my lewe onder beheer te kry nie, maar dit het ook ons gesinslewe verbeter. My gesindheid teenoor my vrou het verander. Ek het haar met meer respek begin behandel en “asseblief” en “dankie” begin sê. Ek het ook ’n beter pa vir ons dogter geword. Nadat ek die Bybel ’n jaar lank gestudeer het, het ek my vrou se voorbeeld gevolg deur my lewe aan Jehovah toe te wy en my te laat doop.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Ek is daarvan oortuig dat Bybelbeginsels my lewe gered het. Selfs my familie wat nie Getuies is nie, erken dat dwelmmisbruik of bakleiery my heel moontlik my lewe sou gekos het.

Bybelleringe wat vir my gewys het wat my verantwoordelikheid as man en vader is, het my gesinslewe heeltemal verander (Efesiërs 5:25; 6:4). Ons het as ’n gesin dinge begin saam doen. Ek verwag nou nie meer dat my vrou al haar tyd in die kombuis moet deurbring nie, maar ondersteun haar graag in haar bedrywighede as ’n voltydse prediker. En sy ondersteun my vreugdevol in my rol as gemeentelike ouer man.

Jehovah God se liefde en barmhartigheid het my lewe diep geraak. Ek het ’n sterk begeerte om met ander oor sy eienskappe te praat, veral met dié vir wie daar skynbaar geen hoop is nie, want dit is hoe baie my beskou het. Ek weet dat die Bybel die krag het om enigeen te help om ’n rein en sinvolle lewe te lei. Die Bybel het my nie net geleer om ander, mans sowel as vroue, lief te hê en te respekteer nie, maar ook om selfrespek te hê.