Spring na inhoud

Is geld die wortel van alle kwaad?

Is geld die wortel van alle kwaad?

Die Bybel se antwoord

 Nee. Die Bybel sê nie dat geld sleg is of dat dit die oorsaak van alle slegte dinge is nie. Die algemene uitdrukking “geld is die wortel van alle kwaad” is ’n onvolledige en ’n misleidende aanhaling uit die Bybel. Die Bybel sê eintlik dat ‘die liefde vir geld die wortel van alle kwaad is’. a1 Timoteus 6:10, King James Version, ons beklemtoon.

 Wat sê die Bybel oor geld?

 Die Bybel sê dat dit ons kan help wanneer ons geld wyslik gebruik en is selfs “’n beskerming” (Prediker 7:12). Die Bybel prys ook almal wat vrygewig is teenoor ander. Dit sluit dalk in dat ons geld gee as ’n geskenk. – Spreuke 11:25.

 Terselfdertyd waarsku die Bybel ons om nie net op geld te fokus nie. Dit sê: “Julle lewenswyse moet vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die dinge wat julle nou het” (Hebreërs 13:5). Die les is dat ons geld op sy plek moet hou en nie rykdom moet najaag nie. Dit moet eerder ons doelwit wees om tevrede te wees met wat ons regtig nodig het, soos kos, klere en ’n dak oor ons kop. – 1 Timoteus 6:8.

 Hoekom waarsku die Bybel ons teen die liefde vir geld?

 Gierige mense sal nie die ewige lewe kry nie (Efesiërs 5:5). Een rede hiervoor is dat gierigheid ’n vorm van afgodediens, of valse aanbidding, is (Kolossense 3:5). Nog ’n rede hiervoor is dat gierige mense dikwels nie by goeie beginsels bly nie sodat hulle kan kry wat hulle wil hê. Spreuke 28:20 sê dat dié “wat probeer om vinnig ryk te word, . . . nie onskuldig [sal] bly nie”. Hulle sal dalk in die versoeking kom om misdade, soos afpersing, bedrog, ontvoering of moord, te pleeg.

 Al veroorsaak die liefde vir geld nie dat jy slegte dinge doen nie, kan dit ander negatiewe gevolge hê. Die Bybel sê dat “dié wat vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en swig voor baie dwase en skadelike begeertes”. – 1 Timoteus 6:9.

 Hoe kan die Bybel se raad oor geld ons help?

 As ons nie ons standaarde en geestelike waardes prysgee om geld te maak nie, sal ons selfrespek, God se goedkeuring en sy ondersteuning hê. God belowe aan almal wat regtig probeer om hom gelukkig te maak: “Ek sal jou nooit verlaat nie en jou nooit in die steek laat nie” (Hebreërs 13:5, 6). Hy verseker ons ook dat “’n betroubare man . . . baie seëninge [sal] kry”. – Spreuke 28:20.

a Hierdie vers is ook vertaal as: “Die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge.”