Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Efesiërs 3:20 – “[God het mag] om te doen ver bo alles wat ons bid of dink”

Efesiërs 3:20 – “[God het mag] om te doen ver bo alles wat ons bid of dink”

 “God kan deur sy krag wat in ons aan die werk is, oneindig meer vir ons doen as alles wat ons vra of wat ons ons kan voorstel. Hy verdien dus die eer.” – Efesiërs 3:20, 21, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid.” – Efesiërs 3:20, 21, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Efesiërs 3:20

 Die apostel Paulus het gesê dat hy oortuig is dat God Sy aanbidders se gebede kan beantwoord en hulle verwagtinge kan vervul op maniere wat hulle dalk nie gedink het moontlik is nie. Hy kan selfs hulle gebede beantwoord op maniere wat hulle nie verwag of op gehoop het nie.

 “God kan deur sy krag wat in ons aan die werk is.” Vers 21 leer vir ons dat dit na Jehovah God verwys. a Daar skryf Paulus: “Hy verdien dus die eer deur middel van die gemeente en deur middel van Christus Jesus.” Wat meer is, God kan ons die krag gee wat ons nodig het om sy wil te doen. – Filippense 4:13.

 In vers 20 noem die apostel Paulus iets spesiaals omtrent Jehovah se vermoë om Sy aanbidders te help. Oor die uitdrukking wat as “God kan” vertaal word, sê ’n naslaanwerk dat die vers nie net sê dat God iets kan doen of dat hy dit moontlik sal doen nie. Dit beteken dat hy die mag het om dit te doen. ’n Mensevriend wil ons help, maar kan nie altyd nie. Jehovah kan egter altyd doen wat ook al nodig is om vir sy aanbidders te sorg en om hulle gebede te beantwoord. Hy is die enigste persoon wat onbeperkte krag en gesag het. – Jesaja 40:26.

 “God kan . . . oneindig meer vir ons doen as alles wat ons vra of wat ons ons kan voorstel.” Jehovah kan meer doen as om oorvloedig in ons behoeftes te voorsien en kan selfs “oneindig meer” vir sy aanbidders doen. Hy kan hulle op maniere help wat al hulle verwagtinge oortref.

 Ons leer nog iets oor hierdie vers. Met die woorde “alles wat ons vra of wat ons ons kan voorstel” wil die apostel hê dat alle Christene moet verstaan dat God hulle op maniere kan help wat hulle nie eers hulleself kan indink nie. Volgens die New International Version van die Bybel sê die eerste deel van vers 20: “En aan hom wat onmeetbaar meer kan doen as alles wat ons vra of ons ons kan voorstel.” Met tye kan Christene voel dat hulle probleme te groot of te moeilik is om op te los. Miskien weet hulle nie eers waarvoor om te bid nie. Maar Jehovah is nie beperk in sy vermoë om hulle situasie te verstaan of om hulle te help nie. Op die regte tyd kan hy enige probleem oplos – op maniere wat hulle hulle dalk nie voorgestel het of gedink het moontlik is nie (Job 42:2; Jeremia 32:17). Intussen gee hy hulle die krag om te volhard – selfs met vreugde! – Jakobus 1:2, 3.

Konteks van Efesiërs 3:20

 Die boek Efesiërs is ’n brief wat die apostel Paulus geskryf het aan Christene wat in die stad Efese gebly het. Hierdie stad was in Klein-Asië en is vandag deel van Turkye. In sy brief het Paulus gedagtes van ’n gebed wat hy namens hulle gedoen het, neergeskryf (Efesiërs 3:14-21). Hy het gebid dat hulle die liefdevolle manier waarop Jesus gedink en opgetree het, sou probeer navolg. Op hierdie manier sou hulle die liefde van die Christus leer ken. Dit is iets wat op alle Christene van toepassing is. Paulus het sy gebed afgesluit deur God te eer en die woorde te sê in Efesiërs 3:20, 21.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Efesiërs te kry.

a Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?