Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Koekies vir die terriërs

Koekies vir die terriërs

“IN DIE lente van 2014 het ek saam met my twee hondjies in die middestad begin stap”, skryf Nick wat in Oregon, VSA, bly. “Die Getuies het gewoonlik daar gestaan, langs hulle lektuurtrollies. Hulle was mooi aangetrek, en hulle het almal met ’n vriendelike glimlag gegroet.

“Die Getuies was nie net vriendelik teenoor mense nie, maar ook teenoor my hondjies. Eendag het Elaine, wat by die trollie gestaan het, vir my twee terriërs koekies gegee. Van toe af kon die hondjies nie wag om by die ‘koekie-hoekie’ uit te kom nie.

“Maande het verbygegaan. Die honde het hulle koekies geniet, en ek het die kort gesprekke met die Getuies geniet. Maar ek wou nie te vriendelik raak nie. Ek was al oor die 70, en ek was nie seker wat die Getuies glo nie. Omdat die Protestantse kerke my teleurgestel het, het ek gedink dat dit beter sou wees om die Bybel op my eie te studeer.

“Gedurende daardie tyd het ek ander Getuies in ander dele van die stad by hulle trollies sien staan. Hulle was ook altyd vriendelik. Hulle het altyd my vrae uit die Bybel beantwoord, en daarom het ek hulle meer begin vertrou.

“Eendag het Elaine vir my gevra: ‘Dink jy dat diere ’n geskenk van God is?’ ‘Ja, beslis!’ het ek geantwoord. Toe het Elaine Jesaja 11:6-9 vir my gelees. Dit was ’n keerpunt, maar ek wou nog steeds nie lektuur aanvaar nie.

“Oor die volgende paar dae het ek kort maar betekenisvolle besprekings met Elaine en haar man, Brent, gehad. Hulle het voorgestel dat ek Matteus tot Handelinge lees om te verstaan wat dit beteken om ’n Christen te wees. En dit is wat ek toe gedoen het. Kort daarna het ek ingestem om die Bybel met Brent en Elaine te studeer. Dit was in die somer van 2016.

“Ek het na my weeklikse Bybelstudie en die vergaderinge by die Koninkryksaal uitgesien. Ek was so bly om te leer wat die Bybel regtig sê. ’n Bietjie meer as ’n jaar later is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop. Nou, op die ouderdom van 79, weet ek dat ek op die regte pad is. Jehovah het my geseën deur my deel te maak van sy familie van toegewyde knegte.”