Spring na inhoud

Wat sê die Bybel oor dinosourusse?

Wat sê die Bybel oor dinosourusse?

Die Bybel se antwoord

 Daar word nie direk in die Bybel na dinosourusse verwys nie. Maar die Bybel sê dat God die een is wat ‘alles geskep het’. Dit is duidelik dat hulle deel was van die dinge wat hy gemaak het (Openbaring 4:11). a Alhoewel die Bybel nie direk van dinosourusse praat nie, verwys dit wel na groepe diere wat dalk dinosourusse kon insluit:

  •   “Groot seediere” of “seemonsters”. — Genesis 1:21; Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

  •   “Al die kruipende diere van die aarde.” — Genesis 1:25.

  •   “Die wilde diere van die aarde.” — Genesis 1:25.

Het ander diere deur evolusie in dinosourusse verander?

 Die fossielverslag wys dat dinosourusse skielik verskyn het en nie geleidelik deur evolusie nie. Dit stem ooreen met die Bybel wat wys dat God al die diere geskep het. Byvoorbeeld, Psalm 146:6 beskryf God as “die Maker van hemel en aarde, van die see, en van alles wat in hulle is”.

Wanneer het dinosourusse gelewe?

 Die Bybel beskryf hoe land- en seediere gedurende die vyfde en sesde dag, of tydperke, van die skepping gemaak is (Genesis 1:20-25, 31). b Die Bybel wys dus dat dinosourusse oor ’n lang tydperk verskyn en bestaan het.

Was Behemot en Leviatan dinosourusse?

 Nee. Hierdie diere word in die boek Job genoem, maar daar kan nie met sekerheid gesê word wat hulle is nie. Daar word oor die algemeen gedink dat Behemot na die seekoei verwys, en Leviatan na die krokodil. Dit pas by hoe die Bybel hulle beskryf (Job 40:15-23; 41:1, 14-17, 31). Wat ook al die geval is, die woorde “Behemot” en “Leviatan” kan nie na dinosourusse verwys nie. God het vir Job gesê om hierdie diere persoonlik dop te hou, en Job het gelewe lank nadat die dinosourusse uitgesterf het. — Job 40:16; 41:8.

Wat het met dinosourusse gebeur?

 Die Bybel sê nie hoekom dinosourusse nie meer bestaan nie, maar dit sê wel dat alle dinge as gevolg van “[God se] wil” gemaak is. Dit is dan duidelik dat God ’n doel gehad het toe hy hulle gemaak het (Openbaring 4:11). Toe daardie doel bereik is, het God die dinosourusse laat uitsterf.

a Die fossielverslag bewys dat dinosourusse bestaan het. Fossiele wys dat daar ’n tyd lank baie dinosourusse in verskillende vorme en grotes was.

b In die Bybel kan die woord “dag” verwys na lang tydperke wat duisende jare lank is. — Genesis 1:31; 2:1-4; Hebreërs 4:4, 11.