Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | WANNEER ’N GELIEFDE STERF

Is dit verkeerd om te treur?

Is dit verkeerd om te treur?

Was jy al ooit vir ’n kort tydjie siek? Dalk het jy so gou herstel dat jy al vergeet het dat jy siek was. Wel, dit is nie die geval met droefheid nie. “Dit is nie moontlik om droefheid heeltemal te oorkom nie”, skryf dr. Alan Wolfelt in sy boek Healing a Spouse’s Grieving Heart. Maar hy voeg by: “Mettertyd en met die ondersteuning van ander sal jou droefheid minder word.”

Dink byvoorbeeld aan hoe die aartsvader Abraham gereageer het toe sy vrou gesterf het. Die Bybel sê: “Abraham het oor Sara begin rou en huil.” Die woord “begin” dui daarop dat hy sy droefheid nie onmiddellik oorkom het nie. * ’n Ander voorbeeld is Jakob, wat bedrieg is om te glo dat sy seun Josef deur ’n wilde dier doodgemaak is. Hy het “baie dae” getreur, en sy gesinslede kon hom nie troos nie. Jare later was hy nog steeds baie hartseer oor die dood van Josef.—Genesis 23:2, NW; 37:34, 35; 42:36; 45:28.

Abraham het getreur oor die dood van sy geliefde Sara

Vandag is dit ook die geval met baie mense wat treur oor die dood van ’n geliefde. Kom ons kyk na twee voorbeelde.

  • “My man, Robert, het op 9 Julie 2008 gesterf. Die oggend van die ongeluk was net soos enige ander dag. Soos gewoonlik het ons ontbyt geëet voordat hy werk toe gegaan het en daarna vir mekaar ’n soentjie en ’n drukkie gegee en gesê: ‘Ek is lief vir jou.’ Ses jaar later is die pyn in my hart nog steeds daar. Ek dink nie ek sal Rob se dood ooit kan verwerk nie.”—Gail, 60 jaar oud.

  • “Al is ek al meer as 18 jaar lank sonder my dierbare vrou, mis ek haar en treur ek nog steeds oor haar. Wanneer ek iets moois in die natuur sien, dink ek aan haar en hoe sy dit sou geniet het om te sien wat ek sien.”—Etienne, 84 jaar oud.

Dit is duidelik dat gevoelens van droefheid pynlik is en lank kan duur. Elke persoon treur op sy of haar eie manier, en dit is onverstandig om iemand anders te kritiseer vir die manier waarop hy of sy op ’n tragedie reageer. Ons moet ook nie onsself veroordeel as ons meen dat ons oorreageer op die dood van ’n geliefde nie. Hoe kan ons droefheid verwerk?

^ par. 4 Abraham se seun Isak het ook lank getreur nadat Sara gesterf het. Volgens die “Volg hulle geloof na”-artikel in hierdie nommer het Isak drie jaar ná sy moeder se dood nog steeds oor haar getreur.—Genesis 24:67.