Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn”

“Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn”

Die afrigter van ’n basketbalspan word afgedank weens sy onbeheerste woede.

’n Kind het ’n woedebui omdat hy nie sy sin kry nie.

’n Ma en haar seun raak by ’n skreeugeveg betrokke omdat sy kamer deurmekaar is.

ONS almal het al mense sien kwaad word, en ons het ons ongetwyfeld al self op die een of ander stadium vererg. Hoewel ons woede moontlik beskou as ’n negatiewe emosie wat onderdruk moet word, voel ons dikwels dat ons ’n geldige rede het om ontsteld te wees, veral wanneer iemand blykbaar ons sin van wat reg en verkeerd is, oortree het. ’n Artikel deur die Amerikaanse Sielkundige Vereniging sê selfs dat “woede ’n heeltemal normale, en gewoonlik gesonde, menslike emosie is”.

So ’n beskouing maak dalk sin wanneer ons dink aan wat die Christenapostel Paulus onder goddelike inspirasie geskryf het. Hy het erken dat daar moontlik tye sal wees wanneer mense kwaad word en gesê: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie; laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie” (Efesiërs 4:26). Moet ons dan uiting gee aan ons woede, of moet ons ons bes doen om dit te beheers?

MOET ONS KWAAD WORD?

Toe Paulus hierdie raad oor woede gegee het, het hy blykbaar die volgende woorde van die psalmis in gedagte gehad: “Wees ontsteld, maar moenie sondig nie” (Psalm 4:4). Maar wat het Paulus met hierdie geïnspireerde vermaning bedoel? Hy het verder verduidelik: “Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word, saam met alle slegtheid” (Efesiërs 4:31). Paulus het Christene in werklikheid aangespoor om nie aan hulle woede uiting te gee nie. Interessant genoeg, die artikel van die Amerikaanse Sielkundige Vereniging sê verder: “Navorsing het bevind dat wanneer jy uiting gee aan jou woede, dit in werklikheid jou woede en aggressie laat toeneem en jou glad nie help . . . om die situasie op te los nie.”

Hoe kan woede en al die slegte gevolge daarvan dan van ons af “weggeneem word”? Die wyse koning Salomo van eertydse Israel het geskryf: “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn, en dit is mooi van hom om die oortreding oor te sien” (Spreuke 19:11). Hoe help “die insig van ’n mens” wanneer woede in hom opwel?

HOE INSIG WOEDE VERTRAAG

Insig is die vermoë om ’n situasie ten volle te begryp. Om insig te hê, beteken dat jy dieper as die oppervlak van ’n saak kyk. Hoe help dít ons wanneer iemand ons aanstoot gee of ontstel?

Wanneer ons ’n onreg sien, voel ons dalk verontwaardig. Maar as ons aan ons emosies toegee en heftig reageer, sal ons moontlik op die ou end onsself of iemand anders seermaak. Net soos ’n onbeheerde vuur ’n huis kan laat afbrand, kan ’n woedeuitbarsting ons reputasie en ons verhouding met ander, selfs met God, vernietig. Wanneer ons dus voel dat woede in ons opwel, moet ons die situasie van naderby beskou. As ons ’n geheelbeeld daarvan verkry, sal dit ons ongetwyfeld help om ons emosies te beheers.

Salomo se vader, koning Dawid, het hom amper bloedskuldig gemaak weens ’n man met die naam Nabal, maar gelukkig is Dawid gehelp om insig in die situasie te verkry. Dawid en sy manne het Nabal se skape in die Judese wildernis beskerm. Toe die tyd aanbreek om die skape te skeer, het Dawid Nabal vir kos gevra. Maar Nabal het geantwoord: “Moet ek my brood en my water en my geslagte vleis wat ek vir my skeerders geslag het, neem en dit aan manne gee van wie ek nie eens weet waar hulle vandaan kom nie?” Wat ’n belediging was dit tog! Toe Dawid hierdie woorde hoor, het hy, tesame met sowat 400 manne, gegaan om Nabal en sy hele huishouding uit te wis.—1 Samuel 25:4-13.

Nabal se vrou, Abigail, het hiervan te hore gekom en het na Dawid toe gegaan. Toe sy by Dawid en sy manne kom, het sy voor sy voete neergeval en gesê: “Laat u slavin asseblief voor u ore spreek, en luister na die woorde van u slavin.” Sy het toe aan Dawid verduidelik hoe dwaas Nabal is en daarop gewys dat Dawid spyt sou wees as hy wraak neem en bloed vergiet.—1 Samuel 25:24-31.

Watter insig het Dawid uit Abigail se woorde verkry wat gehelp het om die gespanne situasie te ontlont? Eerstens het Dawid besef dat Nabal van nature ’n dwase man is, en tweedens het hy besef dat hy bloedskuldig sou word as hy wraak neem. Soos Dawid word jy dalk woedend oor iets. Wat moet jy doen? “Neem ’n paar oomblikke om diep asem te haal en tot 10 te tel”, stel ’n artikel oor woedebeheer deur die Mayo-kliniek voor. Ja, staan stil en dink aan wat die oorsaak van die probleem is en wat die gevolge kan wees van die optrede wat jy oorweeg. Laat insig jou woede vertraag—selfs heeltemal verdryf.—1 Samuel 25:32-35.

Baie mense word vandag op ’n soortgelyke wyse gehelp om hulle woede te beheers. Sebastian het verduidelik hoe hy, as ’n 23-jarige gevangene in ’n Poolse tronk, geleer het om sy humeur en sterk emosies te beheers danksy ’n studie van die Bybel. “Ek dink eers oor die probleem”, het hy gesê. “Dan probeer ek die Bybel se raad toepas. Ek het gevind dat die Bybel die beste gids is.”

Die toepassing van Bybelraad kan jou help om sterk emosies te beheers

Setsuo het basies dieselfde strategie gevolg. Hy het gesê: “Ek het gewoonlik by die werk op ander geskreeu wanneer hulle my geïrriteer het. Noudat ek die Bybel bestudeer het, skreeu ek nie, maar vra ek my: ‘Wie is eintlik te blameer? Is dit dalk ek wat die probleem veroorsaak?’” Hierdie vrae het sy woede vertraag, en hy kon die sterk emosies wat in sy hart opgewel het, beheers.

Woede is wel ’n baie sterk emosie, maar die raad in God se Woord is nog sterker. Deur die Bybel se wyse raad toe te pas en vir God se hulp te bid, kan jy ook toelaat dat jou insig jou woede vertraag of beheers.